Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Bankrot reisagentskap sluit sy deure oornag
STA Travel is bankrot en sluit sy deure.

STA Travel, ’n internasionale reisagentskap met 20 takke in Suid-Afrika, is bankrot en moes noodgedwonge sy deure sluit.

Diethelm Keller Holding, STA Travel se moedermaatskappy, sê in ’n verklaring die sluiting van al sy takke wêreldwyd is ’n regstreekse gevolg van die koronavirus-pandemie wat die vraag na internasionale reise so te sê laat opdroog het.

Al 50 van STA Travel se takke in Brittanje is ook onmiddellik gesluit. Hy bedryf sowat 200 takke oor die wêreld heen en het sowat 2 000 mense in sy diens. 

Sy takke in Suid-Afrika was Vrydag nog in bedryf, maar het nie Maandag oopgemaak nie nadat die maatskappy oor die naweek besluit het om die handdoek in te gooi.

Op sy Facebook-blad sê STA Travel in Suid-Afrika hy het met onmiddellike effek opgehou sake doen.

“Daarom is ons reisagente ongelukkig nie beskikbaar om enigiemand by te staan nie,” sê die agentskap.

Persone met ’n aktiewe bespreking vir ’n reis wat tans aan die gang is, of in die nabye toekoms “sal binne die volgende paar dae gekontak word”.

“Ons is jammer vir die ongerief en die beperkte inligting wat tans beskikbaar is.”

STA Travel het tot dusver nie gereageer op talle kliënte se bekommerde boodskappe wat wil weet of hulle ’n terugbetaling gaan ontvang nie.

Een persoon skryf hy was veronderstel om in hierdie tyd na Thailand te reis, maar kon nie weens die staat van inperking.

STA Travel het glo belowe hy sou ’n terugbetaling in die vorm van ’n koopbewys ontvang, maar nie kontant nie.

“Dit was reeds twee maande gelede, wat staan my te doen?”

Ander reisigers het ’n soortgelyke ervaring gehad en sê hulle wag steeds op hierdie “koopbewyse”.

Die agentskap het tot so onlangs soos verlede week nog reise na Bangkok en Mosambiek vir 2021 te koop aangebied.

STA Travel se plaaslike webwerf is reeds van lyn af en toon nou net dieselfde boodskap as wat hy op sy sosiale blaaie gedeel het.

Die webwerf noem ook dat STA Travel insolvent is.

STA Travel is in 1971 in Australië as Student Travel Australia begin. Dit is later as die Student Travel Association bekend gestaan, maar steeds met ’n sterk fokus op bekostigbare reispakkette vir jong mense.

“Die onderneming het in die laaste paar maande daadwerklike stappe gedoen om sy volhoubaarheid tot ná Covid-19 te verseker,” het STA Travel se filiaal in Brittanje aan die BBC gesê.

“Verkope het egter nie opgetel soos verwag nie omdat verbruikers nog onseker is en ook omdat verdere reisbeperkings waarskynlik tot 2021 gaan voortduur.”

Flight Centre het ook vroeg in die inperkingstyd aangekondig dat hy weens die krimpende vraag na internasionale reise verskeie van sy takke gaan sluit en personeel sal aflê.

Meer oor:  Werksverliese  |  Bankrotskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.