Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Bêrekoop is ’n treffer, sê Mr Price

Mr Price sê dit was ’n slim plan om in 2020 bêrekoop (lay-buy, ook gespel lay-by(e)) as ’n opsie vir klante in te stel.

Die MrP-winkel in die Gateway-winkelsentrum in Durban.

Hoewel die groep nog nie syfers daaroor verskaf nie, sê hy bêrekoop “is deur klante verwelkom, en is ’n aantreklike alternatief tot tradisionele krediet, een wat die groep se groeimomentum ondersteun”.

Mr Price se bêrekoop-opsie behels ’n 10%-deposito en drie maande se paaiemente, sonder rente, waarna mense hul gereserveerde aankope kry. Bêrekoop is middel verlede jaar by Mr Price se winkels ingestel.

Klereverkope

Mr Price sê in ’n handelsverklaring hy het oor Swart Vrydag en Kersfees minder klere verkoop as ’n jaar gelede, maar het danksy prysstygings op sy reekse meer geld daaruit verdien.

Ondanks die feit dat produkte vir gemiddeld 6,8% meer verkoop is by al die groep se winkels, beskou verbruikers Mr Price steeds as beter waarde vir hul geld as baie ander klerekleinhandelaars. (Die 6,8% verteenwoordig prysstygings van 3,8%. Die res verteenwoordig die feit dat minder afslag toegestaan moes word om van ou voorraad ontslae te raak.)

Die groep spog dat sy markaandeel nou die hoogste nóg is nadat dit die afgelope ses maande ononderbroke gestyg het. Net in Oktober en November het Mr Price se markaandeel met 2,3 persentasiepunte gestyg. Dis die jongste syfers waarvoor die Retailers’ Liaison Committee (RLC) data uitgereik het.

Mr Price se inkomste vir die kwartaal het met 5% tot R7,8 miljard gestyg, wat dit vergelykbaar maak met die 5,5%-groei in verkope wat TFG vroeër die week vir dieselfde kwartaal aangekondig het. In Afrika (grootliks Suid-Afrika) het TFG, wat Foschini en sedert einde September ook Jet insluit, egter ’n insinking van 0,7% in sy verkope bereik as Jet uitgesluit word.

Aanlyn verkope

Soos alle ander kleinhandelaars het Mr Price se aanlyn verkope in 2020 vlamgevat omdat baie mense winkels probeer vermy het. Aanlyn verkope in Mr Price-winkels in Suid-Afrika het met 66,3% opgeskiet.

Truworths het nie die syfers net vir die Kersfees-kwartaal uitgereik nie, maar het gewys sy verkope vir die ses maande tot einde Desember het met 8,5% tot R9,7 miljard gedaal.

Die laaste kwartaal van 2020 is die derde in Mr Price se boekjaar. Die groep besit benewens Mr Price, Mr Price Sport en Mr Price Home ook Miladys en Sheet Street.

Mr Price wys daarop dat winkels wat in kleiner geriefsentrums geleë is, steeds baie beter vaar as dié in groot streekwinkelsentrums, ’n verandering in kooppatrone weens die Covid-19-pandemie wat Dis-Chem, Clicks en ander kleinhandelaars ook al opgemerk het.

Kontantverkope verteenwoordig nou 86,8% van al Mr Price se verkope. Dis selfs hoër as in 2019, toe dit 84,9% was.

k

Huisware, selfone

Verkope van huisware by veral Mr Price Home trek steeds daaruit voordeel dat meer mense van die huis af werk en die groep verwag dat mense sal aanhou om hul tuisomgewing mooier te maak.

Selfone en selfoonbykomstighede is aan die styg en Mr Price sê hy wen ook hiermee markaandeel. Dit is nou in 306 winkels landwyd te koop, hoewel dit nog net ’n klein deel (2,2%) van die groep se verkope verteenwoordig,

Mr Price het einde verlede jaar nuwe reekse vir babas, mrpBaby, en vir skoolklere, mrpSchoolgear, bekend gestel en is optimisties dat dit stewig sal groei.

Swart Vrydag en Kersfees

Mr Price sê weens die Covid-19-regulasies, waardeur die aantal mense in winkels beperk moes word, het Mr Price maar ’n teleurstellende Swart Vrydag beleef.

Alle afdelings het wel markaandeel gewen en aanlyn verkope oor die Swart Vrydag-week het met 81,1% opgeskiet.

Omdat strenger regulasies kort voor Kersfees ingestel is toe die tweede vlaag koronavirusinfeksies skerp begin styg het, was verbruikers maar versigtig om winkel toe te gaan.

Die groep sê omdat skole eers op 15 Desember gesluit het, tesame met beurtkrag, het ook die aantal kopers verminder. Verkope was wel in Desember 5,6% hoër as in Desember 2019.

Vooruitsigte

Vir die eerste drie weke van 2021 het die groep se verkope met 5,3% gestyg.

Die tweede vlaag koronavirusinfeksies skep groot onsekerheid en kniehalter ekonomiese herstel

“Huishoudings sal na verwagting versigtig met hul besteding bly weens die negatiewe uitwerking daarvan op hul inkomste.”

Soos ander ontleders wys Mr Price daarop dat die einde van staatsteun, soos die Covid-19-toelaag van R350, verhogings in die kindersorg- en ouderdomstoelaag en die Werkloosheidsversekeringsfonds se Covid-19-Ters, baie mense se besteebare inkomste gaan laat krimp.

Die maatskappy gee spesiaal erkenning aan al sy personeel en verskaffers se personeel wat oor die besigste tyd van die jaar verseker het dat klante gerieflik en veilig kon inkopies doen. “Dit het toewyding van elke vennoot en ’n spanpoging vereis waarop die groep uiters trots is.”

Meer oor:  Mr Price  |  Kleinhandelaars  |  Klerebedryf  |  Klere  |  Klerekleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.