Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Bos se rooibos-bemarking trek aandag oorsee

Suid-Afrika se rooibosystee, Bos Brands, se prettige bemarkingsveldtogte trek groot aandag oorsee.

Bos se rooibosystee is baie gewild. Foto: Instagram

’n Groep fietsryers met kameelperdkostuums wat blikkies ystee aan verbygangers uitdeel, skaatsplankpartytjies en koeldrankmasjiene wat deur twiets geaktiveer word, is maar enkele van die speelse aktiwiteite wat nuwe klante vir die handelsnaam lok.

“Heelwat van ons sukses is aan ons ongewone bemarking te danke,” het Dave Evans, uitvoerende hoof van Bos, aan CNNMoney gesê.

“Ons wil ’n glimlag op jou gesig sit en oomblikke van vreugde skep,” sê Evans, wat hom in 2010 by die maatskappy aangesluit het.

Bos Brands word deur die genoteerde Rhodes Food Group (RFG) versprei. Die Stellenbosse beleggingsmaatskappy Remgro hou ook deur sy waagkapitaalonderneming Invenfin ’n groot belang in Bos, wat uit rooibostee vervaardig word en sedert 2010 ’n groot omwenteling in die plaaslike ysteemark veroorsaak het.

Volgens Evans is dit juis die rooibostee-bestanddeel wat vir die produk harte wen in oorsese markte.

“Dis so eie aan Suid-Afrika en die gesondheidsvoordele is ’n groot aansporing vir verkope.”

Heelwat van ons sukses is aan ons ongewone bemarking te danke. Ons wil ’n glimlag op jou gesig sit en oomblikke van vreugde skep.
Dave Evans

Dié Suid-Afrikaanse drankie maak groot vordering in ’n groeiende mark vir topklaskoeldrank, insluitend gesondheidsdrankies.

Die internasionale vraag na gaskoeldrank het volgens Evans die afgelope dekade met 10% gedaal en ’n nuwe golf handelsname wat gesonder koeldrank verteenwoordig, geniet nou vinnige groei.

Volgens CNN is sir Alex Ferguson, voormalige bestuurder van Manchester United, een van die oorsese beleggers van Bos Brands met ’n belang van 10% in die maatskappy.

Bos het sy eerste internasionale kantoor in 2014 in Amsterdam geopen en verkoop nou ystee in 14 lande.

Evans sê die volgende groot mark om te verower, is Amerika.

Bos Brands is in Desember verlede jaar in San Diego in Kalifornië bekend gestel. Die VSA is die grootste ysteemark ter wêreld met jaarlikse verbruik van meer as 22 liter per capita. Evans meen tot die helfte van die handelsnaam se verkope kan binne drie jaar uit die VSA kom.

Meer oor:  Bos  |  Rooibostee  |  Maatskappye  |  Bemarking  |  Koeldrank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.