Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Bierreus wed op Chinese, Australiese dors
beer
Suid-Afrikaners drink in die algemeen baie minder bier as voorheen. Foto: Unsplash

Anheuser-Busch InBev (AB InBev), die wêreld se grootste bierbrouer, gaan sy bedrywighede in Asië en die Stille Oseaan-streek in Hongkong noteer.

Dit beteken beleggers kry nog ’n manier om te belê in die potensiaal van biere soos Baisha en Harbin in China, Foster’s en Victoria Bitter in Australië en Cass in Suid-Korea.

AB InBev het by die Hongkongse aandelebeurs aansoek gedoen vir ’n aanvanklike openbare aanbod. Hy gaan ’n minderheidsbelang in sy Asië-Stille Oseaan-afdeling in Hongkong noteer.

Dié notering gaan na verwagting ’n markwaarde tot $70 miljard op dié streek plaas.

AB InBev wil die geld wat hy met die notering invorder, gebruik om sy skuld te verminder en vir verkrygings en uitbreiding in die streek.

Volgens AB InBev se resultate vir die boekjaar tot Desember 2018 verkoop hy 104 miljoen hektoliter bier en koeldrank in die streek vir ’n inkomste van $8,5 miljard en ’n bruto wins van $4,9 miljard.

Voor AB InBev se verkryging van SABMiller in 2016 het SABMiller sy 49%-belang in China Resources Snow (CR Snow) terugverkoop aan China Resources. Dié onderneming vervaardig Snow-biere, die wêreld se topverkoper hoewel dit net in Asië te koop is.

Verlede jaar het Heineken ’n 21%-belang in China Resources se bierafdeling, nou bekend as CR Beer, bekom.

Snow was een van verskeie biere wêreldwyd – waaronder Miller in die VSA, Peroni in Italië, Grolsch in Nederland en Meantime in Brittanje – wat verkoop is om mededingingsowerhede se goedkeuring vir die verkryging te bekom.

CR Snow se markaandeel van bierverkope volgens volume in China was in daardie stadium 23% en AB InBev s’n 14%.

Volgens Euromonitor is China Resources se markaandeel nou nagenoeg 22%, terwyl AB InBev s’n tot 16% gestyg het. Die brouer Tsingtao lê op nagenoeg 18%.

AB InBev is self sedert 1984 in China en brou Budweiser by 40 brouerye in dié land. Hy besit ook Harbin en Zhujiang, twee van die tien gewildste biere in China, volgens Wikipedia.

In die hele streek het die groep meer as 50 handelsname.

Die volume bier wat in China verkoop word, styg baie stadig, maar al hoe meer verbruikers skakel oor van goedkoper biere soos Snow na AB InBev se Budweiser en Stella Artois, Heineken en Carlsberg.

Bloomberg raam dat die mark binne vier jaar met 21% tot $106 miljard se verkope sal styg.

Meer oor:  Ab Inbev  |  China  |  Australië  |  Drank  |  Alkohol  |  Bier  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.