Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Beleggers dagvaar Steinhoff, dalk ook Deloitte
Christo Wiese Woensdag in die parlement. Foto: Nellie Brand-Jonker

’n Groep beleggers het aangekondig hulle het Vrydag ’n groepgeding teen Steinhoff International in Nederland aanhangig gemaak.

’n Dagvaarding is Vrydag aan die maatskappy bestel om skadevergoeding te eis weens die gedrag van die maatskappy en direkteure wat tot verliese vir beleggers gely het.

Die groepgeding word deur die Vereniging van Effectenbezitters (VEB) aanhangig gemaak. Dit is ’n Nederlandse vereniging vir beleggers wat al in 1924 opgerig is.

’n Tweede groepgeding word beoog deur BarentsKrans, wat as een van Europa se voorste groepgedingfirmas beskryf word. Hy het met regstappe teen Steinhoff begin en wil sy ouditeure, Deloitte, ook aanspreeklik hou.

“Steinhoff-aandeelhouers is jare lank mislei oor die ware finansiële posisie van die maatskappy en belangrike inligting is van die mark weerhou. Die gevolglike verliese wat aandeelhouers gely het, is reusagtig en hulle is geregtig op vergoeding,” sê Martin Hyde, direkteur van Claims Funding Europe. Dié groep gaan die BarentsKrans-groepsgeding finansier.

As gevolg van die wanvoorstelling van inligting het aandeelhouers aandele in die maatskappy bekom teen ’n te hoë prys en het hulle verliese gely.

Die VEB sê hy sluit ook nie die moontlikheid uit dat Deloitte en die direkteure wat nou bedank het op die bestuurs- en toesighoudende direksies, ook gedagvaar gaan word nie.

Die VEB hou Steinhoff verantwoordelik vir miljarde euro se verliese wat beleggers gely het.

Die VEB sê die saak word aanhangig gemaak omdat Steinhoff verkeerde en misleidende inligting in twee van sy jaarstate (2015 en 2016) en in verskeie nuusverklarings oor die maatskappy verskaf het.

“Boonop het Steinhoff ook onregmatig volgehou dat die inligting korrek is.

“As gevolg van die wanvoorstelling van inligting het aandeelhouers aandele in die maatskappy bekom teen ’n te hoë prys en het hulle verliese gely.”

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff.

Nadat die nuus oor boekhoudingsongerymdhede in Desember aan die lig gekom het ten opsigte van 6 miljard se bates, het die aandeelprys met bykans 90% geval.

Waarom Nederland?

Die groepgeding is in Nederland aanhangig gemaak omdat sy geregistreerde kantoor in Amsterdam is.

Die VEB het die hof versoek om te verklaar dat Steinhoff verkeerde en misleidende verklarings in die 2015- en 2016- finansiële state gemaak het, asook in die prospektusse wat uitgereik is in die aanloop tot die notering in Frankfurt op 7 Desember 2015 en in verskeie nuusverklarings.

BarentsKrans sê sy eis gaan ook in Nederland ingedien word en aandeelhouers van oor die wêreld heen kan deelneem as hulle tussen 26 Junie 2013 en 6 Desember 2017 aandele gehou het.

Claims Funding Europe, die finansiers, is ’n gesamentlike onderneming wat in 2012 deur Maurice Blackburn Lawyers van Australië en International Litigation Funding Partners van Singapoer begin is.

Benewens die eis teen Steinhoff, toon huidige ondersoeke daar is gronde om Deloitte ook as verweerder in te sluit. Deloitte was baie jare lank verantwoordelik vir die oudit van Steinhoff en sy voorganger se finansiële state.

Claims Funding Europe finansier tans van die wêreld se grootste groepsgedinge.

“Benewens die eis teen Steinhoff, toon huidige ondersoeke daar is gronde om Deloitte ook as verweerder in te sluit.

“Deloitte was baie jare lank verantwoordelik vir die oudit van Steinhoff en sy voorganger se finansiële state,” sê Hyde.

Jan-Willem de Jong, ’n prokureur van BarentsKrans, sê: “Die mark was heeltemal verras, soos gesien kan word in die skerp daling in sy aandeelprys. Dit is duidelik dat beleggers wesenlik skade gely het.”

Armand Kersten van die VEB sê hulle verteenwoordig ’n redelike aantal beleggers, maar mag nog nie hul name bekend maak nie. Die saak kom op 14 Februarie in die Amsterdamse distrikshof voor.

Steve Booysen, hoof van die direksie van Steinhoff se ouditkomitee, het dié week by die Valke ’n bedrogklag teen Markus Jooste ingedien. Hy het in Desember as uitvoerende hoof bedank toe die ongerymdhede aan die mark aangekondig is.

Parlementslede het dié week gehoor Jooste wou nie in Desember aan die ouditkomitee die ongerymdhede kom verduidelik nie en het per SMS bedank.

Steinhoff het in Desember aangekondig die finansiële state van 2016 moet heropgestel word. Begin Januarie het die maatskappy ook aangekondig beleggers kan nie meer op die 2015-jaarstate staatmaak nie.

Die VEB en BarentsKrans het op hul webwerwe meer inligting vir beleggers wat aan die groepsgedinge wil deelneem. Hul webwerwe is:

Meer oor:  Steinhoff  |  Deloitte  |  Veb  |  Vereniging Van Effectenbezitters  |  Markus Jooste  |  Beleggers  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.