Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Banke, hotelle, winkels daal op JSE ná vlak 4 kom

Die rand het Maandag verswak en veral aandele wat van die binnelandse mark afhanklik is, het sterk gedaal nadat die strengste inperking in ’n jaar aangekondig is om infeksies met die koronavirus in toom te hou.

Die Woolworths in die V&A Waterfront in Kaapstad ’n dag voordat die vlak 4-inperking verlede jaar begin het. Foto: Nellie Brand-Jonker

Veral banke, kleinhandelaars en hotelgroepe op die JSE se aandeelpryse het skerp gedaal weens die kommer oor die impak van die inperking en die derde vlaag van infeksies op hul verkope en bedrywighede. 

Sun International en Tsogo Sun Hotels het albei met byna 9% gedaal.

Brait, wat ’n belang in Virgin Active-gimnasiums hou, het met 6% gedaal.

Truworths en Massmart (wat Game en Makro besit) het elk met meer as 4% gedaal.

Die rand het van sy sluiting van R14,14 Vrydag tot R14,27 in ’n stadium Maandag verswak.

André Cilliers, valutastrateeg van TreasuryONE, sê dit volg op die strenger vlak van inperking wat vir die land ingestel is.

Siobhan Redford, ekonoom van RMB, sê die rand het nie noodwendig op die nuwe inperking gereageer nie, maar gegewe die omgewing van risikovermyding wat spruit uit die vrese oor die Delta-variant van die virus en die pandemie, gaan die geldeenheid vir die res van die week swakker neig.

Volgens haar het markte in die Ooste Maandagoggend betreklik gedemp verhandel met kommer oor die verspreiding van die Delta-variant, wat die optimisme oor die wêreldwye ekonomiese herstel oorheers.

“Hierdie kommer sal waarskynlik voortduur deur die plaaslike en Europese verhandeling, gegewe die plaaslike situasie en selfs kommer oor die verspreiding van die Delta-variant noordwaarts.”

Terselfdertyd is dit vandeesweek die einde van die tweede kwartaal en die eerste helfte van die jaar.

“Die uitbundigheid aan die begin van die jaar, versterk deur die goedkeuring van entstowwe vir gebruik, het effens afgeneem omdat dit duidelik is totdat alle lande in die wêreld nie ’n hoë vlak van inenting bereik het nie, gaan Covid-19 steeds ’n bedreiging vir gesondheidsorgstelsels en ’n gladde ekonomiese herstel inhou.”

Die rand en die Suid-Afrikaanse aandelebeurs was verlede week reeds onder druk namate infeksies al hoe hoër geklim het en vrese begin ontstaan het vir strenger inperkings.

Nedbank sê beleggersentiment het verlede week verswak weens die skerp toename in infeksies en die moontlikheid van strenger inperkings.

Anchor Capital sê die aandelemark het Vrydag reeds laer gesluit te midde van toenemende kommer oor die derde vlaag van infeksies in die land. Die JSE het op 66 215 gesluit. Dit het ’n bietjie van die vorige week se verliese omgekeer, maar die JSE se indeks van alle aandele was steeds 2% laer oor die afgelope vier weke.

Maandag was die JSE teen middagtyd 0,3% of 226 punte laer op 65 988.

Veral banke, kleinhandelaars en eiendomsgroepe het skerp gedaal. FirstRand het met 4% gedaal; Nedbank 3,8%; Woolworths 3,5%; Standard Bank 3,6%; Absa 3,3%; Bidvest 3,3%; Growthpoint 3%; Sanlam 3%; Remgro 3%; Old Mutual 2,3%; Discovery 2,8%; MTN 2,6% en Mr Price 2%,

Shoprite, Clicks en Capitec Bank en ook almal met meer as 1% gedaal.

’n Paar belangrike ekonomiese resultate word vandeesweek verwag, insluitende Dinsdag, wanneer die werkloosheidsyfers vir die eerste kwartaal en die Reserwebank se kwartaallikse bulletin uitgereik word oor die BBP-groei in die eerste kwartaal en hoe die verskillende sektore gevaar het. Woensdag word syfers oor kredietverlening aan die private sektor en die handelsbalans vir Mei uitgereik, terwyl die syfers oor Junie se produksie en bestellings Donderdag deur die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) uitgereik word. Die syfers oor die verkope van nuwe voertuie word ook Donderdag uitgereik.

Meer oor:  Remgro  |  Massmart  |  Sun International  |  Woolworths  |  Aandeelmark  |  Inperking  |  Aandele  |  Rand  |  Dollar  |  Ramptoestand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.