Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
14 denoteer in ses maande op JSE

Die wilde markskommelings weens koronavirusvrese in die ses maande tot einde Junie was goed vir die JSE-groep se wins.

Die JSE-kantoor in Sandton, Johannesburg.

Sy inkomste én wins het met 22% opgeskiet; die inkomste tot R1,3 miljard in die halfjaar en die wins tot R485 miljoen.

Die groep, wat self op die JSE genoteer is, verdien sy inkomste uit die verhandeling van aandele en ander instrumente, noterings en die verkoop van data.

Sy inkomste uit die aandelemark het met 26% tot R260 miljoen gestyg.

Die prestasie weerspieël grootliks die invloed van die wisselvallige markte in reaksie op die koronaviruspandemie. Die finansiële markte was onstuimig en wisselvallig, met rekordhoë handelsvolumes, sê die groep.

Die JSE was dwarsdeur die staat van inperking oop en het ononderbroke verhandelings, klarings en vereffenings gedoen.

Sy inkomste uit die klaring en vereffening van transaksies het met 31% tot R240 miljoen gestyg.

Weens verhoogde wisselvalligheid was daar ’n wesenlike toename in sogenaamde “stroombrekers” – outomatiese verkoopopdragte as die mark verby ’n sekere punt val. Dit het bygedra tot die rekordverhandelings op sommige dae.

Baie denoterings in ses maande

Die JSE-groep se inkomstestrome sluit in noterings en jaarlikse noteringsgelde. Dié inkomste het net 2% tot R75 miljoen gestyg.

Daar was 14 denoterings (2019: 13) in die halfjaar weens swak marktoestande en die koste van voortgesette verpligtinge om genoteer te bly, veral vir maatskappye met ’n kleiner of middelslagmarkwaarde.

Die jaarverslag van die JSE vir die boekjaar tot einde Desember 2019 het getoon in die jaar was daar 24 denoterings.

Die toestande is vererger deur risikovermyding nadat Suid-Afrika se kredietgradering deur al drie die grootste kredietgraderingsagentskappe tot onder beleggingsgraad geval het en die land se staatseffekte in April amptelik uit die Wêreld-staatseffekte-indeks geval het.

Baie oorsese pensioenfondse moes as gevolg hiervan hul Suid-Afrikaanse staatseffekte verkoop.

Die JSE-groep se inkomste uit die effekte- en rentekoersmark waar maatskappye se skuldbriewe en staatseffekte verhandel, het met 15% tot R38 miljoen gestyg.

“Ons het ’n wesenlike uitvloei van buitelandse beleggers beleef, hoofsaaklik weens die pandemie-verwante vlug na veiliger markte, rentekoersverlagings en die verlaging van Suid-Afrika se skuldgradering deur Moody’s.”

Die JSE-groep se uitgawes het met 20% tot R801 miljoen gestyg, onder meer weens veranderinge aan die uitvoerende bestuurskomitee en handelsbeperkingsooreenkomste wat gesluit moes word. Dit het daartoe gelei dat personeelkoste met 12% gestyg het.

Meer oor:  Jse  |  Beurs  |  Covid-19  |  Effekte  |  Aandele  |  Resultate  |  Markte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.