Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ayo, OBK: LP’s se geduld op oor ‘sameswerings’

Lede van die staande komitee oor finansies in die parlement wou vandeesweek weet hoe ver die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se forensiese ondersoek is oor die transaksies wat met die Sekunjalo-groep se Independent Media en Ayo uitgevoer is.

Dr. Wallace Mgoqi, voorsitter van Ayo.

Ayo en Independent Media het vandeesweek volgens sommige lede van die staande komitee ’n buitengewoon lang spreekbeurt gekry toe hulle Woensdag die komitee vir ’n uur en ’n half lank toegespreek het.

Die voorleggings het virtueel plaasgevind en Iqbal Survé, voorsitter van die Sekunjalo-groep se beheermaatskappy, het dit bygewoon.

Volgens hom het Tito Mboweni, minister van finansies, die groep uitgenooi om die voorlegging voor die komitee te doen om hul “kant van die storie” te vertel.

Die OBK het einde 2017 R4,3 miljard in Ayo met dié notering belê, om 30% van Ayo te bekom.

Intussen het ’n kommissie van ondersoek oor die transaksies van die OBK, die Mpati-kommissie, aanbeveel ’n forensiese ondersoek moet oor dié transaksie en ander met die Sekunjalo-groep gedoen word.

Die ondersoek het bevind die OBK het die transaksie met Ayo op onbehoorlike wyse deurgevoer omdat sy beleggingsprosedures nie na behore gevolg is nie. Boonop is gevind dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, het onbehoorlik en oneerlik opgetree met die deurvoer van die transaksie.

In geheel is gevind die ondernemings van die Sekunjalo-groep (insluitende Independent News and Media South Africa en Sekunjalo Independent Media, asook Premier Food & Fishing) toon ’n “duidelike miskenning van die OBK se beleid en standaardbedryfsprosedures”.

Iqbal Survé, sakeman en voorsitter van Independent Newspapers, tydens ’n vorige parlementsitting oor die OBK se beleggings in ondernemings waarin hy belange besit.

Die verslag lui: “Die ‘noue verhouding’ tussen Matjila en Survé het van bo af druk geskep op die transaksiespanne om die nodige goedkeurings (vir die transaksies met die groep) te kry.

“In die lig hiervan beveel die kommissie van ondersoek aan dat die OBK ’n forensiese ondersoek doen oor alle prosesse wat gevolg is in alle transaksies wat met die Sekunjalo-groep gesluit is, en daar seker gemaak word dat die OBK maatskappyregistrasienommers van elke onderneming in die groep kry om ’n forensiese ondersoek te doen oor hoe die geld in en uit die groep gevloei het.”

Die OBK moet ook bepaal of enige wette met die transaksies oortree is.

Smeerveldtog

Woensdag gedurende die voorlegging het Ayo volgens die parlementslede dit egter vermy om op die Mpati-kommissie van ondersoek se bevindinge te reageer.

Ayo het egter aangevoer hy is ’n slagoffer van ’n “smeerveldtog” wat in Maart 2018 teen hom begin is en dat hy “kollaterale skade” in ’n geveg tussen faksies binne die OBK is.

Ayo het die parlementariërs gevra vir ’n ondersoek oor die JSE, die registrateur van intellektuele eiendom en maatskappye (CIPC), die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA), asook die rol van amptenare van die Openbare Beleggingskorporasie en die nasionale tesourie in die kansellering van kontrakte, bankgeriewe en die ondersteuning van kliënte en diensverskaffers.

Dr. Wallace Mgoqi, voorsitter van Ayo, sê Ayo het die kommissie van ondersoek verwelkom en “vrywillig” topbestuurslede gestuur om deel te neem. Hulle was geskok oor die intense fokus op Ayo in teenstelling met ander maatskappye. Hy sê daar was geen bewyse van korrupsie in die verslag teen hulle nie en van die goed wat by die kommissie gesê is, is op hoorsê en ongegronde bewerings gegrond.

