Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
African Bank se deposito's styg 147% midde pandemie

Tydens die pandemie het deposito’s van gewone kliënte van African Bank die afgelope boekjaar met 147% gestyg.

Die African Bank-tak in Galleria-winkelsentrum in Amanzimtoti. Foto: Verskaf

Die groep – wat ’n bank en ’n versekeraar besit – het Dinsdag sy resultate vir die boekjaar tot einde September bekend gemaak. Daarvolgens het hy min van die vyfjaarteikens bereik wat hy in 2016 vir homself gestel het. Dit is aan die pandemie en die effek van die staat van inperking toegeskryf.

Basani Maluleke, uittredende uitvoerende hoof, sê dit is deel van die groep se strategie om deposito’s van gewone kliënte te verhoog ten einde sy finansiering te diversifiseer en die koste van finansiering te verlaag.

“Dit is hoekom ons besluit het om die beste rente in die mark te betaal. Die strategie het baie goed gewerk, want ons boek het op ’n jaargrondslag met 147% tot R6 miljard gestyg.”

African Bank wil meer deposito’s van gewone beleggers kry as van groothandelbeleggers, wie se deposito’s teen ’n hoër koste vir die bank kom.

Kleinhandeldeposito’s beloop nou 35% van sy finansiering vergeleke met 14% voorheen.

Maluleke sê die bank het nou 1,3 miljoen kliënte vergeleke met 1,09 miljoen aan die einde van die vorige boekjaar. Op grond van sy vyfjaarteiken het hy egter gehoop om nou reeds 1,7 miljoen kliënte te hê.

Die bank hoop dat sy laekostebankrekening MyWorld hom sal help om meer kliënte te lok.

Sy sê MyWorld staan sentraal tot die bank se strategie omdat die data wat hieruit voortspruit beter insig in die kliënte gaan gee en die bank sal help om slimmer lenings toe te staan.

Sedert MyWorld se bekendstelling tot aan die einde van die boekjaar is 368 000 rekeninge geopen.

Minder lenings, meer afskrywings

Gustav Raubenheimer, finansiële hoof, sê vergeleke met ’n wins van R1,2 miljard in die vorige boekjaar het die groep ’n verlies van R27 miljoen gely.

Dit is toegeskryf aan die groter voorsiening vir afskrywings van altesame R1,2 miljard.

Lenings wat toegestaan is, het met 37% gedaal.

Te midde van die staat van inperking het minder kliënte takke besoek, en aansoeke om lenings het skerp gedaal. Strenger vereistes is ook gestel vir die toestaan van lenings.

In vergelyking met R10,8 miljard in die vorige boekjaar is net sowat R6,7 miljard in die afgelope boekjaar uitgeleen.

Aan die einde van die boekjaar was die totale lenings uitstaande R28,3 miljard – 5% minder as aan die einde van die vorige boekjaar.

Kliënte het weens die effek van die pandemie en die staat van inperking gesukkel om hul lenings terug te betaal.

Wanpresterende lenings as persentasie van die totaal het van 35,2% tot 41% gestyg. Dit beloop R11,6 miljard van die totaal.

Raubenheimer sê dié verhouding lok altyd baie bespreking uit en hulle glo daar is goeie rede hoekom dié verhouding hoër as die res van die bedryf s’n is.

Dis deels omdat minder lenings in die boekjaar toegestaan is. Maar African Bank is ook konserwatiewer as die res van die bedryf oor wat hy as wanpresterende lenings beskou. Dit hou onder meer verband met hoeveel agterstallige lenings intern gekonsolideer word. Raubenheimer sê sy mededingers s’n is baie hoër.

Versekeringsinkomste het weens ’n toename in eise weens salarisse wat verminder is en afleggings met 47% van R1,3 miljard tot R736 miljoen gedaal.

Afleggings amper klaar

Die art. 189-proses wat in Oktober aangekondig is om personeelgetalle in die pas te bring met dit wat die bankgroep nodig het, is amper afgehandel.

Die groep het in Oktober gesê 1 269 van sy 3 728 personeellede word geraak.

Maluleke sê outomatisering en digitalisering het tot die oortollige werknemers gelei.

’n Driejaarprojek om ’n meer digitale bank te word, is in November verlede jaar afgehandel.

Na verwagting gaan meer mense aanlyn begin aansoek doen vir lenings as in banktakke.

Sy sê daar is met vakbonde geskakel om ’n manier te vind om personeellede te beskerm. “Om dit te bewerkstellig, is mense wat geraak word vrywillige skeidingspakkette en vroeë aftrede aangebied.”

Volgens haar is positief daarop gereageer en dit sal meebring dat ’n “klein getal” mense moontlik afgelê gaan word einde vandeesmaand.

Meer oor:  African Bank  |  Bankbedryf  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.