Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Banke beplan geen afleggings – vir nou
’n FNB-tak in Johannesburg.Foto: Getty Images

Standard Bank en Absa beplan om vir eers nie meer personeel af te lê nie soos wat die bankgroepe voorberei om die krimpende ekonomie te help en verdere werksverliese te bekamp.

Plaaslike banke het aangesluit by instellings van New York, Parys, Londen en Frankfurt wat belowe het om poste tydens die Covid-19-pandemie te behou.

Die meeste Suid-Afrikaanse banke het nog voor die pandemie personeel afgelê namate dienste al hoe meer digitaal aangebied word en personeel by fisieke banktakke oortollig raak.

Banke is ook geraak deur die sukkelende ekonomie, die resessie en ’n stewige werkloosheidsyfer van nagenoeg 29,1% – selfs nog voordat die pandemie begin het.

“Die bank is op die oomblik in ’n sterk finansiële posisie en ons verwag nie dat afleggings nodig gaan wees in reaksie op die pandemie nie,” het Standard Bank, die grootste bank in die land, per e-pos gesê.

“Ons kan egter nie onvoorwaardelike of permanente werkstabiliteit beloof sou die ekonomiese situasie versleg nie.”

Absa het gesê hy gaan nie nou nuwe mense aanstel nie terwyl FNB, Nedbank en Capitec geen afleggings beplan nie.

Suid-Afrika se finansiële bedryf, wat ook eiendom en versekering insluit, is die land se derde grootste werkgewer.

Die ses grootste banke, wat ook Investec insluit, bied werk aan bykans 186 000 mense.

Genoeg kapitaal

“Die grootste banke het genoeg kapitaal, so ek is nie bang nie,” sê Jan Meintjes, portefeuljebestuurder by Denker Capital in Kaapstad. “Hulle is waarskynlik in ’n goeie posisie om personeel te behou.”

Banke staan sentraal in die regering se plan om die ekonomie te help groei wat na raming vanjaar met tot 16,1% kan krimp weens die pandemie.

Dit kan ongeveer 40% van werkgeleenthede in Suid-Afrika uitwis.

Die nasionale tesourie beplan om banke te gebruik om gewaarborgde lenings van R200 miljard aan hoofsaaklik klein en mediumgrootteondernemings te betaal.

Banke het reeds in die laaste jaar van die meeste oortollige personeel ontslae geraak, hetsy deur afleggings of deur poste nie te vul nadat personeellede afgetree het nie.

“Die banke is baie winsgewend en kan vir die volgende jaar die koste dra,” sê Nolwandle Mthombeni, ’n ontleder by Mergence Investment Managers.

“Hulle is nie in ’n posisie waar hulle aggressiewe afleggings hoef te doen nie.”

Net FNB en Capitec het in die laaste boekjaar poste vermeerder.

Nedbank, Standard Bank en Absa het tesame 6 680 werknemers in die laaste boekjaar afgelê.

Absa oorweeg nie tans afleggings nie, het die bank in ’n e-pos gesê.

Nedbank sal voortgaan om alternatiewe poste te soek vir personeel wat deur digitalisering geraak word en sal poog om sy koste te hersien ten einde werkgeleenthede te behou, sê die bank.

“Afleggings is altyd ’n laaste uitweg.”

FNB moedig interne skuiwe aan om bestaande vakatures te vul en oorweeg nie ’n herstrukturering van sy arbeidsmag nie, omdat dit nog te vroeg is om die impak van Covid-19 te evalueer, sê die bank in ’n e-pos.

Capitec, wat meer takke oopgemaak het waar ander banke takke sluit, beperk die werwing van nuwe personeel tot noodsaaklike afdelings wat sy groeiplanne sal ondersteun, sê die bank.

Daar is geen manier om te voorspel wat die ekonomiese insinking kan beteken vir slegte skuld, verdienste of die balansstaat van banke nie, sê Meintjes.

Die banke stem saam en het finansiële voorspellings vir 2020 teruggetrek.

Die bankindeks (met vyf lede) het vanjaar met 42% gedaal, byna in ooreenstemming met die daling van 40% in die Europese bankindekse.

“Ek dink nie enige van die banke gaan ineenstort nie, maar aanstaande jaar gaan pynlik wees,” sê Meintjes. – Bloomberg

Meer oor:  Fnb  |  Absa  |  Capitec  |  Standard Bank  |  Nedbank  |  Maatskappye  |  Bankbedryf  |  Covid-19  |  Banke  |  Afleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.