Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Besluit oor brug ‘slegte nuus vir SA’
Dr. Roelof BothaFoto: Verskaf

Dit is ongelooflik slegte nuus as maatskappye hulle aan Suid-Afrika onttrek weens geweld, sê dr. Roelof Botha, finansiële raadgewer van die Optimum-groep.

Dit kom nadat Aveng en sy Oostenrykse vennoot, Strabag International, besluit het om ’n kontrak van R1,6 miljard te kanselleer om die Mtentu-brug aan die Wildekus vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) te bou.

Lees ook: SA se Golden Gate-brug op ys weens geweld

Aveng en Strabag het Maandag in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, gesê hulle gaan nie met die kontrak voort nie weens voortdurende aanvalle op die bouperseel deur plaaslike inwoners wat aandring op werk aan die projek.

Die Mtentu-brug sou die hoogste brug in Afrika gewees het.

“Daar is ongelukkige militante vakbonde en twee militant-gesinde politieke partye wat dit letterlik lewensgevaarlik maak om in sommige dele van Suid-Afrika te woon en te werk,” sê Botha.

“Wie wil in só ’n land belê? Ons word nou oor dieselfde kam geskeer as mislukte lande soos Zimbabwe,” sê hy met verwysing na die geweld wat dikwels met konstruksieprojekte gepaardgaan, asook die voortslepende onsekerheid oor grondeienaarskap.

“Ons grawe ons eie graf deur nie probleme op te los nie.

“Ons wil hê Westerse moondhede moet by ons kom belê, maar daar is geen sekerheid of hulle selfs net hul belegging sal kan terugkry nie.”

Botha sê Aveng en Strabag se besluit is in pas met die briewe wat vyf van Suid-Afrika se groot handelsvennote glo onlangs aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur het weens hul kommer oor gebeure in Suid-Afrika.

Luidens ’n berig Sondag in Sunday Times het Amerika, Duitsland, Brittanje, Nederland en Switserland glo regstreeks aan Ramaphosa geskryf dat hy onder meer daadwerklik teen staatskapers en korruptes moet optree as hy buitelandse beleggings wil lok.

’n Argitekvoorstelling van die Mtentu-brug op die N2 aan die Wildekus.

Gemak van sakedoen

Botha sê Aveng en Strabag se besluit illustreer ook hoe moeilik dit is om sake in Suid-Afrika te doen.

Ramaphosa het in Januarie kort voordat hy na die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) se jaarlikse beraad in Davos, Switserland, vertrek het, erken Suid-Afrika “is ligjare agter” ander Afrika-lande en die res van die wêreld ten opsigte van hoe maklik dit is om sake in die land te doen.

Suid-Afrika is op nommer 82 uit 190 lande op die Wêreldbank se ranglys oor waar dit die maklikste is om sake te doen.

Ramaphosa het gesê as die situasie nie dringend verbeter nie, gaan die land sukkel om beleggers te lok.

Botha sê die regering moet besef Suid-Afrika is net een van vele Afrika-lande wat internasionale beleggers se guns wil wen.

“Daar is lande soos Rwanda en Zambië wat uit hul pad gaan om dit maklik te maak om sake by hulle te doen.

“Beleggers sal veel eerder na hulle kyk as wat hulle hier sal belê as daar nie beleidsekerheid is nie.”

* Die federasie van werkgewers in die staal- en ingenieursbedryf (Seifsa) wou nie kommentaar lewer oor Aveng en Strabag se besluit nie.

* Sanral het nog nie gereageer op ’n versoek om kommentaar nie.

Meer oor:  Aveng  |  Strabag  |  Sanral  |  Cyril Ramaphosa  |  Roelof Botha  |  Beleggings  |  Konstruksie  |  Geweld  |  Mtentu-Brug  |  Brug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.