Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
S&P meer negatief oor impak van onluste

Die internasionale kredietgraderingsagentskap S&P Global Ratings verwag die onlangse onluste kan tot 0,7 persentasiepunt van vanjaar se verwagte ekonomiese groei uitwis.

Vermeende plunderaars in Durban laai hul buit in ’n motor. Foto: Gallo Images

Nema Ramkhelawan-Bhana, hoof van RMB Global Markets, sê S&P is meer negatief oor die impak van die onluste as sy eweknieë Fitch en Moody’s.

LEES OOK: Gradering: Onluste ontstig Fitch en kie nie veel

Fitch en Moody’s het hul mees onlangste vooruitsig vir groei in die bruto binnelandse produk (BBP) vanjaar dieselfde gehou.

“Daar word geraam dat die onluste waarskynlik ongeveer 0,7 persentasiepunt sal uitwis van die BBP-groei in 2021, dat dit private verbruik sal beïnvloed en die tempo van ekonomiese herstel sal vertraag,” sê Omega Collocott, Samira Mensah en Trevor Barsdorf, S&P se ontleders in Johannesburg.

Hulle glo egter dat sterk hulpbronpryse en die basiseffek van die inkrimping in die BBP in 2020 steeds vanjaar se BBP-groei sal ondersteun.

Suid-Afrika se ekonomie het in 2020 met 7% gekrimp – die skerpste daling sedert die resessie van 2009.

Tans verwag S&P die ekonomie gaan vanjaar met 4,2% groei voordat dit in 2022 tot 2,6% en tot gemiddeld sowat 1,5% in 2023 en 2024 sal verlangsaam.

S&P glo hoewel orde herstel is, gaan die skade aan dele van die land se kleinhandel- en finansiële infrastruktuur, die ekonomie, verbruikers- en beleggersvertroue langer neem om te herstel.

Die onluste het nie Suid-Afrika se kredietgradering beïnvloed nie.

“Ten opsigte van die land se kredietwaardigheid beklemtoon die onluste die institusionele swakhede en dit sal groei belemmer, maar 2020 se lae basis en die sterk hulpbronpryse sal voortgaan om BBP-groei vanjaar te ondersteun, hoewel strukturele en fiskale druk voortduur.”

Ten opsigte van maatskappye word ook nie ’n onmiddellike verandering in gradering verwag nie. “Maar die verswakking in maatskappye se kredietgehalte in die komende paar jaar word nie uitgesluit nie. As die onluste herhaal word of uitgerek word, kan dit ’n risiko vir die gradering meebring.”

Die impak op versekeraars gaan betreklik klein wees omdat hul polisse nie politieke onluste dek nie, maar dit kan inkomstegroei op langer termyn beperk.

Vir banke is die bedryfsrisiko algemeen hanteerbaar ten spyte van die skade aan banktakke en kitsbanke.

Volle impak nog nie duidelik

Carmen Nel, ekonoom en makrostrateeg van Matrix Fund Managers, sê met meer kalmte ná die onlangse onluste werk ontleders hard om te bepaal wat die impak daarvan op die ekonomie gaan wees.

“Tot dusver word die skade vir ekonomiese groei op tussen 0,5 persentasiepunt en 1 persentasiepunt geraam.”

Sy sê die impak wat dit op die mark gehad het, toon nie die erns van die onluste nie.

“Hoewel daar ’n impak was op die rand en staatseffekte, was dit beperk. Dit toon waarskynlik twee dinge, naamlik dat internasionale toestande geneig is om die impak op die plaaslike mark te oorheers en tweedens dat Suid-Afrikaanse bates reeds ’n aansienlike premie vir die risiko aan beleggers bied.”

Sy maan egter dit beteken nie die markte gaan geen reaksie hê op ’n moontlike hervatting van onluste nie. “Die onlangse gebeure het egter nie die voordeel van hoë hulpbronpryse teengewerk nie.”

Nel verwag die impak op die ekonomie gaan wesenlik wees. Dit is egter moeilik om tans presiese syfers te gee te midde van die beperkte beskikbare inligting.

“Daarbenewens moet die uitkringeffek ook oorweeg word.”

Sy glo die onluste kan ’n negatiewe impak op die land se kredietgradering hê. “As die potensiële negatiewe dinamika van die onluste nie gou in bedwang gebring word nie, gaan Suid-Afrika se gradering waarskynlik verder daal.”

Ramkhelawan-Bhana sê Suid-Afrika se fiskale gesondheid is altyd ’n groot bron van kommer vir graderingsagentskappe.

“Hoewel die inkomste van die regering tot dusver vanjaar positief lyk, gaan die onlangse loonooreenkoms vir staatsamptenare, die verlenging van Covid-19-ondersteuning en nuwe hulp aan ondernemings, slim voetwerk kos van die nasionale tesourie om die impak daarvan op die begroting neutraal te hou.”

Meer oor:  Durban  |  Onluste  |  Bbp  |  S&P  |  Gauteng
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.