Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Barloworld: Myn-masjiene loop soos stroop
Mynvragamotors van Caterpillar wat deur Barloworld se afdeling Equipment Russia verkoop word aan myne in Siberië.Foto: Barloworld

Mense huur minder motors, maar mynboumasjinerie verkoop soos soetkoek, blyk uit die gediversifiseerde nywerheidsgroep Barloworld se jongste resultate.

Barloworld se motorhuurafdeling se bedryfswins het in die halfjaar tot einde Maart met 6,6% tot R281 miljoen gekrimp.

Barloworld, wat die motorverhuringsmaatskappye Avis en Budget by lughawens bedryf, sê die motorhuurmark is aan die daal. Die hele bedryf was in 2018 reeds aan die inkrimp, en die aantal dae waarvoor motors verhuur is het in die oorsigtydperk verder met 2% gekrimp.

Barloworld sê hulle kon ondanks die afname in huurdae tog die huurkoers per dag verhoog, en die koste om motorverhuringsvlote te bestuur is in toom gehou.

Die koste om die skade te herstel wat nalatige motorverhuurders aan hul huurmotors aanrig, was minder as die vorige jaar.

Barloworld is ook betrokke in motorhandel, deur sy agentskappe vir Toyota, Audi, BMW, Volkswagen, Ford, Mazda en Mercedes-Benz. Die mark vir sowel nuwe voertuie as tweedehandse voertuie is egter gedemp. Die motorafdeling se omset het met 7,7% tot R14,188 miljard gedaal, en sy bedryfswins het met net 0,2% of R2 miljoen tot R885 miljoen gegroei.

Barloworld sê mense koop minder nuwe motors, en as hulle koop, skuif hulle na goedkoper modelle.

Maar Barloworld se toerustingafdeling, wat Caterpillar konstruksie- en mynboumasjinerie verkoop, het ’n sterk prestasie behaal. Die verkoop van mynboumasjinerie het meer as verdubbel met 121,9%, grootliks danksy aflewerings van groot opppervlak- en ondergrondse mynboumasjinerie aan Mosambiek, Zambië en in Suid-Afrika self.

Ondanks die erge insinking in die konstruksiebedryf oor die afgelope halfjaar met ’n paar groot konstruksiemaatskappye wat in sakeredding gegaan het, het Barloworld se konstruksieafdeling sy verkope met 8,1% verhoog. Die groep verduidelik dit is weens ’n groei in markaandeel danksy nuwe produkte en mededingende finansiering wat hy kon aanbied via Caterpillar Finance.

Barloworld het ’n tussentydse dividend van R1,65 per aandeel verklaar, wat 13,8% meer is as die R1,45 van ’n jaar gelede.

Barloworld verkoop Caterpillar mynboumasjinerie in Rusland via sy afdeling Equipment Russia. Dié afdeling se omset was 22,7% laer op $229,3 miljoen, maar dit is omdat daar verlede jaar groot pakketafdelings vir myne was wat nie in die afgelope halfjaar herhaal is nie. Die bedryfswins was 9,4% laer op $22,3 miljoen, maar Barloworld is optimisties oor volgehoue stewige mynboubedrywighede in Rusland en stabiele kommoditeitspryse in veral die goudsektor wat belofte inhou vir die toekoms.

Engineering News berig Barloworld stel belang om ’n toerustinghandelaar in Mongolië te koop. Dominic Sewela, uitvoerende hoof van Barloworld, sê hulle het met onderhandelinge begin met Wagner Asia Group, ’n toerustinghandelaar wat in Mongolië gebaseer is.

Mongolië het groot steenkool-, goud- en kopermyne.

Meer oor:  Barloworld  |  Mynwese
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.