Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
BAT verbreek stilte oor verbod op sigarette

Die Suid-Afrikaanse filiaal van die internasionale tabakgroep British American Tobacco (BAT) het in ’n verklaring sy stilte oor die verbod op die verkoop van sigarette in Suid-Afrika gedurende die inperking verbreek.

BAT vervaardig ook sigarette in Suid-Afrika maar mag nie tans dit doen nie omdat dit nie 'n noodsaaklike bedryf is nie. Foto: Suzanne Plunkett, Bloomberg

’n Beroep is op die regering gedoen om die verkoop van sigarette toe te laat aan mense wat noodsaaklike goedere koop.

Die maatskappy sê hy ondersteun die beslissende maatreëls wat die regering neem om die oordrag van die koronavirus te onderdruk. Die maatreëls is nodig om die potensieel verwoestende menslike en ekonomiese koste van die pandemie te beperk.

“Die verbod op die verkoop van sigarette onder die regulasies wat uitgevaardig is vir die inperking sal egter verskeie onbedoelde gevolge hê,” sê BAT in sy verklaring.

“Eerstens sal dit 11 miljoen rokers dwing om buite hul woonbuurte te gaan soek na winkels wat bereid is om die verbod te verbreek, soos ons in mediaberigte lees. Dit gaan tot ’n groter beweging van mense lei en meer interaksie as wat sou gebeur het as ’n roker sy sigarette by sy naaste wettige winkel kon koop terwyl hy ook ander noodsaaklike goedere koop.”

BAT glo die regering se besluit om sigarette te verban gaan ook die onbedoelde gevolg hê dat onwettige handel in tabak toeneem omdat “dit hoogs waarskynlik is” dat rokers onwettige produkte op die swartmark gaan koop.

“Dit sal ongelukkig wees omdat die regering die afgelope maande groot vordering daarmee gemaak het om onwettige tabakhandel te bekamp.”

Die regering kry groot belasting uit wettige sigarette, maar niks uit onwettige sigarette nie.

Intussen mag spazawinkels nou ook noodsaaklike goedere verkoop.

“Ons het aan die regering aanbeveel dat rokers toegelaat word om sigarette te koop wanneer hulle noodsaaklike goedere koop – hetsy dit by ’n supermark, kruidenierswinkel, petrolstasiewinkel of ’n spazawinkel is,” lui die verklaring.

“Ons doen ’n beroep op die regering om die verbod op die verkoop van sigarette op te hef en dit toe te laat saam noodsaaklike goedere wat gekoop word.”

BAT is ook baie bekommerd oor die besluit om die invoerbeperkings op nienoodsaaklike goedere op te hef terwyl plaaslike vervaardiging van sigarette verbied word.

“Deur vrag van buite Suid-Afrika se grense toe te laat word die deur geopen vir die smokkelary van onwettige tabak. Dit is een van die kanale waardeur onwettige sigarette die mark bereik.”

Die maatskappy glo dit gaan daartoe lei dat plaaslike sigaretvervaardigers benadeel word en onwettige invoer bevorder word.

Meer oor:  British American Tobacco  |  Batsa  |  Covid-19  |  Korona  |  Virus  |  Inperking  |  Rook  |  Sigarette
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.