Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Banke, KPMG swyg oor Oakbay
Absa en ander banke wil nie sê waarom hulle hul bande met die Guptas verbreek het nie.

Banke en ouditeurs swyg steeds soos die graf oor waarom hul hul dienste aan die Guptas se Oakbay Investments en sy filiaal Oakbay Resources and Energy beëindig het, al vra al hoe meer mense of dit net oor reputasie gaan.

“FNB kan bevestig dat hy geen bankrekening vir Oakbay Investments het nie. Ons kan verder bevestig dat ons billike kennis gegee het om verskeie bankrekeninge te sluit van entiteite wat moontlik met Oakbay Investments verbind kan word. Weens die vertroulike aard van ons kliënteverhoudinge is FNB nie in die posisie om verdere inligting te verskaf nie,” het dié bank in ’n e-pos geantwoord.

Standard Bank het op sy beurt gesê hy “lewer nie kommentaar op sy verhoudings met kliënte of potensiële kliënte nie om die vertrouensverhoudinge met hulle te beskerm. As sodanig kan Standard Bank nie bevestig of ontken dat hy sakeverhoudinge of handelinge met Oakbay Investments het nie.”

Geen kommentaar is ontvang van Absa en KPMG nie. Absa het sy dienste aan Oakbay in Desember opgeskort en KPMG het vroeër die maand sy dienste as Oakbay Resources and Energy se ouditeur beëindig. Die feit dat FNB Oakbay se bankrekeninge gesluit het, het verlede week aan die lig gekom. Oakbay het ook aangekondig nog ’n bank sluit in Julie sy rekeninge en dit word alom aanvaar dat dit Standard Bank is.

Die Reserwebank het by monde van Bulelwa Boqwana, personeelhoof, op navraag slegs gesê die sentrale bank raak nie betrokke by geskille tussen banke en hul kliënte nie.

“Die Reserwebank is ’n omsigtige reguleerder en hou toesig oor die omsigtigheidsvereistes van handelsbanke. Die Reserwebank is nie in ’n posisie om betrokke te raak in die geskille tussen banke en hul kliënte nie. Markwangedrag en verbruikersdispute kan na die Nasionale Verbruikerskommissie of die bankombud verwys word.”

Bedankings

Daar word sedert Vrydag ook wyd en syd bespiegel oor hoekom die Guptas skielik uit hul besturende poste by Oakbay bedank het.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za, en Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep, meen dat daar iewers groot geraamtes in ’n kas is wat gaan uitkom as die rede vir die banke se boikot van dienste en die Guptas se skielike vertrek uit Suid-Afrika.

As Zuma beheer behou, is die kanse goed dat die Guptas kan terugkeer. Sou die druk egter op hom toeneem, dink ek dit is die einde van die Guptas.
Prof. André Duvenhage

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, sê een moontlikheid is dat hul vertrek ’n “taktiese posisionering” is gegewe die politieke gevegte wat aan die gang is. “As (pres. Jacob) Zuma beheer behou, is die kanse goed dat die Guptas kan terugkeer. Sou die druk egter op hom toeneem, dink ek dit is die einde van die Guptas.”

Die Gupta-broers Atul en Varun het nie “landuit gevlug” en “kruip nie weg nie”.

Aldus Nazeem Howa, uitvoerende hoof van Oakbay Investments, beheermaatskappy van Oakbay Resources uit wie se direksie die twee broers verlede week bedank het kort voordat hulle volgens Rapport sak en pak in ’n private straler Dubai toe is.

Howa was in ’n onderhoud met Bloomberg TV beslis: “Daar is geen bewyse van korrupsie teen die Guptas nie.”

Hy het die besluit deur vier Suid-Afrikaanse banke om einde Mei bande met Gupta-ondernemings te breek, as “ongehoord” bestempel.

Optimum-transaksie

Intussen het dieselfde straler Maandag in die vroeë oggendure na Indië gevlieg en naby die Guptas se tuisdorp, Saharanpur, in die noorde van dié land neergestryk, berig News24.

ExecuJet, aan wie die straler behoort, het nie op navrae gereageer oor die insittendes of hul bestemming nie.

Ajay en Atul Gupta. Foto: Gallo Images

Die DA stel dit prontuit die Guptas en Duduzane Zuma, seun van president Zuma, het uit Oakbay bedank om “die verkoop van die Optimum-steenkoolmyn deur Glencore aan Oakbay te fasiliteer.”

Hul bedanking is ’n “belediging vir die intelligensie van die mense van Suid-Afrika ... om daarop aanspraak te maak dat hulle dit vir hul werknemers se onthalwe gedoen het,” het James Lorimer, die DA-woordvoerder oor minerale bronne, beweer.

“Dit is ’n rookskerm om hul bates en winste te beskerm, niks meer nie.”

Volgens Lorimer kon die transaksie – Optimum skuld Investec, Rand Merchant Bank en Nedbank sowat R2,7 miljard – in gevaar gestel word en as Optimum se skuld in gevaar gestel word sou die Guptas, met beweringe van korrupsie teen hulle, aan die stuur van Oakbay aangebly het.

Die banke aan wie Glencore geld skuld het volgens Bloomberg Vrydag die groen lig gegee dat die transaksie kan voortgaan. Glencore het Maandag volstaan met ’n geen kommentaar.

Meer oor:  Kpmg  |  Standard Bank  |  Fnb  |  Absa  |  Guptas  |  Reserwebank  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.