Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Blue Label sluit WiConnect-winkels weens inperking

Blue Label Telecoms verwag ’n skerp styging in sy verdienste per aandeel vir die boekjaar tot einde Mei, maar gaan steeds ’n verlies toon.

WiConnect
Die WiConnect-winkel in Centurion-winkelsentrum wat tydens die staat van inperking sy deure gesluit het. Foto: Verskaf

Die sukkelende telekommunikasiegroep, wat 45% van die beleërde selfoonmaatskappy Cell C besit, het Maandag in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, die mark van sy “goeie nuus” ingelig.

Die maatskappy is nog nie seker met hoeveel sy verdienste, wesensverdienste en kernwesensverdienste per aandeel styg nie, maar dit sal met meer as 20% verbeter, reken Blue Label.

Die verlies wat hy gely het in Mei 2019 was egter enorm, grotendeels omdat hy onder meer die ganse waarde van sy belegging van R5,5 miljard in Cell C moes afskryf.

In Mei 2019 was sy verlies per aandeel R7,27, die wesensverlies R3,12 en die kernwesensverlies per aandeel R3,04.

Blue Label verwag nou dat ’n R330 miljoen verlies bygelas sal moet word aan sy jaarresultate weens, onder meer, die sluiting van sy WiConnect winkels.

Hy sê ’n omkeerplan vir dié winkels het misluk, grotendeels weens die staat van inperking. Dit gaan hom R30 miljoen kos net om die kettingwinkels te sluit.

Maar Blue Label is ook blootgestel aan die sukkelende Edcon wat tans in sakeredding is.

Volgens die maatskappy is “volledig” vir sy blootstelling van R49 miljoen aan Edcon voorsiening gemaak. Dit is dus ingesluit by die verlies van R330 miljoen.

Maar saam met dié koste is ’n groot deel ook vir waardevermindering geoormerk, wat dus ’n hupstoot gee aan sy verdienste, al is dit eintlik ’n verlies. Blue Label sê hy sal in ’n later stadium meer besonderhede hiervan kan gee.

Blue Label sê wel dat sy balansstaat aangehelp is deur sy sterk bedryfsinkomste vir die jaar, asook die invordering van kapitaal vir sy 3G-onderneming wat hy verkoop het.

Die geld wat hiervoor ontvang is, is gebruik om skuld te verminder, wat hom ’n beduidende hupstoot gegee het.

Meer oor:  Cell C  |  Wiconnect  |  Blue Label  |  Afskrywing  |  Selfoonmaatskappy
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.