Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Beursies dun, maar daar’s geld vir ietsie lekkers
Dunkin’ Donuts vaar goed, selfs al is verbruikers onder druk.

Kaapstad behoort teen Kersfees vyf Dunkin’ Donuts-winkels te hê, terwyl dié gewilde Amerikaanse handelsnaam na verwagting sy eerste winkel in Johannesburg in die eerste helfte van volgende jaar sal open.

Te oordeel na hoe goed die eerste winkel in Suid-Afrika – gesetel in Goodwood in Kaapstad – in die eerste drie dae ná sy opening gevaar het, is Dunkin’ Donuts op die pad na soete sukses.

In die eerste paar dae het die winkel sy begrotingsteiken vir die eerste bedryfsmaand behaal, sê Alan Keet, uitvoerende hoof van Grand Foods, deel van die genoteerde Grand Parade Investments (GPI), en die maatskappy wat die plaaslike lisensies besit vir Dunkin’ Donuts, Burger King en Baskin-Robbins, ’n Amerikaanse roomyswinkelgroep.

Keet sê die eerste Dunkin’ Donuts in Johannesburg sal waarskynlik in Sandton geopen word.

Tans word al die ringkoeke in gevriesde vorm ingevoer. Namate sake toeneem, sal dit plaaslik vervaardig word.

Die mikpunt is om teen Junie 2017 altesame 22 Dunkin’ Donuts-winkels in bedryf te hê, waarvan 11 in Kaapstad en 11 in Johannesburg sal wees.

GPI verwag dat Dunkin’ Donuts binne twee jaar ’n wins in Suid-Afrika sal toon. GPI het ook die regte vir die Dunkin’ Donuts-handelsnaam in Namibië, Botswana, Zimbabwe, Mosambiek en Mauritius.

Abdul Davids, hoof van navorsing by Kagiso Batebestuur, sê wat verbruikersgoedere betref, is dit duidelik die Suid-Afrikaanse verbruiker is onder druk.

Tog lyk dit of daar meer veerkragtigheid is in die kossektor wanneer dit kom by verbruikersbesteding.

Volgens Davids kan ’n mens nie noodwendig weet hoe internasionaal bekende handelsname sal vaar wat vir die eerste keer na Suid-Afrika kom nie, maar dit lyk of hul vestiging hier die plaaslike verbruiker se belangstelling prikkel. Heelwat internasionale handelsname in die voedselbedryf vaar goed en brei uit ondanks stram ekonomiese toestande.

Die franchisevereniging van Suid-Afrika (Fasa) en Sanlam se nuutste franchise-opname wys groei van 21% in franchisestelsels (dit verwys byvoorbeeld na nuwe internasionale konsepte soos Burger King) in 2015 teenoor die vorige jaar, en 13%-groei in die aantal franchisewinkels.

Dié toenames kan toegeskryf word aan buitengewone groei die afgelope twee jaar in nuwe en internasionale handelsname in die mark, sê Naas du Preez, Fasa-voorsitter.

Die groei in omset in die bedryf was stadiger – 6% – wat toegeskryf kan word aan swak ekonomiese groei in Suid-Afrika.

Grand Foods beplan om sowat R1 miljard in al drie die handelsname te belê, ’n belegging wat tot meer as 10 300 werkgeleenthede kan lei.

Meer oor:  Grand Foods  |  Grand Parade Investments  |  Kitskos  |  Restaurante  |  Franchises
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.