Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Bosasa-groep ‘is solvent’ en wil likwidasie stuit

African Global Beherend (AGB), die groep maatskappye wat voorheen as Bosasa bekend gestaan het, sê in ’n eedsverklaring voor die hof hy is solvent – maar sy likwidateur sê dis onwaar.

Cloete Murray, AGB se voorlopige likwidateur, sê egter in ’n opponerende eedsverklaring: “Die uitslag van ons voortgaande ondersoeke skets ’n ander prentjie.”

Murray se verklaring volg op AGB se dringende aansoek op 3 Maart by die hooggeregshof in Johannesburg om die resolusies vir sy likwidasie tersyde te laat stel.

Die aansoek word Dinsdag aangehoor.

Murray noem in sy eedsverklaring dat die funderende eedsverklaring deur Joe Gumede, voorsitter van die AGB-direksie, nie bewys dat die maatskappye wel solvent is nie.

Gumede erken in sy eedsverklaring dat die direksie die nodige likwidasie-dokumente onderteken het sonder om dit behoorlik te bestudeer. Dié dokumente is toe by die Meester van die hooggeregshof ingedien, waarna die proses van likwidasie begin het.

Gumede blameer verkeerde regsadvies hiervoor. Hy sê die direksie was onder enorme druk weens die “sensasionele publisiteit” in die media oor die getuienis van ’n “ontevrede voormalige werknemer” voor die Zondo-kommissie van ondersoek na bewerings van staatskaping.

As die hof in AGB se guns beslis, sal likwidasie gestaak word en Murray en die twee ander voorlopige likwidateurs, Ralph Lutchman en Tania Oosthuizen, se mandaat beëindig word.

Murray is op 21 Februarie deur die Meester as likwidateur aangestel. Die aanstellings van Lutchman en Oosthuizen het daarna gevolg.

Murray sê in sy eedsverklaring die likwidateurs het ’n verantwoordelikheid om in die beste belang van die maatskappy, maar ook sy krediteure, op te tree.

“Ons het beheer geneem van die maatskappye en het al hul bates en belange beveilig. Daar is geen bedreiging nie . . . Die feit dat ons besluite nie die goedkeuring wegdra van die werklike protagoniste (aandeelhouers en direkteure soos die uitvoerende hoof, Gavin Watson) nie, is nie ’n bron van kommer nie. Dit weerspieël eerder ons onafhanklikheid,” lui sy eedsverklaring.

Luidens die aansoek is AGB ook bekommerd dat hy agter raak met onder meer belastingskuld van miljoene rande omdat die likwidateurs sy bankrekeninge gevries het.

Die maatskappy se vorige bedryfshoof, Angelo Agrizzi, het voor die Zondo-kommissie oor grootskaalse belastingbedrog by AGB getuig.

Nog ’n bron van kommer vir AGB is dat die likwidateurs al begin het om personeel af te dank. Lindsay Watson, Watson se dogter, het volgens die hofstukke ook die trekpas gekry.

Gumede voer aan die “media-onthullings” oor verskeie sake is “onakkuraat, selektief en gegrond op hoorsê”.

“Die getuienis voor die (Zondo-)kommissie is nie deur kruisondervraging getoets nie en baie daarvan sal in die regsprosesse weerlê kan word,” aldus Gumede.

  • Die entiteite onder die AGB-sambreel wat gelikwideer word, is African Global Operations, Global Technology Systems (voorheen Sondolo IT), Bosasa Properties, Rodcor, Watson Corporate Academy, On-IT-One, Bosasa IT, Bosasa Supply Chain Management, Leading Prospect Trading, Bosasa se jeugontwikkelingsentrum en Black Rox Security Intelligence Services.
  • Netwerk24 het vroeër onthul dat ’n dringende brief aan die Meester gestuur is waarin bekend gemaak word hoe Bosasa-direkteure glo miljoene rande na persoonlike bankrekeninge oorgeplaas het voordat die likwidasieproses sou begin het.

Murray is binne 48 uur ná die stuur van dié brief as likwidateur aangestel.

Meer oor:  Bosasa  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.