Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Bankbaas verdien R72 m. in 1 jaar
Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec.Foto: Elvira Wood

Gerrie Fourie was in die 2020-boekjaar R72 miljoen vir Capitec werd.

Fourie, uitvoerende hoof, se inkomste het uit ’n salaris van R12,804 miljoen en ’n jaarlikse kontantbonus van R5,113 miljoen bestaan, sowel as uitgestelde toekennings van R54,077 miljoen. Dit is juis die toekennings wat Fourie se salaris ver bo dié van ander bankbase laat uitstaan.

As dié enorme aansporing egter buite rekening gelaat word en nét sy gewaarborgde salaris (R12,804 miljoen) en korttermynbonus (R5,113 miljoen) – wat R17,917 miljoen in totaal beloop – met dié van Suid-Afrika se vier ander groot banke se base vergelyk word, het hy naas René van Wyk, voormalige waarnemende uitvoerende hoof van Absa, die minste verdien.

Van Wyk, wat vir die tydperk tussen Maria Ramos se aftrede en die aanstelling van Daniel Mminele as Absa se uitvoerende hoof waargeneem het, het ’n totale salaris van R15,166 miljoen ontvang. Van Wyk het geen langtermynaansporing ontvang nie omdat hy waargeneem het.

Die bankbaas wat die grootste salaris verdien het wanneer langtermynaansporings buite rekening gelaat word (maar korttermynaansporing ingesluit is), is Jacques Celliers van FNB. Sy gewaarborgde salaris van R7,651 miljoen en korttermynbonus van R14,574 miljoen beteken hy het R22,225 miljoen verdien in die jaar tot einde Desember 2019.

Bankbase

In 2020 gaan bankbase egter kleiner salarisse verdien. Dit is omdat die meeste van hulle onderneem het om ’n derde van hul salarisse vir drie maande aan fondse te skenk om die invloed van die Covid-19-pandemie te beveg.

As al die bankbase ’n derde van hul gewaarborgde salaris vir drie maande skenk, beteken dit hul onderskeie bydraes is soos volg:

  • Jacques Celliers, FNB: R631 207;
  • Gerrie Fourie, Capitec: R1 056 330;
  • Mike Brown, Nedbank: R742 005;
  • Daniel Mminele, Absa: R756 250; en
  • Sim Tshabalala, Standard Bank: R843 315.

Die totaal beloop net meer as R4 miljoen.

Moontlike kontantbonusse wat die bankbase gaan kry, is nié by dié berekening ingesluit nie.

Banke wie se base bevestig het dat hulle dié betaling gaan maak is Absa, FNB en Nedbank.

Standard Bank sê dit is sy direkteure se eie keuse of hulle ’n bydrae wil maak en indien wel hoeveel en aan watter fonds. Capitec het geen aankondiging gemaak nie.

Mminele se bydrae is bereken gegrond op die gewaarborgde salaris wat sy voorganger, Van Wyk, ontvang het.

Die meeste van die bankbase gaan egter steeds miljoene rande verdien, met die kleinste gewaarborgde salaris na dié aftrekking, die R7 miljoen van Celliers. Dit is as hy geen verhoging in 2020 ontvang nie én geen ander bonus of aansporing nie.

Die totale bedrag wat bankbase in 2020 betaal gaan word, gaan verder beïnvloed word afhangend van wat die banke oor korttermynbonusse besluit en hoe die banke se aandele op die JSE presteer. Dit is omdat langtermynaansporings tipies uit aandele bestaan.

  • Capitec is die enigste van die vyf groot banke wie se boekjaar einde Februarie eindig. Die ander vier banke se boekjaar kom op 31 Desember tot ’n einde.
Meer oor:  Nedbank  |  Fnb  |  Absa  |  Capitec  |  Standard Bank  |  Gerrie Fourie  |  Jacques Celliers  |  Salaris  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.