Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Betaaldag kom nader, Denel dalk nie gereed

Slegs ses dae voor betaaldag kon Denel nie Maandag bevestig of hy sy nagenoeg 3 700 werknemers se volle salaris vir Augustus betyds gaan betaal nie.

Denel
Pantservoertuie wat as deel van die staat se wapentuigvervaardiger se afdeling, Denel Land Systems, vervaardig word. Foto: Denel

Die staatsbeheerde wapenvervaardiger sukkel met ’n kontantvloeikrisis wat vir die derde maand in ’n ry onsekerheid oor salarisse skep.

Denel het in Junie op betaaldag, sonder enige waarskuwing, slegs 85% van salarisse aan al sy werknemers betaal. Die res is wel vier dae later betaal.

In Julie het die maatskappy werknemers kort voor betaaldag gewaarsku hul salaris gaan laat wees, maar dis toe wel betyds betaal.

Denel se salarisrekening beloop sowat R150 miljoen per maand.

Op die vraag of Denel al teen Maandag genoeg betalings ontvang het om sy werknemers te betaal, het die staatsonderneming geantwoord: “Die aandeelhouer (die staat), die direksie en die bestuur werk voortdurend om ’n volhoubare oplossing vir die likiditeitskrisis wat Denel in die gesig staar, te vind. Die bestuur is toegewyd en sal altyd probeer om die onderneming se salarisverpligtinge teenoor die werknemers na te kom in ooreenstemming met die dienskontrakte.”

Geen verdere kommentaar kon uit Denel verkry word nie.

In Julie het dit aan die lig gekom hoewel die regte salaris ná aftrekkings aan werknemers betaal is, die geld wat afgetrek is nie aan verskeie fondse oorbetaal is nie.

Denel het toe later die betalings aan werknemers se mediese fonds en pensioenfonds gedoen, maar inkomstebelasting aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die bydraes aan die Werkloosheidsversekeringsfonds is steeds uitstaande.

Die vakbond Solidariteit, wat talle werknemers by Denel verteenwoordig, het op 31 Julie ’n dringende hofaansoek ingedien om Denel te dwing om dié geld oor te betaal sodat werknemers nie self daarvoor aangeslaan word nie.

Die saak word Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor.

Denel het aan Netwerk24 gesê dat hy ’n ooreenkoms aangegaan het met die SAID om die agterstallige belastinggeld later oor te betaal.

Die SAID wou nie die reëling aan Netwerk24 bevestig nie, en het gesê sulke sake is vertroulik volgens wet.

Solidariteit glo dat daar geen so ’n reëling is nie.

Denel wag tans op ’n reddingsboei van R2,8 miljard vanaf die regering, wat na verwagting in September of Oktober oorbetaal sal word. Dié betaling, tesame met ’n bestelboek wat op mediumtermyn sowat R30 miljard werd is, is volgens Danie du Toit, uitvoerende hoof van Denel, al wat die maatskappy nodig het om weer behoorlik op dreef te kom.

Denel is tans die enigste staatsonderneming wat op groot skaal privatiseer, afdelings sluit en sy personeel drasties verminder te midde van ’n enorme herstrukturering.

Du Toit het al verskeie kere gesê die huidige likiditeitskrisis is net tydelik.

Daar sal waarskynlik probleme met salarisbetalings wees totdat die beloofde reddingsboei deurkom.

Meer oor:  Solidariteit  |  Denel  |  Staatsondernemings  |  Salarisse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.