Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Banke oor onteiening: ‘Ons leen nog, net versigtig’

Die land se banke sê hulle het nie die leningskraantjie begin toedraai uit vrees vir onteiening sonder vergoeding nie, maar gee toe daar is paniek.

Nedbank, Standard Bank en Absa moes die afgelope weke met die bekendstelling van resultate bontstaan vir vrae hieroor.

Maria Ramos, uitvoerende hoof van die Absa-groep.

Mike Brown, uitvoerende hoof van Nedbank, het prontuit gesê hulle is gekant teen ’n wysiging van art. 25 van die Grondwet en wil graag die parlement hieroor toespreek.

Absa se Maria Ramos het in ’n onderhoud met Talk Radio 702 gesê hul leningsboek bly stabiel en landbou bly ’n strategiese sektor vir die bank. Sy sê hoewel hulle grondhervorming ondersteun, het Absa ook voorleggings aan die parlement gedoen om te sê hulle reken die Grondwet maak reeds voorsiening vir onteiening sonder vergoeding in uitsonderlike gevalle.

“Ons moet maar wag en kyk wat die uitslag gaan wees. Miskien lei die proses tot beter insigte.”

Sy sê die huidige onsekerheid skep probleme vir almal.

Sim Tshabalala van Standard Bank het gesê hulle is nog glad nie paniekerig nie, maar soek so gou moontlik sekerheid oor die regering se planne.

Pierre Venter, bestuurder van menslike nedersettings by die Bankvereniging (Basa) wat al die groot banke verteenwoordig, sê die bedryf in die geheel het in ’n gesamentlike voorlegging aan die parlement gesê hulle glo ’n grondwetwysiging is onnodig.

Natuurlik is die sektor bekommerd, sê Venter. “Ons soek ’n billike oplossing.”

Sim Tshabalala, uitvoerende hoof van die Standard Bank-groep. Foto: Elvira Wood

Volgens hom het banke nie ophou leen nie, maar aansoeke vir aansienlike beleggings soos agri-verwerkingsaanlegte sal vertraag word. “Ons wag,” sê hy.

Prof. André Louw, ’n landbou-ekonoom van die Universiteit van Pretoria, sê aan Johan Eybers banke en die mark “trap nou water” weens die politieke uitsprake oor onteiening sonder vergoeding en die onsekerheid wat dit skep.

“Ek was verlede week op ’n kongres waar boere gekla het dat koopkontrakte nou skielik gekanselleer word. Almal is bang om die mark te betree en hulle is nie bereid om nou te belê nie. Hulle volg ’n wag-en-kyk-benadering. Banke is ook nou te bang om geld te leen weens al die onsekerheid wat hierdeur geskep word. Dit saai ongelooflike chaos in die mark en die ekonomie word hierdeur verlam,” sê hy.

Volgens Basa se statistieke is banke se blootstelling aan verbande meer as R1 600 miljard. Ongeveer R133 miljard van dié verbande is vir landbougrond, terwyl R1 068 miljard vir residensiële eiendomme geleen is.

Die groot handelsbanke se blootstelling aan landbou is ongeveer R80 miljard, koöperatiewe banke s’n R9,3 miljard en die Landbank s’n R38 miljard.

Dr. Litha Magingxa van die Landbank het vroeër in die parlement gesê sowat 90% van hul lenings is aan wit boere.

Banke is veral bekommerd omdat wetgewing hulle verplig om alle eiendomme teen markwaarde te waardeer.

Basa sê in hul parlementêre voorlegging die hele bankstelsel sal bedreig word deur onteiening sonder vergoeding.

“Baie bankkrisisse wêreldwyd het begin toe eiendomswaardes afgeneem en dit ’n impak gehad het op vertroue in die markte,” sê Venter.

Theo Boshoff, bestuurder van regsinligting by Agbiz, sê die skuld-tot-bate-verhouding in die landbousektor is uiters hoog en baie lenings word verseker deur verbande.

As die sekuriteit wegval, word dit ongesekureerde lenings.

Meer oor:  Nedbank  |  Absa  |  Standard Bank  |  Basa  |  Agri Sa  |  Mike Brown  |  Sim Tshabalala  |  Maria Ramos  |  Grondhervoming  |  Bankbedryf  |  Huisverband  |  Banke  |  Grondonteiening  |  Plase
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.