Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Banke help die FIS om geldwassery te bekamp
Geldwassery bly 'n enorme kopseer. Foto: iStock

Suid-Afrikaanse banke het in die afgelope week ’n ooreenkoms met die Finansiële Intelligensiesentrum (FIS) gesluit om geldwassers met hul eie hulpbronne en geld uit te snuffel.

Die FIS het ingevolge wetgewing reeds die mandaat om ’n onafhanklike eenheid te wees waarby rolspelers soos banke oor sekere transaksies verslag doen sodat die FIS patrone en finansiële misdade kan identifiseer.

Maar nou is die Suid-Afrikaanse geïntegreerde taakspan teen geldwassery (Samlit) saamgestel om die opsporing van finansiële misdaad te verbeter.

Die banke gee die versekering dat hulle nie die perke sal oorskry om onpartydig transaksies aan te meld én skeidsregter oor hul kliënte te wees nie.

Die banke onderneem spesifiek dat hulle nie op hul kliënte sal spioeneer of onnodige bankbesonderhede sal deel nie.

Die FIS erken ruiterlik dat die regering nie in staat is om finansiële misdaad op sy eie vas te vat nie.

Banke was die laaste paar jaar aan die voorpunt van die identifisering van finansiële misdaad.

Suid-Afrika se vier grootstes – Standard Bank, Nedbank, FNB en Absa – het in 2016 op ’n streep die bankrekeninge van die omstrede Guptas gesluit nadat verdagte finansiële transaksies geïdentifiseer is. Dit was etlike maande voordat die FIS opgetree het.

Volgens die FIS het banke met die verslae wat hulle oorhandig, tot nou toe 80% van die aanmeldbare transaksies aangemeld.

“Gegewe die aard van die diens wat banke lewer, is banke uitstekend geposisioneer om misdaad vroegtydig te eien,” het die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) aan Rapport gesê.

“Die nuwe taakspan kan nie banke dwing om enigiets buite die FIS-wet – wat vereis dat ons verdagte transaksieverslae aan die FIS uitreik – te doen nie.”

Kliënte se persoonlike inligting sal te alle tye streng vertroulik gehou word, behalwe in gevalle waar daar gronde is vir ’n ondersoek.

Die FIS sê die samewerkingsmodel word reeds in verskeie lande gevolg.

Volgens die FIS word die inisiatief gesteun deur Suid-Afrika se vier grootste banke asook Capitec en Investec.

Daar is tans 22 ondertekenaars. Benewens die FIS en Basa het die omsigtigheidsowerheid van die Reserwebank en die sentrum vir bankrisiko van Suid-Afrika ook hul steun gegee.

Die FIS het aan Rapport gesê die taktiese operasionale groep sal voortdurend hersaamgestel word op grond van die sake wat voorkom en ondersoek sal word.

“Alle werksaamhede sal geskied binne die huidige wetlike en regulatoriese raamwerk,” sê die FIS.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.