Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Bank met R38 m. beboet oor ‘geldwassery’

Die Reserwebank het twee reuse in die finansiële dienste beboet omdat hul maatreëls om geldwassery te voorkom, “swakhede” bevat.

Deutsche Bank moet maatreëls verskerp om vas te stel wie sy kliënte is, het die Reserwebank bevind. Foto: Bloomberg

Die grootste boete, van R38 miljoen, is aan Deutsche Bank se Johannesburg-tak opgelê. Daarvan is R10 miljoen vir drie jaar opgeskort.

Discovery Life, die afdeling van Discovery wat langtermynversekering verkoop, is met R2 miljoen beboet, waarvan R500 000 vir drie jaar opgeskort is.

Albei instellings is ook aangesê om die tekortkominge dadelik reg te stel.

Die Reserwebank hou deur onder meer die Omsigtigheidsowerheid toesig oor banke en ander finansiëledienstemaatskappye. Inspeksies word gereeld uitgevoer om seker te maak instellings voldoen aan die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum (Fica), wat regulasies daarstel om geldwassery en die finansiering van terreur te voorkom of op te spoor.

Die inspeksies wat tot die boetes gelei het, is reeds in 2019 gedoen.

Die Reserwebank beklemtoon in verklarings dat daar geen bewys is dat enige misdaad deur die gebreke deur geglip het nie. Dis bloot ’n geval dat beheermaatreëls nie streng genoeg was nie.

Discovery Life het onder meer versuim om transaksies van R25 000 en meer aan te meld soos die wet vereis, het nie voldoen aan risikobestuursvereistes nie, en het nie genoeg Fica-opleiding aan werknemers verskaf nie.

Discovery Life werk met die Reserwebank saam om die probleme reg te stel.

Die grootste deel van Deutsche Bank se boete is omdat hy nie noulettendheidsvereistes met betrekking tot sy kliënte nagekom het nie. Banke is verplig om seker te maak hulle weet hoe hul kliënte hul inkomste verdien of, indien dit trusts of ondernemings is, wie die eindelike eienaars of begunstigdes is.

Deutsche Bank het ook ’n groot boete gekry omdat hy nie behoorlik boekhou van alle transaksies nie.

Deutsche Bank werk ook met die Reserwebank saam om die probleme reg te stel.

Meer oor:  Discovery Life  |  Deutsche Bank  |  Fica  |  Terreur  |  Bankbedryf  |  Geldwassery  |  Versekeraars  |  Langtermynversekering  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.