Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Boeing 747 se vlerke geknip ná ’n halfeeu se glorie
’n Paar van British Airways se vloot 747’s op die Heathrow-lughawe in Londen. BA is die grootste gebruiker van dié ikoniese vliegtuig, maar het alle vlugte met 747’s opgeskort en aangekondig hy gaan dié staatmaker nie verder gebruik nie.F oto: Reuters

Een van die wêreld se mees ikoniese vliegtuie, Boeing se 747, se tyd is verby – net meer as 50 jaar nadat sy in diens getree het.

Die eerste passasiersvlug met ’n 747 – wat die “Jumbo Jet”, “koningin van die lugruim” en selfs die “walvis” gedoop is – is in Januarie 1970 onderneem.

Die vliegtuig het gou ’n gunsteling onder die publiek geword vanweë haar grootte, vier kragtige motore en herkenbare dubbelverdieping-ontwerp.

Sommige vroeë weergawes het luukse kroeë op die boonste dek agter die stuurkajuit gehad, selfs met ’n pianis agter ’n klavier vir vermaak.

Die vragweergawe se hele neus kon lig sodat groot, swaar vrag van voor in die wye ruim gelaai kon word. En Nasa het ’n 747 gekies om sy pendeltuig te “leer vlieg” deur hom tydens toetse op haar rug te abba.

Mens kan nie die 747 se impak op lugvaart oorbeklemtoon nie, asook op ’n land wat ver weg is van almal, soos Australië.

Die Jumbo Jet het nie net gou ’n gunsteling onder passasiers en lughawe-toeskouers geword nie, maar ook onder vlieëniers.

“Niemand kon dit regkry om weer so ’n perfekte vliegtuig te bou nie,” sê Karl Jensen, afge-trede vlieënier wat 27 jaar in die SAL se 747’s se stuurkajuit deurgebring het.

“Niks kom daarby nie. Die 747 was ’n vliegtuig vir vlieëniers,” sê Jensen. “Hulle is so maklik om te vlieg, betroubaar en solied.

“Jy kan in ’n kategorie 3- storm land, wat beteken jy land byna ‘blind’. Ek moes dit sewe keer doen.

“En die 747 het die turbulensie oor die Atlantiese Oseaan maklik hanteer. Dit is moeilik om vir iemand te beskryf hoe wild daardie omstandighede is.”

Jensen sê dit was net ’n voorreg om die 747 te vlieg.

“Ek mis dit vreeslik.”

’n 747 wat aan Nasa behoort, abba in 2001 die ruimtependeltuig by die Kennedy-ruimtesentrum in Florida. Foto: Reuters

Maar bowenal het die ingenieur Joe Sutter se ontwerp amper die hele wêreld vir passasiers bereikbaar gemaak soos nooit tevore nie.

Die 747 is ontwerp om Boeing se 707 op langafstandroetes te vervang nadat die lugdiens Pan-Am vir ’n vliegtuig gevra het wat twee keer groter as die suksesvolle 707 is.

Alan Joyce, bestuurshoof van Qantas in Australië, sê dit het ’n nuwe era ingelui van lang, ononderbroke vlugte en goedkoper vliegkaartjies omdat die 747 meer passasiers kon dra.

“Mens kan nie die 747 se impak op lugvaart oorbeklemtoon nie, asook op ’n land wat ver weg is van almal, soos Australië,” sê Joyce.

Die 747 het internasionale reise “binne bereik van die gemiddelde Australiër geplaas”.

Uiteindelik is 1 571 vliegtuie by Boeing bestel.

Trotse plaaslike geskiedenis

Die SAL het sy eerste 747, ’n 200-B-model met die roepsein ZS-SAN, op 22 Oktober 1971 ontvang.

Die Lebombo was die eerste van vyf wat by Boeing bestel is.

Karl Jensen, veteraanvlieënier, sê die Lebombo is later aan Nasa in Amerika verhuur, wat hom in toetse gebruik het. Hulle het hom kragtiger motore gegee en oorlaai om te sien of ’n 747 die pendeltuig sou kon dra. Dié vliegtuig het uiteindelik meer as 135 000 ure in die lug deurgebring.
Die SAL het 43 Jumbos oor ’n tydperk van drie dekades bestel. 30 is weer aan ander lugdienste verkoop, twee is afgeskryf en 11 is geskrap of word gestoor.

