Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Bidvest stil oor afleggings by sy lugvaart-sake

Die gediversifiseerde nywerheidsdienstegroep Bidvest wil niks sê oor berigte dat hy weens die impak van Covid-19 op sy lugvaartbedrywighede bykans 3 400 van sy werknemers in die pad kan steek nie.

Bidvest het al in Junie gewaarsku dat hy weens die Covid-19-inperking werknemers in al ses van sy afdelings kan aflê.

Inligting waaroor die aanlyn nuusdiens Business Insider in Junie berig het, dui daarop dat Bidvest se lugvaart-dienstemaatskappye begin het met amptelike afleggingsprosesse, wat tot 87% van sy personeel kan raak. Dit sluit in BidAir Services, BidAir Cargo en Bidvest Premier Lounges.

’n Bidvest-woordvoerder wou by navraag geen kommentaar op die berigte lewer nie.

Bidvest het wel aan die begin van Junie in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens gewaarsku dat die Covid-19-inperking ’n ontwrigtende impak op sy dienstebedrywighede het en dat hy afleggings in al ses sy afdelings kan oorweeg om in die toekoms mededingend te kan bly.

In April was die sakevolumes en vraag na sy algemene vrag-, gasvryheids-, reis- en lugvaartdienste bykans niebestaande.

BidAir Services lewer passasiers- en ander hanterings- asook skoonmaakdienste aan meer as 25 internasionale en binnelandse lugdienste wat Suid-Afrikaanse lughawens gebruik. BidAir Cargo is ’n vraglugdiens met vier Boeing 747-vragvliegtuie, wat oornag-aflewerings binne Suid-Afrika behartig, en met eksklusiewe ooreenkomste met ander lugdienste lewer hy ook lugvrag deur die res van Suider- en Oos-Afrika.

Bidvest Premier Lounges bedryf lughawesitkamers op die Acsa-lughawens in Johannesburg, Durban, Kaapstad, George, Oos-Londen, Port Elizabeth, Bloemfontein asook op Lanseria, maar al sy sitkamers is tans gesluit, volgens sy webblad.

Bidvest het ’n fonds van R400 miljoen gestig om sy Suid-Afrikaanse werknemers te ondersteun wat nie tydens die inperking kan werk nie, en die uitvoerende bestuur en direksie het 30% van hul salarisse en direkteursgelde aan die fonds geskenk.

Bidvest het ook namens sy werknemers by die Werkloosheidsversekeringsfonds om tydelike verligting vir sy personeel aansoek gedoen.

Benewens die regstreekse impak op sy lugvaartverwante ondernemings is Bidvest ook geraak deur sy 27,2%-belang in die lugdiensmaatskappy Comair, wat intussen in sakeredding geplaas is.

Hy het besluit om sy belegging in Comair af te skryf, en gaan dus in die boekjaar tot einde Junie ’n kapitaalafskrywing van R232,2 miljoen vir sy belegging in Comair, asook sy belang in Comair se bedryfsverliese van R209,7 miljoen doen. Die netto impak vergeleke met die vorige boekjaar is dat sy toeskryfbare verdienste met R373,7 miljoen verlaag sal moet word.

Meer oor:  Bidvest  |  Afleggings  |  Vlak 3  |  Inperking  |  Logistiek  |  Covid-19  |  Lughawens  |  Staat Van Inperking  |  Lugdienste  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.