Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Bank bly naby aan sy kliënte

Die hele waardeketting in landbou – van die verskaffers van saad en chemikalieë tot die boerdery, die berging en vervoer van die produkte, agriverwerking en waar dit aan verbruikers verkoop word, is die nismark wat Grobank bedien.

Grobank maak die hele waardeketting in landbou sy fokus – van die inset-ondernemings tot die boere en waar die produkte verkoop word. Foto: Conrad BorNman

“Ons benader die landbousektor anders as ander kredietverskaffers,” verduidelik Bennie van Rooy, uitvoerende hoof van Grobank.

Die Landbank se mandaat is om na boere om te sien, terwyl handelsbanke ook nie op die hele waardeketting fokus nie.

Grobank is daartoe verbind om ondernemings te help waar hulle kan.

Om dit te vermag, het die bank ’n depositoveldtog begin waar beleggers ’n rentekoers van 6,5% kan kry op ’n minimum nuwe belegging van R50 000.

Dié waardeproposisie maak Grobank baie aanloklik vir beleggers.

“Grobank staan sy plek vol as een van die betroubare finansiële instellings in Suid-Afrika. Mededingende rentekoerse tesame met ’n verskeidenheid voorwaardes op kort en langer termyn het ’n gevoel van veiligheid en betroubaarheid onder beleggers geskep,” sê Bennie van Rooy, uitvoerende hoof van Grobank.

“Ons sien onsself as ’n belanghebbende in die landbousektor, ons is deel van die sukses van die voedselwaardeketting. Dit maak ons posisie uniek.”

Grobank het die Suid-Afrikaanse mark in 1947 betree as die South African Bank of Athens. Die bank het veral die Griekse gemeenskap deur ’n span verhoudingsbestuurders bedien.

“Ons bou voort op ons geskiedenis van ’n noue verhouding met die gemeenskap en pas dit nou toe op ons benadering tot die landbougemeenskap.”

So stel Grobank verhoudingsbestuurders aan wat die onderliggende kwessies in die landboubedryf verstaan en werk hulle ook nou saam met onder meer koöperasies.

“Finansiële dienste gaan oor persoonlike verhoudinge, maar die handelsbanke se diens is al hoe verder van die kliënte verwyder.”

Volgens Van Rooy beteken hul betrokkenheid by die hele waardeketting dat die bank op ’n ander manier na risiko’s kan kyk.

“ ’n Bank probeer die toekoms voorspel deur te kyk hoe maklik die kliënt ’n lening sal kan terugbetaal.”

Wanneer iemand byvoorbeeld aansoek doen om ’n huislening, sal die bank kyk na die waarde van die eiendom en die persoon se inkomste om te bepaal hoeveel hulle kan terugbetaal.

“Met boerdery het nie almal toegang tot eiendom om as sekuriteit aan te bied nie. As ek nie sekerheid het in grond nie, moet ek kyk na die kontant wat die boer kan genereer.”

Wanneer Grobank dus ’n lening aan ’n opkomende boer oorweeg, kyk hulle na produksierisiko’s. “Hoe lyk hul produksievaardigheid, is daar ’n kommersiële boer wat as mentor optree en die produkte kan koop, het hulle toegang tot water?”

Deur dié kwessies op te weeg, kan Grobank ook dié boere help groei om eindelik volwaardig by te dra tot werkskepping en voedselsekerheid in die land.

“Ons is ten volle bewus van ons rol om ook verantwoordelikheid te help aanvaar vir die verbetering van voedselsekerheid, werkskepping en maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling in Suid-Afrika.”

Grobank se besigheidsbankafdeling is veral betrokke by ondernemings wat na aan die landbousektor is, soos diegene wat logistieke dienste lewer, hernieubare energiebronne ontwikkel en dan ook groot- en kleinhandelondernemings.

Talle klein- en mediumondernemings met ’n omset van tussen R5 miljoen en R500 miljoen per jaar en tussen drie en 150 werknemers maak van die bank se spesialisdienste gebruik.

“Die demografie (van kliënte) is van alle sektore van die bevolking, mense wat proaktiewe bankdienste met ’n keuse van rentekoerse nodig het en wat op soek is na toegang en buigsaamheid wanneer omstandighede uitdagend is,” sê Van Rooy.

“Dit is vir ons kliënte belangrik om te weet hul geld is veilig en of hul rente maandeliks of aan die einde van ’n tydperk betaal word. Hulle vertrou ook ons sakebestuurders se raad oor bewegings in die mark en die moontlikheid van vasgestelde rentekoerse om hul finansiële welstand te help verseker.”

Grobank kyk nou ook na die ontwikkeling van transaksionele produkte om onder meer aftreebeplanning en versekeringsprodukte aan plaaswerkers te bied. “Daar bestaan nie tans sulke oplossings in die Suid-Afrikaanse mark nie.”

Dit sluit in om betaalstaatstelsels vir boere vir hul plaaswerkers te ontwikkel en om aan plaaswerkers die vermoë te gee om transaksies op hul selfone te kan doen.

“Dit kan byvoorbeeld oorplasings vir plaaswerkers makliker maak,” sê Van Rooy.

Intussen gaan dit onder omstandighede goed met die landbousektor, buiten met boere wat onder droogte gebuk gaan in die Oos- en Noord-Kaap, sê Van Rooy.

“Met Covid-19 kon mense aan die begin net kos koop, so daar was ’n groot vraag na koskommoditeite.”

Die somergraanseisoen was baie suksesvol en die hawens en uitvoermarkte is oop. Boonop is die meeste plase redelik ver geleë van die Covid-19-brandpunte in die metropolitaanse gebiede.

“Landbou-omstandighede is redelik gunstig op die oomblik en dit bied ’n goeie geleentheid om die sektor te groei.”

Meer oor:  Grobank  |  Banke  |  Verbruikersvertroue  |  Landbou  |  Oes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.