  • Toe die SAL se eerste 747SP op 23 Maart 1976 afgelewer is, het die vliegtuig ’n nuwe rekord vir die langste kommersiële vlug tot nog toe opgestel deur 16 560 km in 17 uur en 22 minute af te lê vanaf Seattle in Amerika.

  • ’n SP is ook gebruik vir die SAL se eerste geskeduleerde vlug tussen 
    Johannesburg en Sydney, Australië, op 6 Januarie 1977. Vir die eerste keer is flieks aan boord van ’n SAL-vlug vertoon.


  • Vlug 295 van die SAL tussen Taipei, Taiwan, en Johannesburg het op 28 November 1987 in die lug aan die brand geslaan en naby Mauritius in die see gestort. Al 159 mense aan boord het gesterf.









  • Einste Qantas se laaste 747-vlug het twee weke gelede opgestyg. Die lugdiens het bekend gemaak hy skort alle vlugte met sy Jumbo’s dadelik op, net soos British Airways, wat die grootste vloot van dié vliegtuie ter wêreld het.

    Delta was die laaste Amerikaanse lugdiens wat nog dié vliegtuig gebruik het en sy laaste vlugte is in Desember 2017 onderneem.

    Die skrif was lank reeds teen die muur omdat kleiner, tweemotorige passasierstralers deesdae ook lang reikafstande het, maar baie meer brandstofdoeltreffend is.

    Die koronavirus-pandemie het die 747 se einde verhaas.

    Volgens kenners gaan internasionale reise nie voor die middel van die dekade na normaal terugkeer nie.

    Die globale beperkings op reise na ander lande het ’n dramatiese daling in passasiersgetalle vir alle lugdienste tot gevolg gehad.

    Volgens die bank Credit Su-isse is sowat 91% van alle 747’s nog op die grond.

    Cirium, wat reisdata insamel, sê daar is steeds sowat 500 747’s in diens, maar net 30 van hulle is passasierstralers. Meer as 300 dra lugvrag en die res word gestoor.

    Die Amerikaanse presidensiële 747’s staan Woensdag op die Andrews-lugmagbasis in Maryland. “Air Force One” is eintlik twee vliegtuie wat om die beurt gebruik word. Een van hulle was die heel laaste 747-passasierstraler wat by Boeing bestel is. Foto: Reuters

    Boeing het die laaste paar jaar gemiddeld net ses 747’s per jaar vervaardig en het sedert 2016 sowat $40 miljoen per vliegtuig verloor wat reeds bestel is.

    Bloomberg berig die maatskappy se werknemers is nog nie daaroor ingelig nie, maar as mens tussen die lyne in Boeing se jongste jaarverslag lees, sien jy dat hy oor drie jaar sy laaste 747 gaan aflewer.

    Daar is nog net 15 bestellings oor – almal vir vragvliegtuie, waarvan ’n dosyn deur die koeriermaatskappy UPS bestel is.

    Die heel laaste passasiersvliegtuig wat bestel is, was Air Force One in 2017 vir die Amerikaanse president – waarskynlik die mees herkenbare 747 ter wêreld.

    Daar kan dus verwag word dat 747-vragdraers nog ’n paar dekades op lughawens se aanloopbane gesien sal word. Maar die ikoniese passasierstraler se era is verby en al hoe meer lugdienste gaan hul 747’s oor die volgende paar jaar onttrek.

    Hulle sal almal weldra ook hul laaste vlug aanpak – waarskynlik na die Boeing-”begraafplaas” in die Mojave-woestyn, wat grootliks in die Amerikaanse deelstate Kalifornië en Nevada lê.

    Dit was ook die eindbestemming van Qantas se vlug QF7474 verlede week. – Bronne: The Guardian, Business Insider, Bloomberg, Simpleflying.com, Wikipedia

    boeing 747

    Meer oor:  Boeing  |  Maatskappye  |  Vliegtuig
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.