
Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens se direksie. Foto: Deon Raath
Daniel Mahlangu van BnP Capital het ingestem om dokumente wat met sy ooreenkoms met die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) verband hou aan die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) beskikbaar te stel.
Outa het in 2016 ’n regsproses begin om Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL se direksie, as direkteur onbevoeg te laat verklaar.
Outa vermoed Myeni was by “twyfelagtige ooreenkomste” tussen die SAL en BnP Capital betrokke. Dit het glo tot die lugdiens se finansiële penarie bygedra.
Mahlangu is die uitvoerende hoof van BnP Capital.
Outa het bevestig Mahlangu se prokureurs het ingestem om aan Outa se lasbrief te voldoen, wat eis dat hy alle dokumente wat verband hou met die ooreenkomste aan Outa beskikbaar stel.
Volgens Outa het Mahlangu aanvanklik geweier om dit te doen en het ’n aansoek aan die hof gerig om die bevel tersyde te stel.
“Mahlangu se voortdurende verdediging en beskerming van Dudu Myeni is verdag. Dit laat ons dink dat dokumente weerhou word wat verdoemende bewyse kan bevat,” sê Rudie Heyneke, portefeuljebestuurder van vervoer by Outa.
Outa glo dat as “al die feite beskikbaar is” dit lig op Myeni se betrokkenheid daarby sal werp.
“Mahlangu se versoek was vandeesweek op die hofrol. Sy prokureurs het egter ure voordat dit voor die hof sou dien die aansoek onttrek en ingestem om die dokumente te verskaf.”
Van die redes hoekom Outa Myeni as onbevoeg wou laat verklaar, is juis oor die aanstelling van BnP Capital as raadgewer oor transaksies. Outa sê dit was onnodig.
Outa het die SAL in 2016 ook voor die hof gedaag omdat hy beweer het die proses waarvolgens BnP Capital aangestel is, was verkeerd. Outa wou keer dat BnP Capital se aandeelhouers R256 miljoen uit die ooreenkoms met die SAL verdien.
Outa beweer dat die kontrak gekanselleer is nadat hy die aansoek gebring het.
Outa beweer verder Myeni het die plan ondersteun om nadat die kontrak gekanselleer is BnP Capital R49,9 miljoen te betaal. – Fin24, verwerk
https://www.fin24.com/Companies/Industrial/bnp-capital-boss-will-hand-over-documents-relating-to-saa-deal-outa-20180803