Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Blink syfers vir ringe, horlosies ondanks pandemie

Dis geen verrassing dat die verkope van juweliersware en horlosies deur die pandemie en gepaardgaande swak ekonomie beïnvloed is nie.

Aanlyn verkope van juweliersware het verbasend goed gedoen ten spyte van die pandemie. Foto: Unsplash

Nietemin het NWJ, Arthur Kaplan en World’s Finest Watches die storm verbasend goed getrotseer – en soos met alle ander kleinhandelaars het die aanlyn verkope van juweliersware die hoogte ingeskiet.

Luxe, wat dié winkels besit, het bekend gemaak sy inkomste vir die boekjaar tot einde Februarie het met 21% tot R362 miljoen gedaal vergeleke met die vorige boekjaar, maar sy winsgrense het wel verbeter.

Aanlyn verkope het meer as verdubbel – dit het met 236% opgeskiet. Arthur Kaplan het eers verlede jaar ’n e-winkel oopgemaak. As net winkels wat reeds voor verlede jaar aanlyn was, in ag geneem word, was verkope steeds 174% meer as die vorige boekjaar.

Duncan Crosson, uitvoerende hoof, sê aanlyn verkope sal ’n belangrike fokuspunt bly, veral om plekke te bedien waar die groep nie winkels het nie en ook om ’n veilige koopervaring te bied vir mense wat winkels steeds vermy. Jonger mense verkies ook die gerief van aanlyn inkopies.

Die syfers is net vir voortgesette bedrywighede. Luxe is gebore uit die as van Taste Holdings, wat primêr ’n kosgroep was en onder meer Starbucks, Domino’s Pizza en Scooters besit het, tesame met die juweliersware-afdeling.

Taste het sy meesterlisensie en plaaslike takke van Starbucks verkoop, en die ander winkels is op 19 Maart 2020 gelikwideer.

Juwelierswarewinkels was van 26 Maart tot 31 Mei 2020 toe ingevolge vlak 5- en vlak 4-regulasies. Crosson sê daardeur het nagenoeg R73 miljoen se verkope verlore gegaan.

Die maatskappy het koste beperk, insluitend deur afslag op huur te beding en personeel se skofte in te kort, en planne vir die opgradering van Arthur Kaplan-winkels vir eers op te skort. (Twee winkels is wel opgegradeer omdat die projekte begin is voor die aanvang van die Covid-19-pandemie.)

“Ons begin die nuwe boekjaar met ’n gesonde balansstaat.”

Crosson sê Luxe sal voortgaan om in nuwe geleenthede te belê.

“Die pandemie het ’n meer vloeibare omgewing geskep waarin geleenthede waarskynlik sal opduik. Ons is baie bewus daarvan dat nuwe geleenthede waarde vir belanghebbendes moet skep, ons sterk punte moet ondersteun en ’n gesonde opbrengs op kapitaal moet skep.”

In syfers
  • Inkomste het met 21% tot R362 miljoen gedaal.
  • Bruto wins het met 15% tot R59 miljoen gedaal.
  • Die bruto winsgrens het van 40,8% tot 43,9% gestyg.
  • Winkels se bruto winsgrens het van 41,1% tot 44% gestyg.
  • Die afdeling vir juweliersware en horlosies se bedryfswins het met 38% tot R16,9 miljoen gestyg. In die eerste halfjaar (Maart tot Augustus) is ’n verlies van R5,7 miljoen gely en in die tweede helfte is ’n wins van R22,6 miljoen gemaak.
  • Die wesensverlies uit voortgesette bedrywighede was 60,2c per aandeel.
  • Geen dividend is uitgekeer nie.


    NWJ

    NWJ het ’n wisselvallige jaar gehad. Verkope oor Swart Vrydag en Kersfees was teleurstellend, maar die winkels wat nie in groot winkelsentrums geleë was nie en aanlyn verkope het goed gevaar.

    In geheel het verkope met 5,5% gedaal in winkels wat in albei boekjare oop was.

    Aanlyn verkope het met 159% gestyg.

    Die winkels se bruto winsgrens het van 60,9% tot 64,6% gestyg.

    Ses winkels wat onderpresteer het, is toegemaak en nog winkels gaan in die jaar wat kom, toegemaak word.

    Daar is nou 48 NWJ-winkels (teenoor 54 in die 2020-boekjaar); veral franchise-winkels word óf omgeskep in korporatiewe winkels óf toegemaak.

    Arthur Kaplan en World’s Finest Watches

    Dié afdeling het ’n uitstekende Swart Vrydag en Kersfees gehad. Verkope is effens verlam deur beperkte voorraad uit Switserland.

    Vir winkels wat in albei boekjare oop was, het met 2,9% gestyg.

    Aanlyn verkope het met 581% opgeskiet.

    Bruto winsgrens het van 29,6% tot 31,8% gestyg.

    Een Arthur Kaplan-winkel is gesluit en daar is nou ses. Daar is steeds slegs een World’s Finest Watches-winkel.

    Meer oor:  Resultate  |  Maatskappye  |  Kleinhandel  |  Juweliersware  |  Horlosies  |  Aanlyn Inkopies
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.