Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Beskerm SA teen Dudu Myeni, hoor hof

Die publiek moet beskerm word teen Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL).

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL). Foto: Gallo Images

Só het adv. Carol Steinberg SC, vir die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), Maandag in ’n virtuele sitting van die hooggeregshof in Pretoria gesê.

Myeni het nie net die SAL in die grond in bestuur nie, sy het amper veroorsaak dat talle staatsondernemings hulle skuldig gemaak het aan kruiswanbetaling van skuld, wat tot die “ineenstorting van die ekonomie” sou lei, het Steinberg die hof van herinner.

Dit was van die oorspronklike bevindings deur regter Ronel Tolmay, wat haar in Mei 2020 lewenslank tot misdadige direkteur verklaar het en op 22 Desember ’n tussentydse bekragtigingsbevel toegeken het om Myeni te dwing om uit te tree uit die oorblywende direksies waarop sy dien, al wil sy appelleer.

Myeni was Maandag in die hof om die tussentydse bevel om te keer hangende haar appèl omdat sy meen haar regte word misken.

“Wat weerhou haar dan daarvan om môre ’n pos as direkteur van Eskom te aanvaar?” het Steinberg gevra.

Myeni voer in haar beëdigde verklaring vir Maandag se verrigtinge aan dat sy nie enige ander pos in ’n direksie sal aanvaar nie en dat sy dus nie ’n gevaar vir die publiek is nie.

Sy dien tans op drie private direksies, waaronder dié van die Jacob Zuma Foundation. Myeni is ’n vertroueling van oudpres. Zuma, wat self in regsprobleme gewikkel is omdat hy weier om voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te getuig.

Myeni sê sy het in November 2020 uit die direksie van Centlec, die kragverspreider van die Mangaung-munisipaliteit (Bloemfontein), bedank. Dit word egter nie in haar eedsverklaring gestaaf nie.

Adv. Dali Mpofu, SC vir Myeni, het Maandag gesê dit is irrelevant of sy nog in die direksie van die staatsonderneming dien.

“Dit kan wees dat sy die beste bate nóg vir die direksie van Centlec is,” het Mpofu gesê. Vir hom is dit nie duidelik dat Myeni enige skade aanrig waar sy nou dien nie, terwyl sy self “onherroeplike skade” aan haar inkomste sal ondervind as sy verbied sou word om op direksies te dien.

Steinberg voer egter aan dat dit net nog ’n geval is van Myeni wat “lieg”.

“Sy is oneerlik, en het haarself al talle kere aan meineed skuldig gemaak.”

Volgens Steinberg kan dit dus ook nie geglo word dat Myeni nie net lieg oor haar belofte dat sy nie enige nuwe aanbiedings vir poste op ander direksies sal aanvaar nie.

“Die hof kán haar nie vertrou nie.”

Volgens Tolmay moes Myeni doodeenvoudig verbied word om op enige direksie te dien, veral dié van staatsondernemings, om die publiek te beskerm.

“Die bevel is nie om Myeni te straf nie, dis ook nie om haar in te perk nie – dit is om die publiek te beskerm. Dis so eenvoudig soos dit,” het Steinberg gesê.

Appèlaansoek

Onder normale omstandighede sou Myeni se appèlaansoek wel die tussentydse bevel opgeskort het.

Die probleem is Myeni het haarself, volgens Steinberg, in die voet geskiet.

Myeni het aangedui dat sy haar tot die appèlhof vir haar hoofappèlaansoek teen haar bevinding as misdadige direkteur sal wend. Sy het egter nog nie haar appèlaansoek hiervoor ingedien nie. Haar advokate het die sperdatum vir die indiening van die aansoek misgeloop, en daarom het hulle ’n aansoek om kondonasie van laat indiening ingegee.

’n Deel van hul verklaring vir die laat indiening was dat hulle – weens die opskorting van die sakebedrywighede van die lugdiens, of omdat werknemers afgelê is of nie meer by die werk is nie – probleme gehad het om dokumente aan die SAL en AirChefs voor te lê.

Volgens Steinberg beteken dit dat Myeni haar kans misgeloop het en dat die bekragtigingsbevel moet geld.

“’n Mens kan nie net op enige punt selfs tien jaar in die toekoms aandui jy wil skielik appelleer nie en dus verwag dat enige hofbevele teen jou opgeskort moet word in afwagting daarop nie,” het Steinberg gesê.

Mpofu het egter ’n heeltemal ander opinie.

Hy het gesê Steinberg se argument berus op art. 18(1) en 18(5) van die Wet op Hooggeregshowe vir die reg tot appèl.

Maar sy verontagsaam art. 18(4), wat blykbaar verklaar dat enige aanduiding van appèl op enige stadium, solank dit dringend is, beteken die vorige hofbevel word opgeskort.

“Die reg tot appèl verdwyn nooit nie, dankie, amen,” het Mpofu aan regter-president Dunstan Mlambo gesê.

Steinberg het egter gesê die volbank regters wat Maandag die hofsaak aangehoor het, moenie vergeet dat Tolmay bevind het dat Myeni se saak “geen billike kans op sukses sou hê” indien sy appelleer nie.

Tolmay het in Desember Myeni se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys.

Volgens Steinberg is dit van belang dat die regter wat die ganse vyf week lange verhoor voorgesit het, bevind het dat die saak geen billike kans op sukses op appèl sou hê nie.

Mlambo het kennis geneem hiervan, maar aangedui dat selfs die hoër howe bekend is vir die foute wat hulle maak, en dat die hooggeregshof nie ’n uitsondering is nie.

Mlambo, regter Vivian Tlhapi en regter Annali Basson het Maandag uitspraak voorbehou en gesê hulle sal dit binne sewe dae lewer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.