Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Beurtkrag vertraag begin van Steinhoff-saak

Altesame 19 advokate was Woensdagoggend in Kaapstad slaggereed om voort te gaan met die eerste groot Steinhoff-hofsaak, maar beurtkrag het tydelik ’n stokkie voor verrigtinge gesteek.

Adv. Arnold Subel, SC, namens Steinhoff, het net in die Wes-Kaapse hooggeregshof begin praat toe beurtkrag in die Kaapse middestad net ná 10:00 begin het. Die hof was oombliklik in donker gehul. Beurtkrag sou tot 12:30 duur.

steinhoff
Dis stikdonker in die hofsaal van die hooggeregshof in Kaapstad waar die eerste groot Steinhoff-hofsaak Woensdag moet begin.

Regter Mokgoatji Dolamo het dadelik gesê: “Ons kan seker voortgaan, want ons kan hoor, al kan ons nie sien nie.”

Omdat hy egter geen van die dokumente in die donker hofsaal kan lees nie, is die verrigtinge aanvanklik verdaag sodat ’n lig gesoek kon word. Kort daarna is egter aangekondig dat die saak om 13:00 sal hervat, dus nadat beurtkrag verby is.

Steinhoff se hoof van beleggersbetrekkinge, Tyrrel Murray, het dit as ’n “baie duur verdaging” beskryf.

In Oktober is berig dat Steinhoff ’n hofaansoek gebring het dat al die eise teen hom saamgevoeg en saam aangehoor moet word.

Die hof hoor Woensdag en Donderdag die partye se vertoë aan oor hoekom hul eise nie gekonsolideer moet word nie.

Daar is 32 respondente in die aansoek, almal partye in altesame 12 eise teen die groep. Onder die respondente is Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, en Ben la Grange, die voormalige finansiële hoof.

Nicholas James Lewis, maatskappysekretaris van Steinhoff, sê in die hofstukke al die respondente, buiten Jooste en La Grange, staan dit teen.

Die respondente se repliek teen die aansoek beslaan gesamentlik meer as 1 000 bladsye.

steinhoff
Braam van Huyssteen, voormalige eienaar van Tekkie Town, Woensdag buite die hooggeregshof in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Lewis het aangevoer dat die konsolidasie van die sake tot voordeel van die hof en die partye sal wees. Hy meen dit gaan onprakties wees om al die sake afsonderlik aan te hoor.

Die grootste eis teen Steinhoff – ’n eis van altesame R60 miljard – is van Christo Wiese, voormalige voorsitter en grootste aandeelhouer van Steinhoff.

Ander respondent sluit in die sakeman GT Ferreira en die personeel van Pepkor.

“Ons glo dit is ’n vertragingstaktiek,” het Riaan Meintjes van Hayes Ing., wat die trustees van die Le Toit Trust in ’n eis van R740 miljoen verteenwoordig, voorheen gesê.

“Dit gaan langer neem om by ’n verhoor uit te kom as dit saam aangehoor word, want dit moet dan gelyk gereed wees om aangehoor te word.”

Meer oor:  Steinhoff  |  Markus Jooste  |  Christo Wiese  |  Meubels  |  Meubelhandel  |  Kleinhandelaars  |  Bedrog  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.