Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Beleggers kou naels in aanloop tot ANC-kongres’
Francois Gouws, uitvoerende hoof van PSG Konsult.

Beleggers is bitter onseker in die aanloop tot die ANC se verkiesingskongres in Desember, sê Francois Gouws, uitvoerende hoof van PSG Konsult.

Gouws het met die bekendmaking van die bate- en welvaartbestuurder se resultate vir die ses maande tot einde Augustus gesê die wisselvallige rand maak beleggers redelik gespanne.

“Diegene wat nie reeds geld in die buiteland het nie, wonder of hulle voor die verkiesing in Desember oorsee moet belê, want afhangende van watter kandidaat wen, kan die rand versterk of verswak.”

PSG Konsult se boodskap aan beleggers bly egter om na die lang termyn te kyk en hul bates te diversifiseer.

Baie beleggers het geld oorsee geneem ná Nenegate in Desember 2015, toe pres. Jacob Zuma uit die bloute vir Nhlanhla Nene as minister van finansies afgedank het en die rand skerp verswak het.

Maar die versterking van die rand die afgelope jaar het vir dié beleggers baie kopsorge gegee.

Gouws sê gelukkig het die oorsese markte nie sleg gevaar nie, wat die impak van die sterker rand vir beleggers versag het.

Hy sê PSG Konsult se mededingende voordeel is dat hy so baie finansiële adviseurs het. “Mense wil in hierdie onseker tye met adviseurs praat.”

PSG Konsult se bates onder bestuur het in die ses maande stewig met 16% tot R193 miljard gestyg.

Gouws sê dis ’n goeie prestasie in die lig van die JSE se enkelsyfergroei oor dié tydperk.

Die bates onder bestuur sluit in die 10%-groei in kliënte se geld by PSG Wealth tot R157 miljard. Die onderneming het ’n netto invloei van R5 miljard van beleggers gekry.

“As ons dit vergelyk met die ander groot rolspelers, is dit goed om invloei van dié omvang in hierdie soort mark te kry. Ons is redelik gelukkig daarmee.”

Die styging in bates onder bestuur het sy adviesonderneming gehelp om sy wesensverdienste met 7% tot bykans R149,9 miljoen te verhoog.

PSG Insure se wesensverdienste het met 23% tot R32,5 miljoen gestyg.

PSG Asset Management se wesensverdienste het met 20% tot R56,8 miljoen gestyg. Asset Management se bates onder bestuur het met 10% tot R36 miljard toegeneem. Dit sluit in netto invloei van R2,8 miljard.

In geheel het sy herhalende wesensverdienste met 12% tot R239,2 miljoen gestyg.

Sy dividend is met 12% tot 5,7c per aandeel verhoog.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.