Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Aveng ‘nie oortuig’ met Cyril se konstruksieplan

Nie eens pres. Cyril Ramaphosa se beloftes oor grootskaalse infrastruktuurprojekte sal die konstruksiegroep Aveng oortuig om weer dié tipe projekte in Suid-Afrika aan te pak nie.

Apple se drywende winkel in Marina Bay Sands, Singapoer, wat deur die Aveng-filiaal McConnell Dowell gebou is. Foto: Apple

“Ons verwag nie dat enige van die projekte wat deel van dié planne sal wees, binne ons fokusgebied sal val nie,” het Sean Flanagan, uitvoerende hoof van Aveng, Maandag in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê oor die maatskappy se resultate vir die boekjaar tot einde Junie.

Ramaphosa het in Oktober gesê die regering wil die land se ekonomie weer aan die gang kry deur onder meer op infrastruktuurprojekte te fokus.

“Ons verstaan dat baie van die infrastruktuurprojekte op hernubare krag gaan fokus. Dit is nie ons fokusgebied nie en ons reken ook nie dit is groot genoeg vir ons om te oorweeg nie,” sê Flanagan.

Hy sê Aveng sal dit slegs oorweeg om weer by infrastruktuurprojekte in die land betrokke te raak indien die waarde van ’n projek minstens R2 miljard is. Dan sal sy Australiese filiaal, McConnell Dowell, ’n vennootskap met ’n plaaslike maatskappy aangaan om die werk te doen.

Flanagan sê hy dink dit is egter hoogs onwaarskynlik dat so ’n tipe projek beskikbaar sal word.

Dit is juis McConnel Dowell, wat in so ’n mate presteer dat Aveng uiteindelik weer ’n volhoubare toekoms vir homself sien.

Hoewel McConnell Dowell ’n bedryfsverlies van R162 miljoen gely het teenoor die bedryfswins van R110 miljoen ’n jaar gelede, is dit nie omdat hy sleg presteer het nie.

McConnell Dowell het gedurende die boekjaar twee eise betaal wat R225 miljoen beloop het. Sonder dié eise sou hy dus ’n bedryfswins van R63 miljoen gemaak het.

Nóg ’n afdeling van Aveng wat ondanks die Covid-19-pandemie goed presteer het, is Moolmans.

Moolmans lewer dienste aan hoofsaaklik oppervlak-mynbedrywighede in veral Suid-Afrika, maar ook op die res van die vasteland.

Moolmans het ’n bedryfswins van R38 miljoen vir die boekjaar getoon, teenoor die verlies van R372 miljoen ’n jaar gelede.

Dit is juis ook dié twee afdelings se bestelboek wat goed gegroei het. Teen einde Junie het dit R26,8 miljard beloop teenoor die R19 miljard ’n jaar gelede.

Die maatskappy, wat Maandag sy resultate uitgereik het, se inkomste het in die jaar tot einde Junie met 5% tot R14,2 miljard gestyg.

Die groep as geheel het ’n bedryfsverlies van R532 miljoen gely. Dit is egter ’n beduidende verbetering op die verlies van R1,1 miljard ’n jaar gelede.

Aveng se wesensverlies beloop R950 miljoen teenoor die wesensverlies van R1,545 miljard ’n jaar gelede.

Die wesensverlies per aandeel beloop 4,9c teenoor 9,7c ’n jaar gelede, terwyl die verlies per aandeel 5,8c beloop, teenoor die 10,5c van ’n jaar gelede.

Aveng se skuld beloop R552 miljoen. Dit is effens minder as die R540 miljoen van ’n jaar gelede.

Pandemie

Die koronaviruspandemie het Aveng genoop om by die Werkloosheidsversekeringsfonds om hulp aan te klop en salarisse vir sy werkers as deel van die Covid-19-Ters-voordeel te eis.

Aveng sê soortgelyke stappe is in ander lande gedoen.

Die pandemie het daartoe gelei dat hy ’n likiditeitstekort van R400 miljoen in Suid-Afrika ontwikkel het.

Hy het R200 miljoen by banke geleen terwyl alle werkers een maand se salaris opgeoffer het om ’n verdere R169 miljoen in te samel om dié tekort te betaal.

Die pandemie het ook Aveng se planne in die wiele gery om van sy nie-kernafdelings te verkoop.

Die maatskappy het sedert 2017 tien van die 12 bedryfseenhede verkoop wat hy geïdentifiseer het om nie verder by sy portefeulje in te sluit nie.

Nie-kernafdelings in sy besit sluit in sy afdelings vir staal, vervaardiging en konstruksie en ingenieurswese in Suid-Afrika.

Flanagan sê die maatskappy verwag nie dat verdere vlae van die pandemie sy bedrywighede beduidend sal ontwrig nie.

“Ons bedrywighede in Nieu-Seeland en Australië is glad nie ontwrig nie. Ons verwag dat daar moontlik hier en daar ontwrigtings kan wees in Asië, afhangende van wat daar gebeur.

“In Suid-Afrika is ons bedrywighede in afgeleë gebiede en is dit maklik om dit te isoleer indien nodig,” sê hy.

Herkapitalisering

Aveng beplan om vroeg in 2021 goedkeuring by aandeelhouers te kry vir ’n grootskaalse herkapitaliseringsprojek.

Flanagan sê Highbridge Capital Management, sy grootste aandeelhouer, het reeds ingestem om R300 miljoen in die maatskappy te belê om hom te herkapitaliseer.

Daar is ook planne om sy skuld te herstruktureer.

“Ons hoop om binne die volgende paar weke meer besonderhede vir ons beleggers te stuur.

“Die plan is dat daar op ons algemene jaarvergadering in Februarie 2021 daaroor gestem sal word.”

Aveng se aandele het Maandag onveranderd teen 2c elk op die JSE verhandel.

Meer oor:  Aveng  |  Ekonomiese Groei  |  Konstruksiebedryf  |  Infrastruktuur  |  Konstruksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.