Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
BAT hof toe oor verlengde verbod oor sigarette

Die tabakfirma British American Tobacco South Africa (Batsa) het Vrydag ’n dringende hofsaak gebring teen die regering se besluit om die verbod op sigaretverkope onder vlak 3 van die inperking toe te pas.

Die regering het glad nie met die land se grootste sigaretvervaardiger gekonsulteer nie, sê British American Tobacco.

Batsa word in die hofsaak ondersteun deur Japan Tobacco International (JTI) asook ander groepe en organisasies wat in die waardeketting van die tabakbedryf in die land betrokke is, insluitend verbruikers, boere en kleinhandelaars.

“Batsa het elke poging aangewend om konstruktief met die regering te skakel sedert die verbod in werking getree het, en het gedetailleerde voorleggings gemaak, onder meer aan verskillende ministers, en direk aan die presidensie.”

“Tot op hede is geen formele reaksie van die regering ontvang nie, en Batsa is ook nie in enige van die regering se konsultasieprosesse tot dusver ingesluit nie.”

Die groep sê sy argument is van die begin af dat die verbod op ’n wettige produk tot gevolg gaan hê dat miljoene rokers hulle na die onwettige mark gaan keer en dat die regering ontneem word van broodnodige belasting.

“Dit bedreig duisende werksgeleenthede, verswak ook regulasies oor tabakbeheer en moedig misdaad aan.”

Volgens die maatskappy is dié siening ondersteun deur onafhanklike ontleding en studies, van onder meer die Universiteit van Kaapstad se navorsingseenheid oor die ekonomie van aksynspligtige produkte (Reep).

“Die tesourie verloor tans R35 miljoen elke dag in inkomste uit aksyns,” sê Johnny Moloto, hoof van eksterne sake van Batsa.

Moloto sê verbruikers sal alles wat beperk was onder vlak 4 en 5 basies weer in vlak 3 kan koop.

“Ons het altyd ons ondersteuning verklaar vir die regering wat die land in inperking geplaas het om tyd te kry om die openbare gesondheidsektor voor te berei vir die verwagte styging in infeksies.”

Pres. Cyril Ramaphosa het 13 Mei gesê die inperking het die doel bereik en die regering sal in konsultasies gaan om die land voor te berei vir die verslapping van beperkinge.

“Die regering het egter besluit om tabakprodukte te verban onder die dekmantel dat dit die verspreiding van Covid-19 gaan beperk, maar ander verbruikersprodukte wat verban was, is toegelaat om weer verkoop te word.”

Volgens hom het Batsa besluit om die dringende hofsaak te bring gegewe geen reaksie van die regering gekry is ten spyte van die voortgesette pogings om met hulle te skakel nie.

“Die voortgesette verbod op wettige tabakverkope bedreig die oorlewing van die wettige tabaksektor en die lewensbestaan wat dit ondersteun.

“Dit het net tot gevolg gehad dat ’n reuse- en nasionale onwettige bedryf wesenlik gegroei het, tot nadeel van wetsgehoorsame ondernemings en belastingbetalers.”

Moloto sê Batsa is die grootste vervaardiger van tabakprodukte in die land en skuld dit aan sy verbruikers, verskaffers en personeel om alles in sy vermoë te doen om die wettige tabakhandel in die land te beskerm.

Meer oor:  British American Tobacco  |  Bat  |  Batsa  |  Covid-19  |  Tabakbedryf  |  Sigarette  |  Tabak  |  Staat Van Inperking  |  Sigaretverkope  |  Koronavirus  |  Vlak 3  |  Tabakverbod  |  Sigaretverbod  |  Vlak 4  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.