Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Bemark SA as nr. 1-plek vir ingeënte toeriste’

Die gasvryheidsbedryf brand om Suid-Afrika te bemark as ’n prima bestemming vir oorsese toeriste wat ingeënt is teen die virus wat Covid-19 veroorsaak.

sun international
Sun International se casino-kompleks in Gqeberha (voorheen Port Elizabeth).

Anthony Leeming, uitvoerende hoof van die hotel-en-casino-groep Sun International, sê Suid-Afrika het die unieke geleentheid om die land te bemark as die ideale bestemming vir internasionale toeriste wat kan bewys dat hulle ingeënt is. Die land se natuurskoon en geleenthede vir buitelug-bedrywighede maak dit ’n baie veiliger bestemming as byvoorbeeld New York, Londen of Parys.

Hy sê die gasvryheids- en toerismebedryf is wel in gesprek met die regering om so iets te bewerkstellig, maar dit lyk nie asof daar enige dringendheid is om dit in werking te stel nie.

Leeming het met Netwerk24 gesels met die uitreiking van die groep se resultate vir die boekjaar tot einde Desember, wat toon dat die groep se inkomste met 49% tot R6,1 miljard gedaal het weens die inperkings en die feit dat internasionale toeriste steeds nie die land besoek nie.

Netwerk24 het Leeming se opinie gevra oor die regering se hantering van die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperkings, noudat die eerste jaar van die pandemie en die invloed daarvan duidelik is. Sy grootste punt van kritiek is dat genoeg inligting nie gereeld genoeg deurgegee is sodat ondernemings ingeligte besluite kon neem nie. “Daar moes weeklikse inligtingsessies gewees het.”

Leeming is wel uiters uitgesproke oor die trae pas van inentings. “Baie meer kon baie gouer gedoen gewees het. Ons is ver agter, en ons moet voor wees.”

Net deur inentings kan die land die omvang en erns van ’n gevreesde derde vlaag infeksies verminder en verseker dat streng inperkings, wat ondernemings seermaak, nie weer nodig is nie.

Intussen meen Leeming die veranderinge wat die pandemie meegebring het, is nie almal permanent nie. Instansies begin weer stadigaan navraag doen oor konferensies, maar vir eers word dit klein gehou. Maar: “Mense is moeg van virtuele konferensies. Hulle sukkel om lang tye op Teams of Zoom te fokus.”

Leeming meen groot konferensies sal eers weer in 2022 plaasvind en daar sal wel nog mense wees wat nie internasionaal daarvoor wil reis nie en dit aanlyn sal wil volg.

2022 is om die waarheid te sê vir Leeming soos die lig aan die einde van die lang Covid-19-tonnel, die jaar waarin hy dink reis vir vermaak en sakedoeleindes weer goed op dreef sal kom. Ná ’n uiters moeilike jaar vir die gasvryheidsbedryf in 2020 verwag Sun ’n tam, hoewel ietwat beter, 2021.

Ondanks die moeilike jaar wat Sun International agter die blad het, is Leeming optimisties dat die groep die jaar as ’n baie sterker, leniger groep ingaan. Hy is vol vertroue dat hulle verdere inperkings sal kan deurstaan.

Sun International het reeds voor die aanvang van die pandemie met herstrukturering begin waardeur mense afgelê is; die pandemie het die proses effens langer laat duur.

Meer oor die groep se resultate

In syfers
  • Inkomste daal met 49% tot R6,1 miljard
  • Verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings daal met 72% tot R897 miljoen
  • Wesensverlies per aandeel beloop R6,33
  • Geen dividend word uitgekeer nie
Casino’s, hotelle en oorde

Die groep se inkomste uit casino’s was in 2020 net mooi die helfte van wat dit in 2019 was. Dit wissel egter van 2% van 2019 se inkomste in die tweede kwartaal tot 65% in die vierde kwartaal.

Inkomste uit hotelkamers was vir die volle jaar net 38% van 2019 se inkomste, maar het gewissel van 0% en 11% in die tweede en derde kwartaal tot 45% in die vierde kwartaal.

Leeming verwag dat sakereise nie sal terugkeer tot normaal voordat mense weer gereelder op kantoor begin werk nie.

Alternatiewe dobbel

Dié afdeling, wat beperkte uitbetalingsmasjiene en aanlyn sportweddenskappe insluit, het uitstekend herstel ná die streng vlak 5-inperkings in Maart en April. Die afdeling het vir die hele jaar 71% van 2019 se inkomste behaal, maar dit het gewissel van 5% in die tweede kwartaal tot 74% in die derde en 109% in die vierde kwartaal.

Sun Slots (beperkte uitbetalingsmasjiene) het in die derde kwartaal 160% van 2019 se inkomste gehaal en in die vierde kwartaal 104%. Dit het die jaar egter 68% van 2019 se inkomste behaal.

Die uitbetaalmasjiene wat die groep aan kroeë en restaurante uitverhuur, het baie goed herstel, selfs ondanks aandklokreëls en beperkings op drankverkope.

Leeming skryf dit toe aan ’n opgekropte vraag na vermaak, en mense wat spesifiek nie te ver wil reis nie. Hulle gaan dus eerder na die dobbelplek naby hul huis as om na ’n casino te ry.

Sun Bet (aanlyn weddenskappe) is die enigste afdeling wat in 2020 meer geld verdien het as in die vorige jaar – 102% van 2019 se inkomste. Dit het tot 160% van 2019 se inkomste in die vierde kwartaal behaal.

Verkoop van internasionale bedrywighede

Sun International het in 2020 sy belang in Sun Dreams in Latyns-Amerika verkoop.

Die groep is ook steeds besig om die verkoop van sy belang in die Federal Palace in Nigerië te oorweeg, maar dit sal eers gebeur wanneer ’n ondersoek deur die Nigeriese Securities and Exchange Commission oor die minderheidsaandeelhouers voltooi is. Dis ’n stryd wat nou al jare lank woed. Die onderneming was van April tot Augustus toe vir Covid-19-inperkings.

Sun oorweeg nou ook aanbiedinge vir sy casino’s in eSwatini. In dié land kon die onderneming nog nie sy deure heropen nie.

Wanneer dit voltooi is, sal al dié transaksies beteken Sun is weer slegs ’n Suid-Afrikaanse onderneming. Leeming is egter nie daaroor bekommerd nie omdat hy voel die onderneming fokus dan op die omgewing wat hy die beste ken.

Hy sê as aanlyn sportweddenskappe (deur Sun Bet) eers weer behoorlik op dreef kom, sal Sun International in die posisie wees om inkomste van weddenskappe wêreldwyd te lok en geld in die land in te bring.

Meer oor:  Sun International  |  Inperking  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Toerisme  |  Vlak 1  |  Toerismebedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.