Ayo se posisie is steeds dat hy niks verkeerd gedoen het nie en die slagoffer van ’n smeerveldtog is.
Dr. Wallace Mgoqi, voorsitter van Ayo

Ayo is in ’n regsgeding met die OBK gewikkel oor die belegging.

“Ayo glo vas dat hy nieteenstaande die negatiewe publisiteit suksesvol in die regsgeding met die OBK of enige ander party sal wees. Ayo se posisie is steeds dat hy niks verkeerd gedoen het nie en die slagoffer van ’n smeerveldtog is.”

Mgoqi beweer Ayo het sake van R1,3 miljard in die openbare en private sektor voor die notering verloor.

Boonop is van sy bankgeriewe gekanselleer en rekeninge gesluit op grond van mediaberigte.

Regter Lex Mpati, voorsitter van die kommissie van ondersoek wat die OBK se beleggings ondersoek het.

“Ayo is ook op irrasionele wyse deur die JSE beboet vir wat as ’n algemene nakomingsaangeleentheid beskou kan word en wat nie korrupsie is nie.

“Ayo is ’n teiken van ’n gekoördineerde smeerveldtog met onheilspellende bedoelings.”

Survé het gesê hy hoop ’n minlike oplossing kan met die OBK bereik word.

Die komitee is gevra om te help om die verhouding tussen die OBK as aandeelhouer van Ayo te help normaliseer. 

Geen reaksie op verslag

Ná die aanbieding het die komiteelede gesê hulle het gedink Survé-hulle is daar om te reageer op die aantygings in die Mpati-kommissie se verslag.

Geordin Hill-Lewis van die DA sê in stede daarvan het Survé-hulle net ’n groot samesweringsteorie voorgelê oor almal wat saamwerk teen hulle.

Phoebe Noxolo Abraham van die ANC meen ook sommige stellings klink soos samesweringsteorieë.

Wouter Wynand Wessels van die VF Plus sê die Mpati-verslag het sekere bevindinge gemaak en Survé-hulle het dit nie aangepak nie. “Ons het baie retoriek gehoor, maar geen feite nie. Baie samesweringsteorieë, maar geen feite nie.”

Die forensiese ondersoeke is daar om die feite na vore te bring, nie retoriek en samesweringsteorieë nie.
Wouter Wessels van die VF Plus

Hy wil van die OBK weet hoe ver die forensiese ondersoek is wat die Mpati-kommissie aanbeveel het.

“Die forensiese ondersoeke is daar om die feite na vore te bring, nie retoriek en samesweringsteorieë nie. Daar was onreëlmatighede en bevindinge daaroor en ons het niks gehoor om te sê die feite is verkeerd nie.”

Kenny Morolong van die ANC sê ook die komitee moet samesweringsteorieë vermy wat niks met die Mpati-kommissie te doen het nie.

Volgens Survé het hulle self gevra om ’n voorlegging aan die komitee te doen ná Mboweni se uitnodiging en hulle het nêrens aangedui dat dit gaan oor die Mpati-kommissie nie.

Die OBK gaan apart reageer op die voorleggings. Abel Sithole, uitvoerende hoof van die OBK, sê daar is ’n paar feitelike stellings in die voorleggings waarop hulle wil reageer.

Sithole sê die OBK doen nie stappe teen ondernemings omdat daar ’n agenda is nie, maar omdat sy ondersoeke dui dis nodig, of omdat die kommissie van ondersoek se aanbevelings gevolg word.

Hy sê ook stappe word gedoen wanneer die terme en voorwaardes van ’n belegging nie nagekom word nie en die OBK poog om ’n belegging te beveilig.

Meer oor:  Obk  |  Daniel Matjila  |  Iqbal Survé  |  Gepf  |  Pensioenfondse  |  Staatsdiens  |  Mpati-Kommissie  |  Staatsamptenare  |  Vakbonde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.