Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Banke: Al hul planne, bydraes te midde van Covid-19
Die meeste van Suid-Afrika se banke het maatreëls aangekondig om hul kliënte gedurende die staat van inperking by te staan. Foto: Reuters

Suid-Afrikaanse banke het die afgelope week nie net aangekondig hoe hulle hul kliënte gaan bystaan te midde van die staat van inperking nie; van hulle het miljoene rande bygedra om te help om die Covid-19-pandemie te beveg.

Die maatreëls wat die banke aangekondig het, stem baie ooreen danksy die Mededingingskommissie se toestemming dat hulle onder die huidige omstandighede wel mag saamwerk.

Wat is dieselfde?

  • Die meeste banke het betaalvakansies of soortgelyke maatreëls aangekondig vir die delging van skuld. Dit is van 1 April tot 30 Junie van krag.
  • Individue en/of ondernemings kan in die meeste gevalle aansoek by hul bank doen om skuldverligting.
  • Banke vereis wel dat aansoekers se geldsake in orde moet wees en dat hulle nie agterstallig mag wees met enige paaiemente nie.
  • Die skuldverligting beteken nie dat kliënte kwytgeskeld word van betalings nie, net dat hul skuld herstruktureer word sodat dit dus later gedelg word.
  • Meestal word geen bykomende gelde gehef om skuld te herstruktureer wat deel vorm van die Covid-19-skuldverligting nie.
  • Saswitch-boetes word opgehef.

Absa

Skuldverligting

Absa se planne is in ooreenstemming met die algemene maatreëls waarop die sektor ooreengekom het.

Hy gee kliënte wel die opsie om of te reël om glad nie skuld in dié drie maande te betaal nie, of om wel ’n deel daarvan te betaal.

Dié verligting is nie net van toepassing op sy bedrywighede in Suid-Afrika nie, maar ook op sy bedrywighede in die res van Afrika.

Bydraes

Absa het R15,7 miljoen geskenk om onder meer toets- en higiëne-toestelle in agtergeblewe gemeenskappe te versprei.

Hy gaan ook R700 000 se kos wat hy vir die gekanselleerde Cape Epic-fietsren bestel het, in agtergeblewe gemeenskappe versprei.

LEES OOK: Só wil Absa kliënte met skuld help

African Bank

Skuldverligting

African Bank het geen aankondigings gedoen oor betaalvakansies nie. Hy het wel voorheen aan Netwerk24 gesê dat hy elke aansoek om skuldverligting afsonderlik sal oorweeg.

Basani Maluleke, uitvoerende hoof van African Bank, sê die bank tree wel in verbinding met kliënte wat dalk vir ’n betaalvakansie kwalifiseer.

Bydraes

Die bank het geen spesifieke aankondiging gemaak oor bydraes wat gemaak word om die pandemie te beveg nie.

Capitec

Skuldverligting

Capitec het geen aankondigings gemaak oor betaalvakansies nie. Hy het wel voorheen aan Netwerk24 gesê dat hy elke aansoek om skuldverligting afsonderlik sal oorweeg. Hy gebruik sy bestaande skuldbeleid om te bepaal watter stappe gedoen kan word.

Bydraes

Die bank het geen spesifieke aankondiging gemaak oor bydraes vir die stryd teen die pandemie nie.

Discovery Bank

Discovery Bank het geen aankondigings gemaak oor spesifieke maatreëls om kliënte by te staan of bydraes om die pandemie te beveg nie.

FNB

Skuldverligting

FNB het maatreëls aangekondig soortgelyk aan dié wat deur die sektor oor die algemeen aanvaar is.

Hy gaan egter wel ’n voorkeurtarief hef op maatreëls wat weens die Covid-19-pandemie ingestel word.

FNB doen ook afstand van die verhuringskoste van Speedpoint-toestelle. Dit sal veral maatskappye help wat in die inperkingstydperk nie sake kan doen nie. Handelaars wie se banksake in orde is en wat bedrywig is in ’n sektor wat onder druk is, sal ook kwytgeskeld word van die minimum gelde wat gehef word op elke transaksie op sulke betaalpunte.

Die bank gee in April 1 GB se data aan individue en sakekliënte wat op FNB Connect geregistreer is.

LEES OOK: FNB help met skuld én data

Bydraes

As deel van die FirstRand-groep, dra FNB by tot die groep se Spire-projek.

FirstRand het R100 miljoen deur sy nuwe Spire-projek beskikbaar gestel om die mediese bedryf in die land gedurende die Covid-19-pandemie te ondersteun.

Die groep, wat uit FNB, WesBank en Rand Merchant Bank bestaan, het reeds 100 000 UltraGene Covid-19-toetsstelle ter waarde van R20 miljoen gekoop wat aan die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens geskenk sal word.

Investec

Dié bank het geen aankondigings gemaak oor spesifieke maatreëls hoe hy kliënte gaan bystaan óf bydraes wat hy gemaak het om die pandemie te beveg nie.

Nedbank

Skuldverligting

Die bank het nog geen spesifieke maatreëls aangekondig nie. Hy het wel voorheen gesê dat hy kliënte sal bystaan wat finansiële probleme ervaar.

“Die moontlike ondersteuning sluit in om terugbetalings (of ’n deel daarvan) te staak, ’n verlengde tydperk om die lening terug te betaal, of om bykomende krediet te verskaf om tydelike kontantvloeiprobleme te help verlig.”

Elke geval sal op eie meriete beoordeel word.

Die bank het wel aangekondig dat hy die minimum betaling op uitstaande kredietkaartskuld tot 2,5% halveer. Dié reëling geld van 1 April af vir drie maande.

Hy sal ook afstand doen van enige boetes (tot ’n waarde van R200 000 op ’n algehele portefeuljevlak) wanneer vroeë onttrekkings uit beleggings gemaak word.

Bydraes

Die bank het geen spesifieke aankondiging gemaak oor bydraes wat gemaak word om die pandemie te beveg nie.

LEES OOK: Ook Nedbank bied ‘betaalvakansie’ vir skuld

Standard Bank

Skuldverligting

Kliënte van dié bank wat nie agterstallig is met betalings nie, en wat R7 500 per maand of minder verdien, kwalifiseer outomaties vir ’n betaalvakansie van drie maande op al hul skuld, insluitend hul huisverband, motorfinansiering, kredietkaart en persoonlike lenings.

Diegene wat méér as R7 500 per maand verdien, kan ook aansoek doen om skuldverligting.

Klein ondernemings met ’n omset van minder as R20 miljoen per jaar en heeltydse studente kan aansoek doen om drie maande lange verligting op die terugbetaling van lenings.

LEES OOK: Standard Bank: Studente, kleinsake kry 3 maande ‘betaalvakansie’

Bydraes

Standard Bank het R10 miljoen aan maatskappye geskenk wat saam met die regering werk om die Covid-19-pandemie te beveg.

Die finansiering gaan vir die verskaffing van handreinigers, seep, handskoene, maskers, toetsstelle en toerusting vir toetsing en kwarantyngeriewe.

Tyme Bank

Dié bank het aangekondig dat hy geen gelde op sy Sendmoney-diens gaan hef nie.

Tyme Bank bied nie lenings nie. Hy het nie aankondigings oor enige ander bydraes gemaak nie.

Meer oor:  Fnb  |  Discovery Bank  |  Absa  |  Investec  |  Nedbank  |  Standard Bank  |  Covid-19  |  Skuld  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.