Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Banke: 1ste keer meer swart as wit bestuur op dié vlak

Banke het in 2019 vir die eerste keer nóg meer swart as wit middelvlak-bestuurders gehad.

Aan die ander kant haal banke nog nie die 25%-teiken vir swart besit van hul aandele nie.

Die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) se jongste verslag oor transformasie in die bankwese is Donderdag uitgereik en toon die impak van die swak ekonomiese tye op bemagtiging.

k

Ekonomiese impak

Bongiwe Kunene, nuwe besturende direkteur van Basa, sê die ekonomiese toestande wat in 2019 geheers het, het dit moeiliker gemaak om doelstellings met transformasie te bereik. Die vordering wat banke gemaak het, moet in dié konteks beskou word.

Suid-Afrika het in 2019, lank vóór die Covid-19-pandemie, in ’n resessie gesink.

Die sukkelende ekonomie het banke se winsgroei beperk.

Dit het meegebring dat die bedrae wat aan maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling toegewys is, vir die eerste keer in vier jaar gedaal het omdat dit gegrond is op nabelaste wins.

Die besteding op maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling deur banke het in 2019 van R673 miljoen tot R621 miljoen gedaal.

Die ekonomiese situasie het dit ook vir banke moeilik gemaak om transformasie aan te spoor omdat dit afhang van die lenings wat aan teikensektore verskaf word.

Ander doelstellings, soos die ontwikkeling van vaardighede en van verskaffers, is ook moeiliker in ’n omgewing van kostebesparing.

Ontwikkeling

Die ontwikkelingsfinansiering aan swart verskaffers het stewig met 38% tot R1,1 miljard gestyg.

Besteding op swart verbruikersopvoeding het met 18% tot R212 miljoen gestyg.

Die finansiering van bemagtigingstransaksies het egter met amper 20% tot R203,7 miljard gedaal.

Die jongste verslag se inligting is deur Intellidex in opdrag van Basa ingesamel. Daar het 18 bankgroepe aan die peiling deelgeneem.

Eienaarskap

Die verslag toon die aandele of ekonomiese belang in swart besit het effens tot 23,7% gestyg, maar dis steeds onder die teiken van 25%.

Dit het deurlopend sedert 2016 se 32,1% gedaal.

Die daling in swart eienaarskap oor die afgelope vier jaar word toegeskryf aan die verpligte tydperk wat aandele in groot bemagtigingstransaksies sedert 2005 gehou moes word. Toe dit ten einde loop het, het baie aandeelhouers gekies om hul aandele te verkoop.

Die stemreg van swart mense het onveranderd gebly op 28%, bo die teiken van 25%.

Aandele in swart besit en stemreg word as deel van eienaarskap kragtens die kode vir die finansiële sektor gemeet.

Swart vroue se stemreg het gestyg tot 12,6% en hul ekonomiese belang tot 11,3%.

Bestuur

Kunene meen een van die hoogtepunte van die verslag is dat daar vir die eerste keer in die geskiedenis meer swart Afrikane in middelvlak-bestuur as wit mense is.

Op elke bestuursvlak is die persentasie van swart mense nou op die hoogste nóg.

Die persentasie swart bestuur van die totaal het elke jaar die afgelope vier jaar oor alle vlakke van bestuur verhoog.

k


Topbestuur is op 34,9%; senior bestuur op 43,2%; middelvlak-bestuur op 65,5% en junior bestuur op 85,9%.

Direkteure

Van die 195 direkteure van die banke is daar 85 swart direkteure. Die getal het deurgaans toegeneem sedert 2016. Van hulle is 40 vroue.

Van die totale uitvoerende direkteure van 67 van die banke is 24 swart en net agt van hulle vroue.

Baie banke bereik nie die teikens met swart direkteure nie, hoewel vordering gemaak is.

Omdat die totale getal direkteure gedaal het van die vorige jaar af, het die persentasie swart direkteure toegeneem van 38% tot 44%.

Daar is net sewe banke met meer as 50% swart direkteure in die direksie en vyf met meer as 25% van sy direkteure wat swart vroue is.

Daar is ook net sewe banke waarvan meer as 50% van die uitvoerende direkteure swart is en net drie waar meer as 25% van die uitvoerende direkteure swart vroue is.

k

Besteding op vaardighede

Daar het van 2016 voortdurend ’n verhoging in banke se besteding op die ontwikkeling van vaardighede onder swart personeel plaasgevind. In 2019 is R4,1 miljard daarop bestee.

Die gedeelte daarvan op vroue neem ook elke jaar toe en was in 2019 op R2,4 miljard, 7% meer as die vorige jaar.

Goeie vordering is in 2019 met die bemagtiging van swart vroue gemaak, asook die ontwikkeling van verskaffers en besteding op vaardighede.


Meer oor:  Banke  |  Transformasie  |  Seb  |  Swart Ekonomiese Bemagtiging  |  Bankbedryf  |  Bemagtiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.