Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Bank waarsku oor Hongkong-betogings

’n Groot handelsbank het Woensdag gewaarsku dat die weke lange protes in Hongkong die ekonomie van dié Chinees beheerde stad, asook dié van China, kan benadeel.

Dit kom te midde van betogers wat hulle regmaak vir ’n sitbetoging by ’n moltreinstasie en die plek waar ’n ruk gelede ’n vigilante-aanval was.

Die Hongkong-gesetelde Bank of East Asia (BEA) het ’n daling van 75% in sy halfjaarwins aangeteken nadat hy lenings in China afgeskryf het weens ’n insinking in die markte vir handels­eiendom buite China se top-stede.

Die bank het ook gewaarsku dat maatskaplike onrus in Hongkong en ’n handelsdispuut tussen China en die VSA die ekonomie van sowel China as die voormalige Britse kolonie kan skaad.

“Die gespanne atmosfeer (in Hongkong) sal waarskynlik ’n nadelige invloed hê op verbruikers- en sakevertroue en op inkomende toerisme as daar nie binnekort ’n oplossing kom nie.” het BEA in ’n verklaring gesê.

Betogers nooi mense gister op ’n treinstasie om deel te neem aan ver-dere protesoptogte teen die regering. Foto: REUTERS

Sommige maatskappye in Hongkong is by omstredenheid ingetrek ná 11 weke se gewelddadige skermutselings tussen die polisie en pro-demokratiese betogers, wat ergerlik is oor ’n gewaande verwatering van vryhede.

Simon Cheng, ’n Chinese personeellid van die Britse ambassade in Hongkong, wat deur China onder “administratiewe aanhouding” geplaas is omdat hy glo Chinese wetgewing verbreek het. Foto:

Vlieëniers en kajuitbemanning van Cathay Pacific Airways het gesê hulle loop deur onder ’n “wit terreuraanslag” van politieke teregwysings, afdankings en die deurgaan van hul selfone deur Chinese lugvaartbeamptes.

BEA en sy mededingers het by verskeie geleenthede takke in die omgewing van die betogings gesluit.

“Die onlangse situasie in Hongkong skep tekens van kommer vir die plaaslike klein- en mediumgrootte ondernemings,” het Adrian Li, medehoofamptenaar van BEA, aan joernaliste gesê.

“As die heersende toestande so voortduur, sal dit toerisme, handel sowel as beleggersvertroue raak. Desondanks bly ons Hongkongse batewaarde steeds baie gesond.”

Betogers het hulle gister gereed gemaak om by die Yuen Long-massa-aansluitingstasie saam te trek in een van ’n reeks betogings die afgelope elf weke, waarvan sommige gewelddadig geraak het. Dit sluit die bestorming in van die wetgewergebou en chaos op die lughawe.

Op die aand van 21 Julie het sowat 100 mans in wit hemde die stasie bestorm, ure nadat betogers ’n optog deur Hongkong se stadskern gehou en China se belangekantoor gevandaliseer het. Dié kantoor is die hoofsimbool van Beijing se gesag oor die stad.

Die vigilante het swartgeklede betogers wat van Hongkong-eiland af teruggekeer het, verbygangers, joernaliste en wetgewerlede met pype en kieries aangeval en 45 beseer.

Woede het in Junie losgebars oor ’n voorgestelde wetswysiging, wat intussen opgeskort is, wat dit moontlik sou maak dat misdaadverdagtes in Hongkong aan China uitgelewer kan word vir verhoor.

Hongkong se Beijing-gesteunde leier, Carrie Lam, het eergister weer gesê dié wetgewing “is dood”.

Die onrus word egter aangeblaas deur groter kommer oor die verwatering van vryhede wat gewaarborg word onder die “een land, twee stelsels”-formule wat geld nadat Hongkong in 1997 aan China terugbesorg is.

In een van die mees onlangse voorvalle het China gister gesê ’n Chinese personeellid van die Britse konsulaat in Hongkong is in “administratiewe aanhouding” omdat hy Chinese wetgewing verbreek het.

Die personeellid, Simon Cheng, het nie op 9 Augustus teruggekeer werk toe ná ’n besoek die vorige dag aan die Chinese stad Shenzhen nie, het die Hongkongse nuuswebwerf HK01 berig en sy meisie en familie aangehaal. – Reuters

Meer oor:  Hongkong  |  China  |  Wêreldekonomie  |  Betoging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.