Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Bemiddeling gesoek in SAL-staking

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het Vrydag te midde van ’n voortslepende loonstaking deur sy werknemers aangekondig dat al sy plaaslike en streekvlugte tot en met Maandag gekanselleer is.

Dit geld nie buitelandse vlugte nie, wat Sondag hervat.

SAL-werknemers staak Vrydag vir beter lone buite die hoofkantoor van die lugdiens in Kempton Park. Foto:

Die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) en die metaalwerkersvakbond (Numsa), wat die stakende werknemers verteenwoordig, het Vrydagmiddag ingestem om die lugdiens Saterdag by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie te ontmoet in ’n poging om tot ’n vergelyk te kom.

“Indien die staking volgende week voortduur, voorspel dit niks goeds nie, maar die SAL-bestuur is optimisties dat die dooiepunt oor lone opgelos sal word,” het Tlali Tlali, SAL-woordvoerder, Vrydag gesê.

Die stakende SAL-werknemers sluit kajuit- en grondpersoneel, tegnici en personeel by die aanmeldtoonbanke in. Foto: Felix Dlangamandla

Volgens hom jaag die staking, wat ’n klomp SAL-passasiers se reisplanne die naweek deurmekaarkrap, die lugdiens sowat R52 miljoen per dag uit die sak.

“Die kwessies rondom die herstruktureringsproses (van die SAL) en die loononderhandelinge moet so gou as moontlik opgelos word om die voortbestaan van die lugdiens te verseker,” het Tlali gesê.

Werknemers met baniere en plakkate het Vrydag reeds van vroegdag af buite die hoofkantoor van die lugdiens in Kempton Park byeengekom. “The SAA board must go”, “Incompetent executives must fall” en “No corruption” het van die boodskappe op die plakkate gelui.

Ander lugdienste se bedrywighede is nie deur die SAL-werknemers se staking geraak nie. Foto: Felix Dlangamandla

Die staking het reisigers, sommige van die buiteland, op die O.R. Tambo-lughawe onkant betrap en moes hul reisplanne aanpas en alternatiewe datums vir hul vlugte kry. Ander lugdienste het normaalweg voortgegaan.

Die staking volg op mislukte onderhandelings oor die voorgestelde verhoging van 7,5% tot 8%. Die vakbonde het ook hul stem dik gemaak oor die moontlike aflegging van 944 werkers wat die lugdiens R700 miljoen sal bespaar.

“Die SAL kan nie meer as 5,9% in loonverhogings aan personeel bied nie en daarom moet vakbonde oopkop oor die onderhandelinge wees,” het Tlali gesê.

Nagenoeg 3 000 werknemers, wat kajuit- en grondpersoneel, tegnici en personeel by die aanmeld-toonbanke insluit, neem aan die staking deel.

Passasiers word Vrydag gedurende die staking by die O.R. Tambo-lughawe gehelp. Foto: Felix Dlangamandla

Grant Back, voorsitter van die SAL Vlieëniersvereniging (Saapa), het Vrydag gesê hoewel hulle nie staak nie, ondersteun hulle die stakende vakbonde se eis dat die SAL onmiddellik toerekeningsvatbare leiers aanstel.

“Die aanstelling van ’n bekwame leierskorps by die SAL is van kardinale belang as die lugdiens ernstig daaroor is om ’n omkeerstrategie uit te voer. Dit sluit die aanstelling van ’n bedryfshoof met ondervinding in, en die uitvoering van ’n volledige vaardigheidsoudit.

“Indien ons eie onderhandelings op ’n dooiepunt uitloop, sal ons vlieëniers in Januarie ’n staking oorweeg,” het Back gesê.

“Operasionele ontwrigtings is tot die minimum beperk danksy gebeurlikheidsplanne wat in werking gestel is, en deur noue samewerking tussen lughawens en lugdienste wat probeer om passasiers wat geraak word te akkommodeer,” het Betty Maluka, woordvoerder van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa), gesê.

Stakende SAL-werknemers gee hul misnoeë met die lugdiens te kenne. Foto: Felix Dlangamandla
’n SAL-passasier wag om hulp by ’n leë toonbank op die O.R. Tambo-lughawe. Foto: Felix Dlangamandla
Meer oor:  Sacca  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens (Sal)  |  Numsa  |  Bemiddeling  |  Sal-Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.