Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Aveng hou kop bo water, ondanks pandemie
Apple se drywende winkel in Marina Bay Sands, Singapoer, wat deur die Aveng-filiaal McConnell Dowell gebou is. Foto: Apple

Dit gaan nog ’n ruk neem om die werklike effek van die Covid-19-pandemie op die konstruksiegroep Aveng te bepaal, maar dit lyk vir eers of hy die ergste van die storm weerstaan het.

Die maatskappy het Maandag sy resultate vir die jaar tot einde Junie bekend gemaak.

In die jaar het die groep se inkomste met 5% tot R14,2 miljard gestyg.

Hy het ’n bedryfsverlies van R532 miljoen gely. Dit is egter ’n beduidende verbetering op die bedryfsverlies van R1,1 miljard ’n jaar gelede.

Aveng se wesensverlies beloop R950 miljoen. Dit is teenoor die wesensverlies van R1,545 miljard ’n jaar gelede.

Die wesensverlies per aandeel beloop 4,9c teenoor 9,7c van jaar gelede, terwyl die verlies per aandeel 5,8c beloop, teenoor die 10,5c van ’n jaar gelede.

Aveng se skuld beloop R552 miljoen. Dit is effens minder as die R540 miljoen van ’n jaar gelede.

Die groot rede hoekom Aveng sy prestasie gedurende die pandemie kon verbeter, was omdat sy twee kern-afdelings – McConnell Dowell en Moolmans – relatief goed presteer het ondanks die staat van inperking in die lande waar hulle bedrywig is.

McConnell Dowell is ’n konstruksiemaatskappy in Australië, terwyl Moolmans dienste aan hoofsaaklik oppervlak-mynbedrywighede in veral Suid-Afrika, maar ook op die res van die vasteland, lewer.

Moolmans het ’n bedryfswins van R38 miljoen gelewer. Dit is teenoor die verlies van R372 miljoen ’n jaar gelede.

McConnell Dowell het egter ’n bedryfsverlies van R162 miljoen gely. Dit is teenoor die bedryfswins van R110 miljoen ’n jaar gelede.

McConnell Dowell het twee eise betaal wat R225 miljoen beloop het. Sonder dié eise, sou hy dus ’n bedryfswins van R63 miljoen gemaak het.

Dit is juis ook dié twee afdelings se bestelboek wat goed gegroei het. Teen einde Junie het dit R26,8 miljard beloop.

Dit is teenoor die R19 miljard van ’n jaar gelede.

Pandemie

Die pandemie het Aveng genoop om by die Werkloosheidsversekeringsfonds om hulp aan te klop, en salarisse vir sy werkers as deel van die Covid-19-Ters-voordeel te eis.

Aveng sê soortgelyke stappe is in ander lande gedoen.

Die pandemie het daartoe gelei dat Aveng ’n likiditeitstekort van R400 miljoen in Suid-Afrika ontwikkel het.

Hy het R200 miljoen by banke geleen terwyl alle werkers een maand se salaris opgeoffer het om ’n verdere R169 miljoen in te samel om dié tekort te betaal.

Die pandemie het ook Aveng se planne in die wiele gery om van sy nie-kernafdelings te verkoop.

Aveng het sedert 2017 tien van die 12 bedryfseenhede verkoop wat hy geïdentifiseer het om nie verder by sy portefeulje in te sluit nie.

Nie-kern-afdelings in Aveng se besit sluit in sy afdelings vir staal, vervaardiging en konstruksie en ingenieurswese in Suid-Afrika.

Aveng se aandele begin Maandag teen 2c op die JSE verhandel.

Meer oor:  Aveng  |  Pandemie  |  Konstruksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.