Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Bloeiende’ groenteburger maak opslae op beurs

Die Beyond Meat-maatskappy, wat internasionale lof ontvang vir sy ultra-realistiese groenteburgers, het Woensdag met sy aanvanklike notering op die New Yorkse aandelebeurs $241 miljoen gegenereer, 30% meer as verwag.

beyond meat,vegan,burger
Die Beyond Meat streng vegetariese hamburgerfrikkadel lyk en proe soos regte vleis al word dit totaal en al uit groente gemaak. Foto: Beyond Meat

Die vervaardiger van streng vegetariese hoender- en beesvleis-plaasvervangers het Woensdag 9,63 miljoen aandele teen $25 elk verkoop, wat die hoogste prys van sy beplande teikenband van $23 tot $25 was.

Dit beteken die Amerikaanse maatskappy word nou teen $1,5 miljard gewaardeer.

Beyond Meat, wat deur beroemdes soos onder andere Microsoft se Bill Gates en die akteur Leonardo DiCaprio ondersteun word, vervaardig “vleis” uit groente wat so na as moontlik aan die ware Jakob is.

Sy beesvleis-plaasvervangers word uit ertjieproteïene en beetsap gemaak wat die vleisagtige gedoente laat “bloei” wanneer dit gebraai word, nes rou vleis. Maar Beyond Meat se produkte spog ook met hul gesondheid: Elke hamburgerfrikkadel bevat slegs 5 gram vet en het geen cholesterol nie. ’n Normale hamburgerfrikkadel bevat 9 gram vet en 80 miligram cholesterol.

Beyond Meat verskaf sy produkte aan restaurante en kruidenierswinkels oor die hele Amerika heen in ’n tyd waarin vleisplaasvervangerverkope in Januarie op ’n jaargrondslag met 19,2% tot bykans $900 miljoen in Amerika toegeneem het.

Maar al maak Beyond Meat wêreldwyd opslae met sy hamburgers wat volgens die meeste berigte nie van regte vleis onderskei kan word nie, is sommige beleggers steeds bekommerd oor die notering.

Een voedselbedryfkonsultant het aan Bloomberg gesê beleggers bou steeds nog bloot op verwagtinge, want Beyond Meat ly nog ’n verlies.

In 2018 het sy verlies wel gekrimp te midde van bruto inkomste wat tot $87,9 miljoen verdubbel het. Dit was die tweede agtereenvolgende jaar wat sy inkomste verdubbel het, en die verlies het van $30,4 miljoen tot $29,9 miljoen gekrimp.

Beyond Meat se waardasie in sy notering is “heeltemal redelik solank daar internasionale potensiaal en ’n goeie produk is, asook die vermoë om geld in sy kernwinsstruktuur te maak,” het Robert Lawson van Food Strategy Associates in Londen gesê.

“Maar dis nie duidelik of Beyond Meat dit het nie.”

Die maatskappy sal sy produkreeks moet uitbrei om buite Amerika te slaag waar burgers nie so gewild is nie, het Lawson bygevoeg.

Beyond Meat se groot aandeelhouers sluit nou in die voormalige uitvoerende hoof van McDonald’s, Don Thompson, asook die medestigter van Twitter, Ev Williams, wat 9% besit.

Meer oor:  Beyond Meat  |  Vleisbedryf  |  Hamburger  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.