Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Banke soek ’n SAL-waarborg

Suid-Afrika se banke het die afgelope week ’n ysterklou in die grond geslaan en dring aan op ’n versekering van die regering dat hulle die miljarde rande wat hulle aan die SAL geleen het, gaan terugkry en dat dit nie in ’n likwidasie opgeslurp gaan word nie.

Die SAL se skuld aan banke is deur die regering gewaarborg. Mboweni het al in Februarie meer as R16 miljard begroot om dié verpligting na te kom.

Werknemers van die SAL moet intussen tevrede wees met ’n vae belofte dat die regering geld vir vrywillige skeidingspakkette sal “mobiliseer”. Ander skuldeisers weet ook nie wanneer die paar sent in die rand wat hulle moontlik gaan kry, aan hulle uitbetaal gaan word nie.

Die sakeredders, Les Matuson en Siviwe Dongwana, het Donderdag aangedui die voorwaarde dat die regering die SAL se sakeredding finansier, is nagekom, al het die ministers Pravin Gordhan (openbare ondernemings) en Tito Mboweni (finansies) bloot onderneem die regering sal die geld soek.

Mboweni het dit in hofstukke duidelik gemaak die bykomende meer as R10 miljard vir die “hergeboorte” van die SAL sal nie uit die staatskas kom nie. Hy het ’n belegging deur pensioenfondse as ’n moontlike bron genoem.

Die soektog het heel duidelik nog nie juis gevorder nie en geen sperdatum is gestel nie.

Die SAL se skuld aan banke is deur die regering gewaarborg. Mboweni het al in Februarie meer as R16 miljard begroot om dié verpligting na te kom.

Een van die voorwaardes vir die reddingsplan was ’n versekering van die regering voor 22 Julie dat hy die waarborge sal nakom en betalings sal maak “soos in die reddingsplan in die vooruitsig gestel word”.

Daarvolgens moet die regering teen 31 Julie R9,3 miljard aan die SAL betaal.

Dít bestaan uit R2 miljard se sakereddingsfinansiering en R3,8 miljard se vroeëre lenings deur Nedbank, Investec, FirstRand, Absa en Standard Bank aan die SAL, asook R3,5 miljard se reddingsfinansiering deur die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika. Dié geld moet teen 31 Augustus oorbetaal word.

Die banke moet teen 31 Augustus volgende jaar ’n verdere betaling van R3,8 miljard en ’n jaar later ’n finale R1,6 miljard van die regering kry.

Die banke is diep bekommerd oor die roete wat dié betalings gaan volg.

Vrees vir likwidasie-aansoek

Rapport verneem die oorspronklike ooreenkoms bepaal die regering moet sy betalings aan die SAL doen, wat dan sy finansiers sal betaal.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings. Foto: Gallo Images

As dít steeds die geval is, vrees die banke blykbaar ’n ander krediteur kan vinnig ’n likwidasie-aansoek bring en dat die geld dan in die likwidasieproses vasgevang kan word. Die banke wil die versekering hê dat hul geld in ’n bewaringstruktuur geplaas word waarvoor die reddingsplan voorsiening maak.

’n Ooreenkoms daaroor kon nie in onderhandelings bereik word wat tot laataand Donderdag geduur het of op ’n krediteurevergadering Vrydag nie.

Altesame 95% van die krediteure het ingestem om die spertyd tot môre uit te stel.

As die banke nie betyds tevrede gestel kan word nie, sal die krediteure weer Woensdag vergader. Die reddingsplan kan nie uitgevoer word sonder dat daar aan dié voorwaarde voldoen word nie en likwidasie raak ’n al hoe groter moontlikheid.

Onderhandelinge met vakbonde

Intussen gaan die sakeredders kragtens die Wet op Arbeidsverhoudinge met die afleggingsproses voort om die SAL se werkmag van 4 700 tot 1 000 te verminder. ’n Verdere 1 000 werknemers sal vir ’n jaar aan ’n opleidingsprogram deelneem.

In hul kennisgewing aan vakbonde sê die sakeredders hulle hoop die afleggings sal teen 17 September afgehandel wees. Hulle het die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gevra om die konsultasies te fasiliteer.

Dit gaan egter nie so vinnig en maklik gebeur nie, sê Derek Mans, Solidariteit se verteenwoordiger in die lugvaartbedryf.

Die KVBA is eers op 11 Augustus die eerste keer betrek en die wet maak voorsiening vir 60 dae van oorlegpleging, wat beteken die proses kan eers in Oktober afgehandel wees. Boonop probeer die sakeredders om as deel van die proses nuwe diensvoorwaardes aan die oorblywende werkers op te dwing. Dít sluit ’n skerp vermindering van salarisse in.

As die werknemers dit nie aanvaar nie, sê die sakeredders, sal hulle bloot almal in die pad steek en van voor personeel aanstel. Dít sal waarskynlik chaos veroorsaak, omdat die sakeredders reeds met die vakbonde ooreengekom het om 2 000 werkers te behou.

Volgens Mans bepaal die arbeidswetgewing nuwe diensvoorwaardes mag nie tydens ’n herskikking-en-afleggingsproses deurgevoer word nie. Hy sê diensvoorwaardes is gegrond op bestaande ooreenkomste met vakbonde en dit sal eers weer onderhandel moet word voordat die SAL aan salarisse of ander voordele kan raak.

Chris Jacobs, direkteur van die konsultantgroep OIM Internasionaal, stem daarmee saam. Hy sê omdat die “ou” SAL en die “nuwe” een dieselfde regspersoon is, mag nuwe diensvoorwaardes nie eensydig deurgevoer word nie. Die sakeredders sal volgens hom eenvoudig met die vakbonde daaroor moet onderhandel.

Dit kan nog groot gevegte afgee, want sommige vakbonde het onrealistiese verwagtinge, terwyl die wêreldekonomie en veral die lugvaartbedryf in ’n ongekende krisis is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.