Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Bidvest onseker oor herstel

Die nywerheidsgroep Bidvest klink meer pessimisties as die regering oor die ekonomiese herstel.

Bidvest
Mpumi Madisa, uitvoerende hoof van Bidvest.

Bidvest verwag die ekonomiese insinking sal nog 'n tyd lank voortduur, en daar is heelwat onsekerheid oor die tempo van herstel.

Bidvest, wat pas ’n verhoging van 3,5% in sy handelswins vir die halfjaar tot einde Desember aangekondig het, is ’n gediversifiseerde groep met bedrywighede oor die hele Suid-Afrikaanse ekonomie, wat dikwels ’n goeie barometer is van hoe gesond of veerkragtig die werklike ekonomie op die grondvlak is.

Mpumi Madisa, uitvoerende hoof van Bidvest, het Maandag gesê Bidvest het wel daarin geslaag om te midde van die beperkende handelsomgewing sy omset in die halfjaar met 3,4% tot R44,4 miljard te verhoog, en die genormaliseerde wesensverdienste per aandeel is 6,1% beter op 651,6c. Die groep kon dus ’n tussentydse dividend van R2,90 per aandeel verklaar, wat 2,8% meer as die vorige vergelykende tydperk s’n is.

Aandeelhouers op die JSE het Maandag van dié nuus gehou, en teen laatoggend was sy aandeelprys 3% sterker op byna R174.

Bidvest het oor die halfjaar voordeel getrek uit die groter vraag na skoonmaakdienste, selfdoenprodukte en grootmaatkommoditeite, veral danksy die konsolidasie van PHS, ’n nuwe verkryging van Bidvest in Brittanje wat die voorste verskaffer van higiënedienste daar is.

Maar aan die ander kant is Bidvest sleg getref deur die gebrek aan vraag na reis- en verwante sektore en gasvryheidsdienste wat grootliks gesluit was, het Madisa verduidelik.

Danksy streng koste- en margebeheer kon die groep die negatiewe uitwerking van die laer vraag in sekere bedryfsektore tot die minimum beperk, en het Bidvest daarin geslaag om sy kontant uit bedrywighede byna tot R6,2 miljard te verdubbel.

Tot 95% van Bidvest se werkers is te midde van die pandemie weer terug by die werk, vergeleke met 75% van die werkers wat nie tydens die hoogtepunt van die inperking in 2020 kon werk nie. Bidvest het egter 44 werknemers weens Covid-19 aan die dood afgestaan.

Ondanks laer motorverkope kon Bidvest se motorafdeling winsgroei toon danksy beter doeltreffendheid en die bestuur van uitgawes.

Bidvest het al in Junie verlede jaar gewaarsku dat hy weens die Covid-19-inperking werknemers in al ses van sy afdelings kan aflê.

Die vragafdeling het ook stewige wins behaal danksy die herstel in grootmaat- en landbouvolumes in die halfjaar, hoewel algemene in- en uitvoervolumes nog teleurstellend laag is.

Bidvest se finansiëledienste-afdeling het swakker gevaar weens laer rentekoerse en die swakker vraag na buitelandse valuta omdat mense wat nie juis kon reis nie.

Bidvest het in die oorsigtyd sy belang van 6,75% in die Mumbaai-lughawe in Indië verkoop, en die kontant van R1 miljard daaruit is gebank. Die verkoop van Bidair Services, wat hanteringsdienste op lughawens lewer, is ook beklink en die proses om Bidvest Car Rental te verkoop is aan die gang.

Ná die einde van die halfjaar het Bidvest se Britse onderneming Noonan nog ’n oorname vroeg in Februarie beklink deur Axis Group vir sowat R480 miljoen te koop. Axis Group verskaf veiligheids- en skoonmaakdienste.

Meer oor:  Bidvest
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.