Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ayo se syfers ‘is bekonkel’
Malick Salie getuig voor die kommissie van ondersoek na die gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie.Foto: Skermgreep

Ayo Technology Solutions se markwaarde ten tyde van sy notering in Desember 2017 “was opgemaak”.

Dit is die getuienis van Malick Salie, beleggingshoof by Ayo, Dinsdag voor die kommissie van ondersoek na die gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK).

Die OBK het R4,3 miljard in Ayo belê toe hy noteer het.

Hy het R43 per aandeel betaal en was die enigste maatskappy wat die aandele gekoop het.

Salie is nie die eerste persoon wat getuig dat Ayo se syfers bekook was nie.

Siphiwe Nodwele, voormalige beleggingshoof van Ayo, het voorheen getuig dié maatskappy was waarskynlik eerder net R1 miljard werd ten tyde van sy notering en nie R14,8 miljard soos wat die amptelike waardasie was nie.

Salie, wat gedagvaar is om voor die kommissie te getuig, sê sy aanvanklike berekening was dat Ayo R2,3 miljard werd was.

Hy het verder getuig dat dr. Iqbal Survé, voorsitter van die Sekunjalo Groep, werknemers voorgesê het hy wil hê Ayo se markwaarde moet R15 miljard wees wanneer hy genoteer word.

Survé se familietrust besit Sekunjalo, wat weer ’n belang van 61,5% in African Equity Empowerment Investments (AEEI) besit. AEEI besit weer ’n 49,3%-belang in Ayo.

Survé het voorheen voor die kommissie getuig dat hy glad nie betrokke was by die notering van Ayo nie.

Salie het dit ontken en het getuig Survé was van die begin af betrokke by dié proses.

Syfers

Salie het verduidelik die manier hoe Ayo se markwaarde van R2,3 miljard tot R14,8 miljard verhoog is, was deur moontlike toekomstige verkrygings nádat hy genoteer het, by die waarde in te reken.

Daar is baie staatgemaak op die waarde wat ’n beplande transaksie met British Telecom (BT) in Suid-Afrika by die waarde van Ayo sou voeg.

Volgens Salie was Ayo onder die indruk dat Kevin Hardy, wat eers by BT gewerk het en later as uitvoerende hoof van Ayo aangestel is, die reg gehad het om vertroulike inligting oor kliënte met Ayo te deel.

“Dit het later duidelik geword Hardy het nie die reg óf toestemming gehad om inligting oor BT bekend te maak nie,” het hy getuig.

BT het later ’n brief aan Ayo gestuur waarin hy dit duidelik stel dat hy bekommerd is oor vertroulike inligting wat met Ayo gedeel is. BT het ook gesê hy het nooit vir Ayo aan enige van sy kliënte voorgestel soos wat dit in Ayo se voornoteringsverklaring gestel is nie.

Ayo en BT het nooit die ooreenkoms gesluit nie.

Gill Marcus, een van die kommissarisse, het Malick reguit gevra of hulle dus die waarde van die maatskappy bereken het op grond van “as dit of as dat sou gebeur” en nie op feite nie.

Salie het erken dit was die geval.

Ouditmening

Wat betref Ayo se halfjaarresultate, sê Salie sy ouditeure is byna klaar om syfers te hersien.

Dit kom nadat die JSE op 10 April gevra het dat Ayo ’n ouditmening van sy 2018- en 2019- ongeouditeerde tussentydse resultate moet bekom.

BDO Cape is Ayo se ouditeurs. Hulle het Grant Thornton verlede jaar oorgeneem.

Grant Thornton het juis die waardasie van Ayo voor sy notering geoudit, het Salie bevestig.

Hy het bygevoeg dat die model hoe die markwaarde bereken is, geoudit is, maar dat die model self intern ontwerp is.

Wat betref die halfjaarresultate het Salie ook getuig dat Khalid Abdulla, uitvoerende hoof van AEEI, vir hom en Naahied Gamieldien, tans direkteur verantwoordelik vir saketransformasie by Ayo maar voorheen sy finansiële hoof, in ’n boodskap gesê het dat die maatskappy se wins vir die 2018-halfjaar van R29 miljoen onaanvaarbaar is en dat dit ten minste R40 miljoen moet wees.

Salie het getuig aanpassings is gedoen.

“Hierdie aanpassings word tans hersien,” sê hy.

Luidens die verklaring wat Ayo op 15 Mei 2018 op die JSE se nuusdiens, Sens, gepubliseer het, het sy wins vir die halfjaar tot einde Februarie 2018 met 55% van R29 miljoen tot R45 miljoen gestyg.

Salie sê die oudit wat tans gedoen word, het foute met sy syfers uitgelig, maar ook dat sy inkomste uit rente van R25 miljoen nie ingereken was nie.

Hy sê hy het geen idee hoe die finale syfer sal lyk teenoor dit wat oorspronklik op Sens gepubliseer is nie.

Salie sê ongeag die bevindinge glo hy steeds dat Ayo ’n winsgewende maatskappy is.

Hy sê sy vooruitsig is dat die maatskappy oor ’n volle jaar ’n inkomste van R3 miljard behoort te verdien met ’n wins van R200 miljoen. Dit sluit enige inkomste wat verdien is weens sy ooreenkoms met BT en enige rente uit.

Survé het op 2 April getuig hy verwag dat Ayo ’n wins van minstens R800 miljoen vir die huidige boekjaar sal aanteken.

Salie sê hy is wel bekommerd oor die bestuur van Ayo en dit is hoekom hy op 7 Mei van die direksie van Ayo bedank het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.