Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Bied SAL se internasionale sake aan hoogste bieër’

As Suid-Afrika ’n internasionale lugdiens benodig, hoef dit nie die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te wees nie. Die SAL behoort in twee verdeel te word en ’n internasionale lugdiens kan die SAL-handelsmerk oorneem om ’n nuwe internasionale lugdiens as die nasionale vlagdraer te bedryf.

Terry Markman, vervoerkonsultant.

Dit is van die voorstelle van Terry Markman, ’n vervoerkonsultant wat vroeër lid was van die lugdiensdereguleringskomitee.

Internasionale lugdienste kan genooi word om te tender om die internasionale deel van die SAL te bedryf tot voordeel van Suid-Afrikaanse toerisme en om regstreekse buitelandse investering te lok. Die aanloklikheid van die voorstel is dat die lugdiens die SAL se bestaande bilaterale ooreenkomste en veral die hoogs waardevolle landingsgleuwe by ’n hele aantal bedrywige en gewilde internasionale lughawens soos Heathrow in Londen en die JFK-lughawe in New York kan oorneem.

Die SAL kon tot dusver nie daarin slaag om al sy bestaande bilaterale ooreenkomste te benut nie, terwyl buitelandse lugdienste op hul beurt al hul landingsgleuwe in Suid-Afrika benut en selfs op meer aandring, sê Markman in ’n artikel wat hy namens die Vryemarkstigting geskryf het.

Die belegging van die suksesvolle bieër kan gebruik word om van die SAL se lenings af te betaal. Die regering kan vir die res pa staan.

Die suksesvolle bieër kan die personeel en bates wat hy nodig het oorneem, asook die internasionale deel van die SAL se lojaliteitsprogram, Voyager. Die ander bates kan verkoop word en die oorblywende personeel sal afgelê moet word. Maar Markman sê ’n vooraanstaande arbeidsregsgeleerde glo die meeste personeel sal die aanbod van ’n pakket en heropleiding aangryp.

Die belegging van die suksesvolle bieër kan gebruik word om van die SAL se lenings af te betaal. Die regering kan vir die res pa staan.

Die oorblywende ou SAL kan hom dan net op binnelandse vlugte toespits.

Markman sê huidige wetgewing sal vereis dat die nuwe internasionale lugdiens ’n Suid-Afrikaanse meerderheidsaandeelhouer moet hê, maar dit hoef nie die regering te wees nie. As die regering geen rol speel in die nuwe maatskappy nie, sal daar nie die politieke inmenging wees wat die SAL in korrupsie en swak bestuur laat verval het nie.

Volgens Markman werk die SAL se huidige strategie nie. Deur ’n paar internasionale roetes te sluit en van sy binnelandse roetes aan sy laekostefiliaal Mango oor te gee is dieselfde as om die dekstoele op ’n sinkende skip rond te skuif.

Die werklikhede van die snelle ontwikkeling in die moderne lugvaartmark word nie deur die SAL begryp nie, sê Markman. Daar is stygende verliese, geen bedryfskapitaal om nuwe brandstofdoeltreffender vliegtuie te koop nie, ’n gebrek aan vaardighede op alle vlakke, ’n opgeblase en oorbetaalde werkmag, chaotiese interne stelsels, geen beheer oor voorraad nie en ’n nimmereindigende behoefte aan reddingsboeie deur belastingbetalers, asook gedurige politieke inmenging.

Dis vir hom absurd dat die regering meen ’n deel van die oplossing is om die SAL met SA Express, nog ’n staatslugdiens wat verliese ly, te laat saamsmelt. “Dink net daaraan: Iemand glo die oplossing vir die SAL se probleem is om dit met ’n ander lugdiens saam te voeg wat in dieselfde treurige toestand is en dat twee mislukkings saam op ’n sukses sal uitloop. Absurd!”

Die idee om die SAL in twee te verdeel kan dalk wortel skiet as die regering sukses behaal met die verdeling van Eskom, maar Linden Birns, nog ’n onafhanklike lugvaartkenner, meen nie dis billik om die SAL met Eskom te vergelyk nie, want die lugdiens is nie ’n monopolie-diensverskaffer soos Eskom nie.

Birns meen Markman se voorstel is interessant, maar hy weet nie of dit al elders in die wêreld probeer is nie.

Dr. Joachim Vermooten, ’n vervoerekonoom wat voorheen as lugvaartspesialis by die departement van openbare ondernemings gewerk het, is ook genader vir kommentaar oor dié voorstelle van Markman, maar het nog nie op navrae gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.