Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Beroering toe Steinhoff ontken hy is ‘boosdoener’

Almal wat skadevergoedingseise teen hom instel, sal in die hof moet bewys daar was wel wanvoorstellings in sy finansiële posisie, sê Steinhoff.

Daarom moet sy aansoek om dié 12 eise te konsolideer slaag, het hy Woensdag in die hooggeregshof in Kaapstad aangevoer.

Braam van Huyssteen, stigter van Tekkie Town, wat ook een van die eisers teen Steinhoff is. Foto: Jaco Marais

Die aansoek het Woensdag begin en duur tot Donderdag. Byna 20 advokate was Woensdag in die hof. Die verhoor het egter skaars begin, toe dit weens beurtkrag vir langer as twee uur uitgestel moes word.

Van die eisers sluit in entiteite verwant aan bekende sakelui soos Christo Wiese, voorheen voorsitter en grootste aandeelhouer van Steinhoff, en Pepkor, GT Ferreira, een van die stigterslede van FirstRand, Jaap du Toit, ’n stigterslid van PSG, Pieter Erasmus, ’n voormalige uitvoerende hoof van Pepkor, en Braam van Huyssteen, wat Tekkie Town begin het.

Erasmus en Van Huyssteen was Woensdag self in die hof.

Die partye se eise beloop gesamentlik tienmiljarde rand.

Dis nie ‘vertragingstaktiek’

Adv. Arnold Subel SC, wat Steinhoff verteenwoordig, sê hulle word gekritiseer dat hulle dié aansoek bloot indien om die saak te vertraag, maar dit is onwaar.

Hy voer aan elke eiser sal in hul afsonderlike saak die finansiële ongerymdhede moet bewys.

“Wat hulle (die eisers, wat in hierdie aansoek van Steinhoff die respondente is) nie sê nie, is dat die hof vir elke eis eers die werklike waarde van die aandele sal moet bepaal en die werklike onderliggende waarde van die bates op die tydstip wat elke betrokke transaksie plaasgevind het.

“ ’n Verhoor sal gehou moet word om te bepaal wat die waarde van die groep was en of die finansiële state gemanipuleer is.”

Subel het aangevoer die belangrike vraag gaan wees of daar eerstens ’n wanvoorstelling was en tweedens wanneer dit plaasgevind het.

Hy het gesê die aantygings oor finansiële ongerymdhede en wanvoorstellings moet deur ’n hof bepaal word “voordat enigiemand ’n eis het”.

Om die sake saam te voeg, sal gerieflik wees omdat dieselfde getuies in al 12 sake nodig gaan wees. Van die getuies sal van oorsee moet kom, en sal oor dieselfde kwessies ondervra en gekruisondervra moet word.

Subel het aangevoer die respondente “ignoreer die feit dat dit nodig gaan wees om Steinhoff se finansiële posisie ten tyde van die transaksies waarna die eise verwys, vas te stel. Dit is die olifant in die kamer. Dit skreeu om ’n enkele uitspraak.”

Hy het verskeie kere in sy betoog na die eisers se “beweringe” en “aantygings” oor Steinhoff se finansiële ongerymdhede verwys.

Beskuldigings teen Steinhoff ‘onregverdig’

Regter Mokgoatji Dolamo het gevra of wat by Steinhoff gebeur het en hoe dit gebeur het, in dispuut is.

Subel het geantwoord die wanvoorstelling van sy finansiële posisie is in dispuut en die respondente moet dit bewys.

Dít het ’n beroering deur die hof laat gaan.

Dolamo het gevra: “Sê jy die applikant (Steinhoff) is daarop geregtig om nie die ongerymdhede te erken nie en te verwag die respondente moet dit bewys?”

Hierop het Subel geantwoord: “Ja, natuurlik”.

Hy het ook gesê: “Die voortdurende beskuldiging dat Steinhoff geweet het wat gebeur het en erkenning daarvan probeer vermy het, is onregverdig.”

Hy sê Steinhoff het nou ’n nuwe direksie wat probeer om die skip om te keer en reguit te laat vaar. “Die sondaars is weg by Steinhoff. Dit is ’n baie gevaarlike versoeking om Steinhoff as die boosdoener te beskou.”

Hy het verduidelik hoekom Steinhoff vir Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof, en Ben la Grange, voormalige finansiële hoof, as derde partye voeg tot al die sake.

“Dit behoort nie ’n verrassing te wees nie. Ons sê indien die eisers slaag om ’n wanvoorstelling van die finansiële posisie te toon, gaan ons dit van hulle (Jooste en La Grange) verhaal.

“Hulle is die individue wat die beweerde wanvoorstellings gepleeg het waaroor die eisers kla.”

Hy het aangevoer as die eise nie in een saak gekonsolideer word nie, sal daar ook afsonderlike verhore moet wees om Jooste en La Grange as derde partye tot elke saak te voeg.

“Niemand kan voortgaan as dit nie uitgesorteer is nie. Dit kan maande of selfs jare van litigasie vereis, maar as die eise gekonsolideer word, kan alles op een slag gehanteer word.”

Steinhoff ‘sing nou ’n ander deuntjie’

Adv. Willie Duminy SC, vir die voormalige eienaars van Tekkie Town, het aan die hof gesê Steinhoff se betoog verskil nou van wat hy gesê het toe hy die konsolidasie-aansoek aanhangig gemaak het.

Aanvanklik het Steinhoff gesê die doel is om die verhoor voor een regter te kry.

“Vandag kry ons iets anders, en dit is dat daar een gemene kwessie is wat vir almal dieselfde is en dat dié kwessie vooraf bepaal moet word. En dan kan die sake daarna weer afsonderlik voortgaan.”

Adv. Dennis Fine SC, wat vir Ferreira optree, verwys in sy skriftelike betooghoofde na Steinhoff se ontkenning van die “sentrale kwessie van finansiële wanvoorstelling”.

“Die voortgesette taktiese ontkenning van die finansiële wanvoorstellig is onvanpas en moet gekritiseer word.”

Hy het verwys na die opsomming van PwC se forensiese verslag oor ongerymdhede met Steinhoff se boeke, wat deur Steinhoff self uitgereik is.

“In lig van die openbaarmaking van die opsomming en die heraangee van verskeie finansiële state daarna, kan daar nie werklik betwis word dat Steinhoff se finansiële posisie nie was soos wat dit weergegee is nie. Hierdie kwessie kan nie die hof se tyd langdurig in beslag neem nie.”

Van die ander respondente het aangevoer Steinhoff het reeds in sy hofstukke teen Jooste en La Grange, waarin hul salarisse, bonusse en aansporings teruggeëis word, gesteun op die goed wat hy nou ontken.

Die verhoor duur Donderdag voort wanneer die ander respondente kans gaan kry om hul betoë te lewer.

Meer oor:  Steinhoff  |  Tekkie Town  |  Pepkor  |  Braam Van Huyssteen  |  Hooggeregshof  |  Hofsaak  |  Eis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.