Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Blinde geloof’ in Wiese bring pyn vir beleggers
Magda Wierzycka

Magda Wierzycka, die uitgesproke uitvoerende hoof van Sygnia Batebestuur, het Donderdag in ’n verklaring ingeklim onder batebestuurders wat ’n blinde geloof in Christo Wiese se Midas-aanraking gehad het.

Hier is haar  brief vertaal:

Die fiasko by Steinhoff het selfs die mees gesoute batebestuurders geskok. Dit is die grootste skandaal nog op die JSE.

Die beweringe oor winssyfers wat gemanipuleer is, onbeheerste verkrygings en belastingbedrog is net die punt van die ysberg.

Ander probleme sluit in maatskappye wat van die balansstaat verwyder is om verliese te verberg, bestuurders wat met mekaar saamgewerk het om beleggers te bedrieg, en skuld wat teen ’n massiewe pas aangegaan is.

Die waarskuwingstekens was almal daar.

Die voor die hand liggendste was die siniese skuif deur aandeelhouers in PSG om hul aandele te verruil vir aandele in die Frankfurtse genoteerde Steinhoff. Daarmee is hul welvaart oorsee geneem sonder dat goedkeuring onder die valutabeheerreëls van die Reserwebank nodig was.

Dit moes reeds ’n duidelike aanduiding gewees het dat dit nie werklik steunpilare van die gemeenskap is waarmee mens te doen het nie.

Talle mense word geïmpliseer en meer gaan na vore kom.

Die groot vraag is: Hoe het so baie aktiewe batebestuurders in Suid-Afrika dit misgekyk?

Hulle spog met hul noukeurige navorsing, die kritiese ondersoek van balans- en inkomstestate, en dat dit ondersteun word deur onderhoude wat met die bestuur van maatskappye gevoer word.

Hulle moes raakgesien het wat van die begin af duidelik was, en dit is dat hierdie so naby aan ’n korporatief-gestruktureerde Ponzi-skema is as kan kom.

Toe ek na die finansiële state van Steinhoff gekyk het (terloops, dis nie my voltydse werk nie) het ek nog ’n Net1-oomblik gehad.

Dit het my omtrent ’n halfuur geneem om te besef die struktuur is duister, sekere finansiële items maak nie sin nie, dat die verkrygingsgefuif niks met logika te make het nie en te dol is om weloorwoë te wees, en dat die skuldvlakke buite beheer is.

Ek is uitgesproke oor baie dinge.

Die regte vrae is nie gevra nie, die strukture is nie in genoegsame detail ontleed nie, die wins-teenoor- skuld-berekeninge is nie gedoen nie, en die bestuur se woord is geglo.

Ek gaan dié keer die grense verskuif en die aanspreeklikheidsklousule wat die meeste batebestuurders in hul bestuursooreenkomste het, op die proef stel – naamlik die een oor growwe nalatigheid.

Die meeste batebestuurders dink dit hou verband met nalatigheid ten opsigte van bedryfsprobleme en administratiewe foute. Ongelukkig vir hulle dek dit ook nalatigheid ten opsigte van portefeuljebestuur.

Ek glo vas die blinde geloof in Christo Wiese en dat alles waaraan hy raak in goud verander, baie laat vergeet het van die vanselfsprekende.

Die regte vrae is nie gevra nie, die maatskappystrukture is nie in genoegsame detail ontleed nie, die wins-teenoor- skuld-berekeninge is nie gedoen nie, en die bestuur se woord is geglo.

Dit het alles plaasgevind teen die agtergrond van batebestuurders wat die teenoorgestelde in hul bemarking sê en hul beleggers vir die voorreg laat betaal. Dus kan ’n mens aanneem die bemarking was op sy beste ’n wanvoorstelling weens onbevoegdheid of op sy ergste vals.

Kritici sal my dadelik daarvan beskuldig dat ek dit gebruik as ’n geleentheid om passiewe batebestuur of indeksvolgfondse te bemark.

So, laat ek my gevestigde belange verklaar: Ek glo nie dat aktiewe batebestuurders genoeg waarde toevoeg vir die fooie wat hulle van beleggers hef nie.

Net1, Abil, Steinhoff – die veld is besaai met batebestuurders wat die voor die hand liggende misgekyk het.

As daar enige batebestuurders is wat eties is, bewys dit en gebruik die prestasiegelde wat julle in die verlede verdien het en vergoed beleggers nou vir die vernietiging van waarde. Ek daag julle uit.

Maar om ’n aktiewe batebestuurder te vra om sy hand in sy eie sak te druk, is om bloed uit ’n klip te wil tap.

Die gierigheid is weergaloos. Ek glo dit is nou tyd om op te dok.

Meer oor:  Steinhoff  |  Sygnia  |  Christo Wiese  |  Magda Wierzycka  |  Batebestuurders  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.