Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Binnekort nuwe lywe by staatsbedrywe
Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.Foto: Deaan Vivier

Uitgebreide veranderings word vir Suid-Afrika se sukkelende staatsondernemings beoog.

Dít blyk uit ’n wydlopende onderhoud wat Pravin Gordhan, die nuwe minister van openbare ondernemings, enkele dae gelede met Bloomberg gevoer het oor die regering se planne om die kraan van korrupsie by instellings soos Eskom, Denel en die Suid-Afrikaanse Lugdiens toe te draai.

Die inhoud van die gesprek is eers Dinsdag deur die nuusagentskap bekend gemaak en dit blyk daaruit dat Gordhan selfs vóór die skorsing van Tom Moyane as kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) Maandagaand deur pres. Cyril Ramaphosa, ’n sterk aanduiding gegee het dat dit sou gebeur.

Verskeie staatsinstellings het die afgelope jare herhaaldelik reddingsboeie van die regering gekry terwyl hul skuldvlakke onvolhoubaar hoog geword het en al hoe meer skandale oor gebrekkige bestuur en staatskaping by die instellings oopgevlek is.

Die regrukpoging gaan by die hoogste bome begin.

“Feitlik elke entiteit onder ons toesig en verantwoordelikheid gaan verandering sien wat hul direksies betref,” sê Gordhan.

Feitlik elke entiteit onder ons toesig en verantwoordelikheid gaan verandering sien wat hul direksies betref
Pravin Gordhan

“As jy die negatiwiteit en sommige van die negatiewe mense uithaal, verander jou bedrywighede by die instelling. Dan verander jou finansiële geloofwaardigheid en daarmee saam jou vermoë om geld te leen.”

Ná minder as ’n maand in sy nuwe rol het Gordhan reeds sy fokus op sommige van die ernstigste kwessies verskerp wat nie net die staatsinstellings nie, maar ook die land se ekonomie knou.

Eskom, wat desperaat is om finansiering te bekom, sal teen die middel van April nuwe uitvoerende bestuurslui hê.

’n Volhoubare oplossing wat nie ’n las op die staat sal wees nie word ook gesoek vir die skuldbelaaide Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap, sê Gordhan.

Gordhan waarsku ook dat verandering by die SAID onvermydelik is, want die leierskap het “alle geloofwaardigheid verloor”.

Slegs enkele dae later het Ramaphosa vir Moyane, ’n Zuma-lojalis, geskors en vir Mark Kingon as waarnemende hoof aangestel.

“Meer hiervan sal in die volgende drie tot vier weke kom soos wat ons elke dag ons voorneme uitvoer om die regte dinge te doen,” sê Gordhan.

Hy glo sukses met die regrukpogings sal staatsinstellings in staat stel om hul skuld te herfinansier, af te betaal of om nuwe uitstel te kry wanneer die skuld betaalbaar raak.

Een faktor wat beleggers se sentiment ’n hupstoot kan gee, is as Moody’s Investors Service besluit om nie Vrydag die land se skuld in randwaarde tot rommelstatus af te gradeer nie.

Moody’s se ontleders is volgens Gordhan “betreklik positief” oor die politieke veranderings in die land.

Hulle het reeds met die president vergader – iets wat hulle volgens Gordhan nooit in die Zuma-tydperk kon doen nie.

Hoewel die regering reeds met finansiële instellings begin praat het oor hoe hulle staatsondernemings kan help, is daar nog geen tenders uitgereik nie.

Banke het voorheen vir ’n reeks kontrakte gebie – insluitend die herfinansiering en herstrukturering van skuld en die notering van staatseffekte.

Die regering wil die staatsmaatskappye se finansiële verpligtinge “in die een of ander samehangende vorm” byeenbring, het Gordhan aan Bloomberg gesê, maar nie enige verdere besonderhede verstrek nie.

“In hierdie stadium is dit alles gefragmenteerd, so jy moet probeer wegkom van vure doodslaan tot ’n situasie waar jy ’n meer strategiese oorsig het.”

’n Hersiening van die bestuur van staatsbeheerde instellings en ’n skuif om hulle finansieel volhoubaar te maak sal sakevertroue – wat reeds op die hoogste vlak in meer as drie jaar is – ’n verdere hupstoot gee.

“Die belangrikste is dat ’n nuwe platform geskep is. Daar is ’n tasbare atmosfeer van verandering in die land. Jy bou dan voort op daardie hoop en optimisme.”

– Bloomberg, verwerk

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.