Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Beurtwater’ in Standerton word al erger, sê Astral

Die voortslepende waterkrisis in Standerton gaan die hoenderprodusent Astral se koste met minstens R85 miljoen opjaag.

Astral het al R25 miljoen bestee om hoenders na ander slagpale te vervoer weens beurtwater in Standerton.

Die maatskappy sê ondanks ’n permanente hofbevel wat die Lekwa-munisipaliteit opdrag gee om minstens ’n minimum hoeveelheid watter aan Astral te verskaf, is die probleem net besig om al hoe erger te word.

Astral se Standerton-slagplaas het 5 megaliter water per week nodig om optimaal en volgens internasionale standaarde te funksioneer, maar die munisipaliteit laat Astral net 4 megaliter per week toe.

Astral word nie vooraf gewaarsku wanneer die water afgesny gaan word nie, het Chris Schutte, Astral se uitvoerende hoof, onlangs aan Landbou.com gesê.

Die munisipaliteit verskaf altesaam sowat 7 megaliter per week, wat álle huishouding en ondernemings moet bedien. Voorheen kon die munisipaliteit 10 megaliter per week lewer.

“Die agteruitgang van die munisipale infrastruktuur van die Lekwa-munisipaliteit het tot die onderbreking van waterverskaffing aan Astral se hoenderverwerkingsaanleg in Standerton gelei, ongeag die feit dat die munisipaliteit naby ’n beduidende waterbron, die Vaalrivier, geleë is,” sê Astral in ’n Sens-verklaring Dinsdagoggend.

Die R85 miljoen bykomende koste is as volg:

  • R10 miljoen méér is vir voer betaal omdat Astral nie volgens sy skedule hoenders kon slag nie. Ouer hoenders eet meer.
  • R25 miljoen is bestee om hoenders na ander slagpale te vervoer.
  • In Junie gaan Astral die aantal hoenders wat hy slag, verminder en sy produksie besnoei, wat hom na verwagting R31 miljoen gaan kos.
  • Stappe wat die maatskappy ingestel het om die watertekort te bestuur, het hom ’n verdere R19 miljoen gekos.

Astral sê die impak op sy wins kan selfs groter wees, maar dis moeilik om te raam “weens die onvoorspelbaarheid van die uitkoms van die voortslepende gesprekke met die owerhede”.

Astral sê hoewel hy aktief met verskeie belanghebbendes in gesprek getree het, werk die Lekwa-munisipaliteit nie saam nie.

Astral sê ook hy is aktief besig om alternatiewe waterbronne te soek. “Alle moontlike weë word verken, insluitend voortgesette regsoptrede om ’n watervoorraad deur die munisipale infrastruktuur te verseker.”

Astral het die munisipaliteit ook vroeër hof toe gesleep omdat Eskom die munisipaliteit se krag weens wanbetaling wou afsny. Astral betaal Eskom nou regstreeks vir krag.

Schutte het met die bekendmaking van die groep se halfjaarsyfers verlede week gesê die groep het Standerton juis gekies vir sy aanleg vanweë die beskikbaarheid van water.

Die groep se bedryfswins het vergeleke met ’n jaar gelede in die ses maande tot einde Maart met 51,4% tot R503 miljoen gekrimp. Dit is grootliks weens die pluimvee-afdeling se wins wat met 68,9% gekrimp het.

Meer oor:  Astral  |  Lekwa-Munisipaliteit  |  Standerton  |  Hoenders  |  Water  |  Munisipaliteite  |  Krag  |  Infrastruktuur  |  Hoenderbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.