Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Bedrog maak dié kontrakte ongedaan – Mr. Tekkie

Die kans is goed dat die kooptransaksie tussen Steinhoff en Tekkie Town tersyde gestel gaan word weens Steinhoff se beweerde bedrog en daarom kan ’n handelsbeperking nie aan hulle opgedwing word nie.

Ben la Grange, voormalige finansiële hoof van Steinhoff, het einde Augustus in die parlement getuig dat die oordrywing van die maatskappy se wins jare gelede al begin het. Dié getuienis versterk nou die Mr. Tekkie-stigters se saak, glo hulle. Foto: Jaco Marais

So voer Braam van Huyssteen en kie aan in die saak wat die Steinhoff-filiaal Pepkor teen hulle aanhangig gemaak het om die handelsbeperkings in hul dienskontrakte op te dwing om te keer dat hulle ’n nuwe skoenwinkelgroep – Mr. Tekkie – open.

Pepkor se dringende aansoek sou Woensdag aangehoor geword het, maar is tot 30 Oktober vir verhoor uitgestel nadat die partye op ’n nuwe tydrooster ooreengekom het.

Pepkor wil keer dat Van Huyssteen en Bernard Mostert, David van Niekerk, Michael Brown en Gert Claassens, wat tot onlangs vir Pepkor gewerk het, die nuwe skoenwinkel open. Pepkor voer aan die vyf se dienskontrakte bevat ’n klousule wat hulle verbied om drie jaar nadat hulle daar weg is, vir ’n soortgelyke of mededingende winkel te werk.

Van Huysteen het Tekkie Town begin en dit later aan Steinhoff verkoop. Dit was in die stal van Steinhoff Retail Africa, wat intussen tot Pepkor hernoem is. Hy het tot vroeër die jaar vir Pepkor gewerk totdat verhoudinge versuur het en hy daar weg is. Die ander het ook later bedank. Hulle beplan om die eerste Mr. Tekkie later vandeesmaand te open.

Van Huyssteen-hulle verwys in hul verweer na die saak wat hulle vroeër vanjaar teen Steinhoff aanhangig gemaak het om die koop van Tekkie Town tersyde te laat stel.

As Tekkie Town aan hulle teruggegee word, is daar geen geldige rede vir die handelsbeperking nie, voer hulle aan.

Lees ook: Nuwe Pepkor-interdik is ‘nog ’n vloermoer’

In dié saak voer hulle onder meer aan dat Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, in die onderhandelinge met hulle doelbewus in gebreke gebly het om die wesenlike finansiële ongerymdhede met die maatskappy se boeke te openbaar.

Hulle verwys nou na die onlangse getuienis van Ben la Grange, voormalige finansiële hoof van Steinhoff, in die parlement dat die oordrywing van die maatskappy se wins jare gelede al begin het. Die volledige transkripsie van sy getuienis is by die hofstukke aangeheg.

Hulle verwys ook na die deel van sy getuienis dat Jooste hom en die hoof van die ouditkomitee oortuig het om “klein ouditfirmas” vir sekere dele van die maatskappy te gebruik. Dit het die afgelope maande aan die lig gekom dat dié ouditfirmas verantwoordelik was vir dele van die onderneming waar daar na bewering van die grootste probleme met die boeke bestaan.

Dié logo pryk op die Facebook-blad van die nuwe Mr. Tekkie.

“In die lig van wat La Grange gesê het, voer die respondente aan dit is waarskynlik die voormalige aandeelhouers gaan uiteindelik daarin slaag om die Tekkie Town-onderneming terug te eis.”

Hulle voer ook aan die handelsbeperking is vaag en dit is nie van krag nie.

Pepkor het die aansoek aanhangig gemaak nadat hy e-posse herwin het wat Van Huyssteen-hulle by ’n beweerde komplot betrek om die maatskappy se aandeelprys af te druk.

Van Huyssteen-hulle voer in hul verweer aan baie van die inligting wat Pepkor ingedien het in sy hofaansoek is “onwettig bekom” en vra dat dié getuienis geskrap word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.