Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ayo mis teikens met ’n myl

Ayo Technology Solutions se eerste stel voljaarresultate sedert notering gaan nie aan die maatskappy se optimistiese skattings voor sy notering in Desember verlede jaar voldoen nie.

Dr. Iqbal Survé, voorsitter van Independent Media en hoofaandeelhouer (grootliks deur familietrusts) in AEEI en Ayo Technology Solutions. Sekunjalo Investment Holdings is die moedermaatskappy van AEEI.

Uit ’n Sens-verklaring wat die tegnologiefirma Maandag uitgereik het, blyk dit sy verdienste en wesensverdienste per aandeel gaan minstens 61% laer wees as wat in sy voornoteringsverklaring op 13 Desember 2017 voorspel is.

Die maatskappy sê egter ook die verdienste en wesensverdienste gaan aansienlik hoër wees – onderskeidelik tot 12 keer en 16 keer hoër – as dié syfers vir die boekjaar tot einde Augustus 2017, waarvan die resultate voor die groep se notering uitgereik is.

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) besit namens sy kliënte net minder as 29% van Ayo. Die OBK is die staatsbeheerde batebestuursfirma wat hoofsaaklik die pensioenfonds van staatsamptenare (GEPF) se geld belê, asook die geld van die Werkloosheidsversekeringsfonds en Vergoedingskommissie. Die OBK bestuur altesame meer as R2 000 miljard se bates.

Ayo is die tegnologiefiliaal van African Equity Empowerment Investments (AEEI), ’n beleggingsbeheerfirma waarin dr. Iqbal Survé se Sekunjalo Investment Holdings die grootste aandeelhouer is met ’n belang van 61%. Ná notering het AEEI se belang in Ayo tot 49% gedaal.

Ayo skryf die onderprestasie daaraan toe dat sy kontrak met Sasol vertraag is en later in die boekjaar begin het as wat verwag is. Die maatskappy moes sekere eenmalige uitgawes aangaan in voorbereiding daarop.

Ayo sê ook beoogde verkrygings “is nie binne die verwagte tydsraamwerke voltooi nie”, maar die maatskappy oorweeg steeds “verskeie waardeskeppende transaksies”.

Dis bes moontlik ’n verwysing na die moontlike mislukking van Ayo se plan om ’n 30%-belang in British Telecoms SA (BTSA) vir R1 miljard van AEEI – sy eie moedermaatskappy – aan te skaf. Dit was juis dié transaksie wat die beweegrede vir Ayo se notering was.

Meer as die helfte van Ayo se direksie – insluitend Kevin Hardy, uitvoerende hoof, en Siphiwe Nodwele, beleggingshoof – het einde Augustus skielik bedank, wat die indruk gewek het dat die BTSA-plan van die baan is.

Hardy was skaars nege maande Ayo se hoof; hy het BTSA juis verlaat in afwagting op die transaksie.

Vier nie-uitvoerende direkteure, Khalid Abdulla, Walter Madzonga, Telang Ntsasa en Mbuso Khoza, en die maatskappysekretaris, Nobulungisa Mbaliseli, het ook in Augustus bedank te midde van kommer oor die Ayo-direksie se onafhanklikheid, het City Press vantevore berig.

Ayo is in omstredenheid gedompel toe dit aan die lig gekom het die OBK het met die notering R4,3 miljard in Ayo belê - die volle waarde van die aandele wat genoteer het. Die OBK het die aandele teen R43 elk gekoop; dis nou byna ’n derde minder oftewel R29,75 werd.

Die OBK se beleggingsbesluite word nou al geruime tyd bevraagteken.

Pres. Cyril Ramaphosa het middel Augustus aangekondig ’n kommissie van ondersoek gaan ingestel word na die OBK se korporatiewe beheer en hoe beleggingsbesluite geneem word. Die besonderhede van die kommissie is nog nie bekend gemaak nie.

Onder die omstredenheid tel die getal Eskom-effekte waarin die OBK belê het, asook swaar beleggings in Survé-verwante firmas soos AEEI, Ayo en Independent Media.

Geen rede is nog gegee vir die vertraging van die BTSA-transaksie nie. Slegs die OBK moet dit goedkeur, het City Press berig.

Ayo se boekjaar het einde Augustus gesluit en die firma verwag om sy resultate op 6 November uit te reik. Maatskappye moet ingevolge noteringsregulasies die mark so gou soos hulle daarvan bewus word, inlig as hul syfers met 20% gaan styg of daal.

Meer oor:  Gepf  |  Obk  |  Ayo  |  Iqbal Survé  |  Staatsondernemings  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.